Aan die begin het dit hom nie gepla nie; om die waarheid te sê, hy het dit geniet. Hy vind fisieke aanraking altyd aangenaam. En as sy oor sy skouer kom loer het na sy werk en haar hand terloops op sy nek laat rus het, het hy hom dit laat welgeval. Sy ma maak ook altyd so. En Jenny is amper soos sy ma. Hy wou haar nie op die naam noem nie, maar sy het daarop aangedring. “Titels skep net afstand, Joe,” het sy gekoer. “My naam is Jenny, asseblief.”
Sy is sy baas, sy stel net belang, sy móét toesien dat al die personeel onder haar gelukkig is en presies weet wat hulle moet doen. Partykeer bly haar hand langer in sy nek huiwer, strengel haar vingers in sy hare sodat daar onwillekeurig ’n rilling teen sy rug afkielie, en dan wonder hy daaroor. Maar nie te veel nie, want hy konsentreer op sy werk.
Dis nou een ding wat hy geleer het in die lewe: om te fokus op sy werk. Daarom is dit nie snaaks dat hy kort ná sy aanstelling al Jenny se oog gevang het nie. Sy het hom al drie keer bevorder, en dit binne die eerste jaar. Astronomiese opgang. Dis wat hulle dit noem.
Haar aandag het hom wel aanvanklik nie gepla nie, maar toe sy weer ’n keer agter hom kom staan en oor sy skouer leun om na iets op sy rekenaar te beduie, het hy effens ongemaklik gevoel. Hy kon die sagte drukking van haar borste teen sy skouers voel, en toe het sy boonop haar kop laat sak sodat haar wang teen syne gedruk het. Nie vir lank nie, maar tog. Lank nadat sy uit sy kantoor weg is, het haar parfuum nog subtiel in die lug gehang.
Sy is mooi en goed versorg. Die hemel weet, sy het genoeg geld om dit te kan bekostig. Sy lyk baie jonger as die veertig plus wat sy seker is. Hy sou haar nie as ’n beeldskone vrou beskryf nie; haar gesig is nie reëlmatig genoeg daarvoor nie. Maar sy is begeerlik en baie, baie sexy, met ’n lyf waarop enige vrou trots sal wees. Dit sal hy toegee.
Hy skud sy kop, vies vir homself. Waaraan dink hy dan nou? Sy is getroud en maklik vyftien, twintig jaar ouer as hy!
Die tjirp van sy foon onderbreek sy gedagtes. Dis Jenny. “Joe, kan jy my gou kom help met ’n probleem?”
Dis een of ander simpel probleem. Hy kan nie glo sy kan dit nie self uitpluis nie, maar hy sit gedienstig langs haar en kyk na die syfers voor hulle. Hy konsentreer hard om na die syfers te kyk en nie na haar nie. Haar bloese is laag oopgeknoop.
“Maak ek jou ongemaklik?” vra sy hees. “Moenie wegskuif nie, ek wil nog iets vir jou wys.”
Sy sit haar hand op sy been om te keer dat hy verder wegbeweeg. Haar hand is hopeloos te hoog op teen sy been om betaamlik te wees.
“Iets verkeerd, Joe?”
“Nee, nee,” keer hy vinnig, bang om haar aanstoot te gee. Sy is immers sy baas.
“Ek is bly,” koer sy en skuif nader, haar hand weer op sy been, maar hierdie keer nog hoër.
Hy probeer op die syfers voor hom op die sigblad konsentreer, en gee dan op. Haar hand op sy been, haar oopgeknoopte bloese, die warmte van haar bobeen teen syne, haar parfuum …
Sy draai na hom toe en fluister, haar asem warm in sy oor: “Ek kan sien jy vind my onweerstaanbaar.” Dan staan sy op en sluit die kantoordeur. “So ja, nou sal niemand ons pla nie.”
“Ek dink nie jou afleiding is reg nie,” probeer hy keer, maar sy steur haar nie aan hom nie. Sy kom sit byna bo-op hom.
“Nee, Jenny!”
Hy spring op om die kontak te verbreek, maar sy laat haar nie so maklik van stryk bring nie. “Gril jy vir my?” pruil sy en gryp hom weer vas. “Ek kan voel jy gril nie vir my nie, Joe. Dink jy nie ek is mooi nie? Ek kan maar vir jou sê, ek dink al die hele dag oor jou.”
Hy beweeg terug en neem haar hand ferm weg. “Jy is ’n mooi vrou, Jenny, maar jy is getroud.”
Haar asem hyg. “As jy maar geweet het! My man is nooit by die huis nie, en as hy die dag daar is, is hy nie mans genoeg vir my nie. Hy is nie soos jy nie, Joe. Ek wil vir jóú hê. Sommer nou.”
“Nee, Jenny. Ek is nie beskikbaar nie. Buitendien, dit is sonde in die oë van die Here.” Voor sy kan reageer draai hy om en vlug by haar kantoor uit. Verduiwelse vroumens!
Tot sy groot verligting los sy hom die volgende paar dae uit en hy begin ontspan. Hy het werklik nie sulke komplikasies in sy lewe nodig nie.
’n Week later word hy na meneer Crous, die grootbaas van die firma, se kantoor ontbied. “Meneer Jacobs,” sê hy stram, “ek is jammer om jou mee te deel dat jou dienste by ons nie langer benodig word nie.”
“Maar …”
Meneer Crous hou ’n dokument op. “Ek het hier ’n beëdigde verklaring van jou kantoorhoof me. Jenny Potgieter, waarin sy sê dat jy haar in haar kantoor probeer verkrag het. Dis ’n ernstige aanklag, meneer Jacobs. Jy kan bly wees sy het eers na my gekom. Ek het haar oorreed om nie ’n klag by die polisie te lê nie. Jy moet jou kantoor voor middagete ontruim. Jy kan jou tjek by my sekretaresse kry as jy uitstap. Dit is al.”
Joe se verhaal staan in die Bybel in Gen 39. Josef het vir sy opregtheid in die tronk beland. As jy aan God getrou bly, is daar nie waarborge dat jy ’n skitterende loopbaan sal hê nie. Die waarborg is dat God jou in die versoekings sal help om staande te bly, en dat jy uiteindelik die oorwinnaarskroon van Hom sal ontvang (lees gerus 2 Tim 4:1-8).
Views: 25