Wat dink jy verwag die Here van jou as gelowige? Watter implikasies het die feit dat die Here jou Koning is, op jou lewe?
Ek dink dis ’n verskriklik belangrike vraag, want dit bepaal uiteindelik hoe jy jou lewe inrig, aan wat prioriteit in jou lewe sal hê.
Petrus het geglo dat dit sy taak is om die Here te volg en dat hy bereid moet wees om selfs tot die dood toe vir Hom te veg. Daarom, toe die soldate Jesus gevange wou neem, pluk hy ’n swaard uit om sy Here te beskerm.
Maar – en ek dink dít is die belangrike boodskap wat die Here in hierdie gedeelte vir ons gee – Petrus se optrede, hoe goed hy dit ook al bedoel het, was nie wat die Here wou hê nie. Petrus was bereid om saam met die Here Jesus tronk toe te gaan en selfs saam met Hom te sterf (vs 33), maar dís nie wat die Here op daardie oomblik nodig gehad het nie. Hy het nie Petrus se swaard nodig gehad nie, Hy het Petrus se voorbidding vir Hom in sy nood, Petrus se ondersteuning vir Hom in sy verhoor nodig gehad! En juis hierin het Petrus so tragies misluk. Hoeveel sou dit nie vir Christus beteken het as Petrus in Getsemane saam met Hom in gebed volhard het nie! Maar in plaas daarvan lê hy en slaap terwyl Christus in doodsangs verkeer. Hoe sou dit nie die Here Jesus bemoedig het as Petrus onverskrokke by die verhoor vir Hom opgestaan het nie! Maar selfs voor die vraag van ’n diensmeisie val hy vas. Petrus was nie ’n lafaard nie – hy was bereid om vir Christus te sterf – maar Jesus het ’n ander soort moed van hom gevra, die moed om aan Hom getrou te bly en vir Hom te getuig in alle omstandighede. En juis daardie moed het Petrus hier ontbreek.
Jy sien, Petrus het ’n ander idee gehad van wat dit beteken om Jesus te volg, as wat Jesus gehad het. En ons kan ook in daardie slaggat trap: om aan óns idee van wat God van ons verwag, vas te klou in plaas daarvan om te bid en te vra wat Jesus wil hê. Daarom dink party van ons dat as jy werklik ’n goeie gelowige wil wees, moet jy iets groot vir die Here doen – na verre sendingvelde gaan, of predikant word, of een of ander iets groots. En dan wag ons op só ’n geleentheid, of ons omstandighede verhinder ons om iets groots vir God te doen – en dan dink ons ons kan niks vir Hom doen nie. Ek is te oud om nog vir die Here iets te beteken. Ek het nie die vermoë om predikant te word nie. Ek kan nie in die openbaar bid nie. Ek kan nie voor baie mense praat nie. Ek kan niks vir die Here doen nie.
Maar is dít werklik wat God van ons vra? Is dit nie maar wat óns ons verbeel Hy van ons verwag nie? Petrus het gedink, as hy iets vir die Here wil beteken, moet hy met sy swaard baklei, en intussen vra die Here iets heel anders van hom: net maar om vir Hom te bid, net maar om teenoor ’n diensmeisie te erken dat hy die Here liefhet!
Natuurlik vrá God vir party van ons spesiale dinge, soos om sendeling te word, om op die kerkraad te dien, of so, maar die meeste van die tyd is dít nie die dinge wat God van ons vra nie. Hy vra van ons dat ons aan Hom getrou moet wees in die alledaagse dinge, dat ons sal volhard in ons voorbidding vir sy koninkryk, vir sy gemeente, vir sy kinders. Hy vra dat ons ons nie sal skaam om sy kinders genoem te word nie, dat ons só sal lewe dat ander kan sien ons behoort aan Hom.
’n Vrou sê anderdag vir my sy weet die Here wil haar gebruik, maar sy voel so skuldig omdat sy nie juis iets vir Hom doen nie. Dalk het jy ook al so gevoel. Vir dié vrou het ek geantwoord dat haar heel belangrikste taak in die Here se koninkryk is om haar kinders vir Hom groot te maak.
Hein en Alishia, dit is julle grootste en eerste roeping as kinders van die Here: Om Milé met julle saam te vat agter Jesus aan. Dit is tog wat julle vanoggend ook belowe het.
So voor jy aan allerhande groot en spesiale dinge dink wat jy dalk vir die Here moet doen, kyk om jou rond. Jou gesin, jou eggenoot, jou kleinkinders, jou ouers, jou bure, jou kollegas, jou gemeente. Dít is waar die Here jou in die eerste plek wil gebruik.
Hy vra van jou, liewe jongmens, om tussen jou maats onweifelbaar as Christen te staan, om in jou verhouding met jou ou of meisie die reguit pad te loop, om in die skool en op die sportveld, teenoor jou maats en onderwysers en ouers en broers en susters, elke dag kind van God te wees.
Dis in die klein, alledaagse dingetjies wat ons aan God getrou moet wees. Dis in ons gewone lewe waar God ons nodig het, dis daar waar ons werk en waar ons woon waar ons so baie vir die koninkryk kan beteken – as ons maar net die kanse wat elke dag oor ons pad kom, sal kan raaksien en aangryp, en nie maar laat verbygaan tot dit te laat is, soos Petrus gemaak het nie.
En hiervoor moet ons bid: dat God ons oë sal oopmaak, sodat ons die geleenthede wat ons kry om Hom te verheerlik en te dien, sal raaksien en gebruik. Dít is tog waarom die Heilige Gees in ons woon: om ons hierin te help, om ons oë te open, om ons elke dag te lei. Want wanneer die Heilige Gees ons lewens beheer, wanneer Hý ons oë open, dan gebeur daar wonderlike dinge!
Dit sien ons ook in die lewe van Petrus. Die Here sê hier in vs 32: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.” En hierdie gebed van Christus is op ’n wonderlike manier beantwoord toe die Heilige Gees op Pinksterdag op Petrus se lewe beslag gelê het. Toe het dieselfde Petrus wat vir ’n diensmeisie bang was, onverskrokke voor ’n hele skare mense getuig, en selfs voor die Joodse Raad, die “parlement” van destyds, sonder huiwering gestaan en gesê: “Dis onmoontlike om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
Die Here het ook vir jou en my nodig, net soos Hy vir Petrus nodig gehad het. Hy het nie Petrus se swaard nodig gehad nie, maar sy gebede en sy getuienis. En so het die Here ook vir ons nodig – nie noodwendig om iets groots of buitengewoons te doen nie, maar om elke dag só tot sy beskikking te wees dat Hy in die klein dingetjies vir ons, jou en my, kan gebruik.
Is jy tot sy beskikking?
Amen.
Views: 164