Nikodemus vertel:

Terwyl ek en Josef op ’n oudiënsie met Pilatus wag, kry ek uiteindelik die ingewing wat ek dadelik sou gehad het as ek nie so op myself ingestel was nie, en sê vir Josef: “Ek sal vir ons ’n bietjie speserye gaan kry vir die begrafnis. Ek dink nie Maria-hulle sal hê nie.”

Ons het Maria-hulle by Golgota gelaat, redelik verpletter en nie in staat om tot enige definitiewe besluit te kom nie. Die skok van die afgelope agtien uur se gebeure was vir hulle te veel. Al wat hulle wou doen, was om by Jesus se liggaam te bly en daaroor te waak.

“Goed. Ek kom sodra ek die toestemming van Pilatus gekry het.” En dan, as ’n nagedagte: “Ek dink jy moet sommer grafdoeke ook saambring, of hoe?”

“Ja, hulle sal nie hê nie.”

Ek het so lank uitgestel om ’n besluit oor Jesus te neem dat dit nou vir altyd te laat is om vir hom te sê dat ek in hom glo, dat ek glo dat hy die Messias van God is, die koning van die Jode, soos Pilatus bo-aan sy kruis geskryf het. Met dié verwyt sal ek moet saamleef. Maar ek kan darem effens vergoed vir die foute van die verlede. Ek sal sorg dat hy ’n begrafnis kry wat pas by die koninklike status wat hy verdien. Net die beste grafdoeke en genoeg geurolie – mirre en aalwyn – om sy liggaam mee te balsem. As hy dan nie in sy lewe die eer en erkenning gekry het wat hom toekom nie, kan hy dit minstens in sy dood kry.

Toe ek weer by Golgota kom, is dit net soos ek vermoed het. Maria het nog niks gedoen om Jesus se begrafnis te reël nie. Sy staan nog altyd soos ek haar agtergelaat het, oë vasgenael op haar kind se liggaam. Haar skouers hang en haar rug is krom, asof die las van die dood haar neerdruk.

“Het u roubeklaers gekry, Mevrou?” vra ek meer om ’n aanknopingspunt te kry as uit nuuskierigheid.

“Ag, ek het nie nou krag vir sulke dinge nie, Rabbi,” antwoord sy sag. Sy skud haar kop. “Ek het krag vir niks nie. Ek weet nie eers waarin ons sy liggaam gaan toedraai nie, met dié dat die soldate sy klere gevat het. Johannes het gesê ons kan sy bokleed gebruik, want om nou die strate in te vaar markplein toe … Teen die tyd dat ek gekry het wat nodig is, is die son al onder, en dan kan ons hom nie meer begrawe nie.”

“Toemaar, Tannie,” troos Johannes. “Rabbi Jesus het altyd gesê hy het op hierdie aarde niks nie. Hy sal nie omgee vir my bokleed nie.”

Ek beduie na die bondels wat ek eenkant by my slaaf gelos het. “As u nie omgee nie, Mevrou, kan ons die grafdoeke gebruik wat ek saamgebring het. Ek het ook ’n bietjie geurolie gebring dat ons die liggaam kan balsem.”

Dis of daar ’n swaar las van haar skouers val, want sy staan sommer meer regop. “Baie dankie, Rabbi. U is wonderlik.”

“Nee, Mevrou, dis u seun wat wonderlik was. Ek het dit net nooit verstaan nie. Nou wil ek maar op hierdie manier my beskeie deel doen om hom te eer.”

Kort daarna kom Josef brom-brom aangestap. “Die ou korrelkop van ’n goewerneur het my darem vreeslik laat wag,” kla hy. “Eers wou hy nie glo rabbi Jesus is al dood nie. Toe moes ons die hele tyd wag vir die offisier om dit te kom bevestig. Toe was hy weer beswaard omdat ek nie familie van die oorledene is nie. Hy sê enige een kan nie sommer ’n liggaam kom vra nie. Maar gelukkig weet hy wie ek is, en dit het darem gehelp. En net toe ek dink nóú gaan hy die brief skryf, steek hy ’n lang preek af oor prosedures by die dood van ’n tereggestelde, en dat die reëls nie daarvoor voorsiening maak dat die liggaam van ’n man wat aan hoogverraad skuldig bevind is, vir ’n begrafnis vrygestel word nie.”

“Maar Jesus het nie hoogverraad gepleeg nie!” roep Maria ontsteld.

“Ek weet, Mevrou, en Pilatus weet dit net so goed. Dis dié dat hy uiteindelik tog wel sy toestemming gegee het. Hy wou maar net vir my laat verstaan hoe gaaf hy is.”

“As hy gaaf wou wees, moes hy die Joodse Raad in hulle peetjie ingestuur het!” sê Johannes driftig.

“Wel, die hoofsaak is dat jy die toestemming gekry het,” tree ek tussenbeide. Die son begin al water trek, en ons het nog nie eers Jesus se liggaam van die kruis gehaal nie.

Dis nogal ’n gedoente om die lewelose liggaam van die kruis af te haal, maar gelukkig weet die soldate hoe. Ons teenwoordigheid maak seker dat hulle met groter respek werk as wat gewoonlik die geval is. Maria staan die hele tyd stil, haar oë stip op Jesus. Maar toe die gebroke liggaam van haar seun uiteindelik in haar skoot lê, stort sy heeltemal ineen.

Dis uiteindelik Johannes wat haar vingers een vir een loswoel uit hulle krampagtige greep op haar dooie kind. “Kom, Tante, dit word laat. Ons sal hom voor donker in die graf móét kry.”

Ons het nie ’n baar by nie, maar gelukkig is Josef se graf net ’n klein entjie weg. Dis ’n droewige lykstoet. Josef loop voor om die pad te wys, en dan kom Johannes. Hy dra Jesus in sy arms, met Maria en haar suster en die ander twee Marias kort op sy hakke. Van Jesus se ander volgelinge is daar nie ’n teken nie. Ek en my slaaf volg die agterhoede.

Dis of die werklikheid dat sy na haar kind se begrafnis op pad is, nou eers werklik tot Maria deurdring, want sy skeur haar klere en gooi stof op haar kop, en toe begin sy ’n roubeklaers-weeklag: “Ag my kind, ag my seun, ag, ag,” kerm-klae sy die hele tyd, met haar suster en die ander Marias saam. Dis hartverskeurend.

Ek sien hoe Jesus se arms en bene leweloos rondswaai soos Johannes voor my aanstrompel onder die dooie gewig, en ek kan my dit moeilik versoen met die vriendelike man met die vonkelende oë wat ek leer ken het. Vir die soveelste keer flits dit deur my gedagtes dat dinge darem ongelooflik skeef geloop het. Ons moes nie nou hier in ’n stoet na ’n graf gestap het nie. Ons moes nou agter ons Messias aangestap het, met hoop en verwagting in ons hart oor die nuwe tyd wat aangebreek het. Hoe het Jesus dit self aangekondig? Hy het daarvan gepraat as die koninkryk van die hemel, ’n nuwe bestel waar God werklik weer die Koning van die land en sy mense is.

Maar ons Messias wat dit moes laat gebeur, is dood. In plaas van hoop lê daar ’n leegheid in my hart. Nooit weer sal Jesus mense boei met sy gelykenisse nie. Nooit weer sal hy mense verras met sy onortodokse en gesagvolle vertolking van die wet nie. Nooit weer sal ’n gebroke mens na hom toe kan gaan en ’n heel mens van hom af wegstap nie. Hy het gesê hy is die lig vir die wêreld, maar die Joodse Raad het sy lig uitgedoof. Hy het gesê hy is die brood wat lewe gee, maar nou sal niemand ooit weer van dié brood smaak nie. Hy het gesê hy is die goeie herder, maar nou sal sy skape uitmekaarspat en die prooi van wolwe word.

O God, waarom moes dit só gebeur? Waarom?

Naby die graf is daar ’n klipplaat, en Johannes lê sy rabbi versigtig daarop neer sodat hy uitgelê kan word. Die heel eerste ding wat Maria doen, is om die doringkroon van sy kop af te haal. Dis nogal ’n gesukkel, want party van die dorings het diep in sy kop ingedring. My hele kopvel kriewel by die gedagte hoeveel pyn dit moes veroorsaak.

Ná die doringkroon af is, begin die vroue die liggaam was. Eers is dit die bloed wat afgewas moet word, en toe dit klaar is, was hulle die wonde. Dit sukkel maar, want die vel op sy bolyf is erg geskeur deur die gesel, en met die dat hy ’n hele paar keer op pad na Golgota geval het, het daar klippies en stokkies en goed in sy vleis ingesteek.

Uiteindelik is hulle klaar. My slaaf moes ’n hele paar keer na die spruit loop om nog water te bring voordat Maria tevrede is. Toe kom ek nader met die geurolie, sodat ons die liggaam daarmee kan invryf. Dis ’n mengsel van mirre en aalwyn wat keer dat die liggaam so gou sleg word. Ons begin by die vingers en vryf elkeen goed met die geurolie in, en so vat ons stukkie vir stukkie, totdat die hele liggaam later goed met die olie ingevryf is. Heel laaste deurweek ons die grafdoeke waarmee ons sy hele liggaam toedraai, ook met die geurolie.

Dis Josef wat opmerk dat ek nie suinig was met die olie nie. “Goeiste, Nikodemus, maar jy het baie geurolie gebring!”

“Ja, dis genoeg vir ’n koning,” voeg Salome by.

“Maar hy is mos ’n koning,” antwoord ek eenvoudig en gaan aan met die grafdoeke. “Hy verdien niks minder as ’n koninklike begrafnis nie, en dis wat ek vir hom wou gee.”

Toe ons die liggaam klaar gebalsem het, is ons skielik stil. Die liggaam moet nou in die grafkamer gebêre word, maar dis of ons almal dié oomblik so lank moontlik wil uitstel, want as die liggaam eers in die graf is en die klip toegerol, is dit finaal verby.

Josef gee ’n treetjie nader en sug diep. Toe sing hy ’n klaagsang wat hy iewers in die loop van die middag moes gemaak het, en sy stem breek plek-plek van die hartseer:

Ag tog, rabbi Jesus, ag tog!
Met u dood het die duiwe se koer dof geword,
blêr die lammers verskrik
en maal die bokke verward rond.
Ag tog, rabbi Jesus, ag tog!
Vandag skyn die son bleek in die lug
en waai die wind dor en koud,
want die warmte wat u in ons harte gebring het, is weg.
Ag tog, rabbi Jesus, ag tog!
Wie gaan ons nou leer van die wet?
Wie gaan die hongeriges voed
en die dwalendes bymekaarmaak?
Ag tog, my Messias, ag tog!
Ons volk word verdruk
en ons mense sug
want u is nie daar om ons te verlos nie.
Ag tog, my koning, ag tog!
My oë raak dof van my trane,
my hart breek in duisend stukkies.
Ek huil onbedaarlik oor u!

Ek en Johannes tel die liggaam versigtig op en sit dit saggies op die uitgekapte rusplek in die grafkamer neer.

Maria kom agterna om te kyk dat hy gemaklik lê. Sy streel vir oulaas met haar hand oor sy kop. “Tatta, my kind. Rus sag,” prewel sy voordat sy haar van hom losskeur en uitgaan.

Johannes en my slaaf rol die groot plat klip voor die grafopening in, en ons staan almal daar met die wete dat ’n wonderlike era verby is. Dis finaal: Jesus is dood en begrawe.

 

Uit my boek “Jesus/Yesua”

image_pdfimage_print

Views: 64

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.