Normaalweg in Bybelse tye, wanneer mense in ’n huis inkom om daar te kom eet, roep die eienaar ’n slaaf om die stof van die gaste se voete af te was, sodat hulle skoon en gemaklik aan die tafel kon aanlê.
Dié voorreg het Jesus en sy dissipels nie gehad nie; hulle het nie ’n slaaf gehad wat dit vir hulle kon doen nie, en hulle was ook nie by ’n gasheer aan huis nie. Dit was net hulle: Jesus en sy twaalf dissipels. Dit was ’n baie intieme, spesiale geleentheid, die afskeidsmaal voordat Jesus later die aand gevang sou word en die volgende dag sou sterf.
As die dissipels ’n beter aanvoeling gehad het, sou hulle seker die gewigtigheid van die oomblik besef het. Maar dit lyk nie so nie, wat hulle is besig om onder mekaar te stry oor wie die belangrikste onder hulle is. Nie een het kans gesien om te erken dat hy die minste van die twaalf was, en daarom die een wat die ander se voete moet was nie. Dus val hulle almal so stry-stry en met vuil voete in by die tafel.
Dis toe dat Jesus van die tafel af opstaan, sy bokleed uittrek en ’n handdoek om sy middel bind, water in ’n wasskottel gooi, en begin om hulle voete te was.
Ek dink nogal dat hierdie daad van Jesus sy offer aan die kruis in perspektief plaas. Net soos die voete-was was daar niks glorieryks aan sy dood nie. Niks heerliks nie. Hy sterf daar as ’n slaaf, as een wat gekom het om ons te dien, ons sondevrag te dra, ons boete te betaal; nie in hemelse heerlikheid nie, maar as veragte, gespotte, verwerpte misdadiger.
Dit het stil geword in die vertrek, soos elkeen skaam sy voete hou dat sy Here en Meester dit kan was. Die Seun van God – God Self! – is nie te belangrik om met ’n handdoek om die middel gebind, neer te buk en ’n mens se voete te was nie!
Tot Petrus die stilte verbreek: “Here, gaan U mý voete was?” Die blote gedagte daaraan was vir hom net te veel. Sy trots kon nie daarmee vrede maak nie.
Maar dis presies die punt. As jy ’n volgeling van Jesus wil wees, moet jy jou trots in jou sak steek, moet jy die Here Jesus toelaat om jou te was met sy bloed. Want sélf kan jy jou nie verlos nie. Sélf kan jy nie van jou sonde gereinig word nie. Jy het Jesus nodig. Daarom is ons vanoggend by die Nagmaal. As jy jou hand uitsteek en die brood en wyn ontvang, erken jy: “Ek het U nodig, Here. Was my met u bloed! Voed my met u liggaam!”
Broer en suster, aan Jesus se tafel is daar nie plek vir belangrike en uitgelese gaste nie. Net vir nederiges, soos Jesus. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie. En as ons aan sy tafel aansit, sê ons daarmee dat ons soos Hy wil word: nederig en diensbaar. Daarom sê Jesus in vers 15: Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.
Jesus was sy dissipels se voete om sy kruisdood in perspektief te stel. En om vir ons ’n voorbeeld te gee van hoe liefde lyk, ’n voorbeeld wat ons moet volg.
Maar daar is nog ’n rede hoekom Hy die dissipels se voete was: Jesus was sy dissipels se voete omdat Hy nie anders kan nie. Dis hoe Hy is. Dit vertel iets van Homself, en van sy Vader. God is so. Dis in sy wese om te dien, te versorg, Homself prys te gee vir ander. Daarom het Hy uit die hemel afgekom, mens geword, kom sterf. Want dis hoe Hy is. Hy kan nie anders nie. Hy gee Homself in diens vir ons. Hieraan herinner die Nagmaal ons ook vanoggend.
O, as ons maar soos Jesus kan lyk!
Views: 32