Rut 4

“Dit is heeltemal te veel, en julle weet dit,” brom hy, diep ongelukkig. “Maar as julle dan ’n eerlike man wat hard werk vir wat hy het, wil inloop, moet dit maar so wees. Ek is bereid om as losser op te tree.” Hy knoop die geldsakkie wat aan sy gordel vasgemaak is, los. “Het jy ’n skaal hier, Boas,” vra hy met ’n gepynigde uitdrukking op sy gesig.
“Ja, ek het,” antwoord Boas, en voeg dan by: “Maar voordat jy die silwer afweeg, is daar nog ’n saak waaraan ek jou wil herinner. Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd ook vir Rut die Moabitiese weduwee van Maglon seun van Elimelek as vrou, sodat die grond in die oorledene se familie kan bly.”
Sy hand, wat al halfpad uit die sak is, steek vas, en hy kyk stadig op, reg in Boas se gesig vas. ’n Spiertjie spring in sy wang. “Maar dit verander mos die hele prentjie ingrypend,” sê hy beskuldigend.

Hy was nie wetlik verplig om as losser op te tree nie. Hy kón ten gunste van ’n ander losser terugstaan, soos hy inderdaad gedoen het. Maar as jy die verhaal in die Bybel lees, kan jy nie anders nie as om die indruk te kry dat die verteller baie teleurgesteld is in hom. Hy sê nie eens wat sy naam was nie. Die verteller verswyg doelbewus sy naam. Ons hoef nie te weet wie hy is nie, want hy het die toets gedop. Hy is nie, soos Boas, ’n man wat genoeg vir ander omgee om ’n verskil maak nie.
Dis oor só ’n gesindheid wat Jesus (Matt 5:20) gesê het: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.