Toe hulle ná die ete terugstap, keer Judas vir Simon die Seloot eenkant toe. “Onthou jy nog die drome van ons jong dae, Simon?” vra hy en hou sy stem lig. Hy sal eers die klimaat toets voordat hy met sy planne vorendag kom.

“Jy bedoel ons Seloot-dae en die stryd teen die Romeinse regering?”

“Einste.”

Simon lig sy kop na die sterre en glimlag. “Ons was nog so vol ideale en entoesiasme en drif vir die saak. ’n Vry land, onafhanklik!” Hy kyk na Judas. “Dit was goeie dae, ja. Maar dis nou verby.”

“Nie noodwendig nie.”

“Wat bedoel jy?”

“As ons ons dinge reg beplan, en ons kry die volk agter ons, het die Romeine nie ’n kans nie! Dink ’n bietjie hoeveel mense is nou in Jerusalem. Dit moet seker by ’n honderd en tagtig na twee honderd duisend wees. As ons hulle kan saamsnoer in een magtige leër, sal niemand ons kan keer nie! Hy slaan met sy vuis in sy linkerpalm. “Oor ’n week kan ons vry wees! Dink net, Simon: die koninkryk van Israel, met ’n Dawidseun op die troon, net soos die profete voorspel het.”

“En dié Dawidseun – is dit rabbi Jesus?”

Judas grinnik. “Hoe dan anders? Hy is mos die Messias, dan nie?”

Simon kyk Judas onseker aan. “Is jy érnstig?”

“Hoekom sal ek nie wees nie?”

“Omdat …” Simon gooi sy hande in die lug, en vra dan: “Het jy al met rabbi Jesus hieroor gepraat?”

“Nog nie,” erken Judas. “Die regte tyd het hom nog nie voorgedoen nie.”

“Ek weet nie of rabbi Jesus te vinde sal wees vir jou planne nie.”

Judas knik. “Ek ook nie. Daar was ’n tyd toe ek oortuig was dat dit presies is waarop Hy afstuur met al sy stories oor die

koninkryk van God. Wat anders kan Hy daarmee bedoel as die koninkryk van Israel? God se koninkryk hier in Palestina, met

die Messias op die troon.”

“Maar nou?”

“Rabbi Jesus het die laaste paar dae baie verander. Dis al vir my of Hy terugdeins, jy weet; of Hy onseker is of Hy moet deurdruk en die koninkryk nóú moet stig. Dis of Hy behep geraak het met die dood. Hy praat al meer van doodgaan, asof Hy nie glo dat ’n opstand kan slaag nie.” Judas gaan staan en gryp Simon se arm vas. “Maar ek sê jou, Simon, die tyd was nog nooit so ryp soos nou nie. Die mense is gereed vir ’n opstand. Hulle sóék ’n leier wat hulle tot vryheid kan lei. Hulle besef dat die Joodse Raad hulle nooit sal help nie; daarvoor is hulle te ingeklits by daardie Romeinse vark Pilatus. Maar ons weet mos wie die Messias is, en ons moet Hom vir die mense gee. Ons moet nóú die inisiatief neem.”

“Hoe wil jy dit doen?”

Judas glimlag geheimsinnig. “Daar is maniere.”

“As ek jy is, sal ek nie iets probeer sonder om dit eers met ons Rabbi uit te klaar nie.”

Judas trek sy skouers op. “As jy so sê …”

Maar dis net Judas se wóórde wat gelate is, om Simon gerus te stel. Sy hart brand warm in hom. Dis jammer dat Simon hom nie sal steun nie, maar dis nie die einde van die wêreld nie. Hy het hom nie nodig nie. Simon het dit buitendien nie in hom nie, al was hy vroeër ook een van die Selote. Hy is te bang om inisiatief te neem. Maar hy wat Judas is, weet wat reg is. Ter wille van volk en vaderland kan hy nie die situasie so los nie. Hy sal rabbi Jesus moet help om sy regmatige plek te gryp. Partykeer moet ’n mens dinge net so effens aanhelp, en dan, as die wiel eers begin draai, sal dit vanself momentum opbou, en dan … Ag, maar die vryheid sal soet wees!

 

Uit my boek “Die Bybelroman/God se storie”

image_pdfimage_print

Views: 23

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.