Maria vertel:

Dit word ’n lang dag met al die gepraat, en ek is dankbaar toe die son uiteindelik sak. Die sabbat is verby. Ek wou eers dadelik regmaak om na Jakobus-hulle toe te gaan, maar Maria Magdalena praat my om om te wag tot die volgende dag. Sy sal nie gerus wees oor my alleen op pad in die donker nie. Johannes het aangebied om saam met my te gaan, maar dan sit ek met hom opgeskeep by Jakobus-hulle, en hulle is juis nie op die beste voet nie. Netnou sê Jakobus iets wat kon gebly het, of Johannes. Jesus het hom en Groot-Jakobus nie verniet “Seuns van die Donder” genoem nie.

Ons is nog aan die redeneer oor die saak, toe my seuns by die huis opdaag. Die skoondogters het nie saamgekom nie omdat hulle by die kinders moes bly, en, soos Jakobus verduidelik het, dit te beknop sal wees as hulle almal in die vreemde huis moet inbondel.

Ek is teleurgesteld dat hulle nie by is nie. Hulle, en veral Dina, het ’n kalmerende uitwerking op ons saamwees. Maar ek moenie altyd op die negatiewe fokus nie. Hulle is hier, en daaroor is ek verskriklik dankbaar. Ek het na hulle verlang.

Toe ons almal sit, glip dit uit. Ek weet ek moes dit nie gesê het nie, maar dis die eerste ding wat by my opkom: “Hoekom was julle nie Vrydag by Golgota nie? Dit kon vir Jesus baie beteken het. En vir my.”

As ’n mens ’n gesprek met ’n verwyt begin, is daar min kans dat dit goed gaan eindig. Ek moes nie. Ek kom agter daar is ’n groot klomp woede in my. Pa was ook so, en Jakobus is ook net so. Ek het gehoop ek is anders, maar dit lyk my ek is nie. Ek wil so graag anders wees. Ek wil so graag soos Maria Magdalena wees. Sy sê nooit ’n skewe woord vir niemand nie. Die liefde straal sommer uit haar hele wese. Maar ek is nie so nie. Ek baklei die hele dag met almal. Ek het met Jesus ook baklei, maar gelukkig darem nie die laaste dag nie, al moes ek my vreeslik inhou. Maar ek baklei met God, en hier baklei ek met my seuns, en dit op ’n tyd wat hulle gekom het om saam met my te treur oor hulle broer.

“Ons was daar, Ma,” antwoord Jakobus, maar sonder woede. Daar is ’n soort gelatenheid in sy stem wat ek nie ken nie.

“Ek het julle nie daar gesien nie.” Ek sê dit nie kwaai nie, maar dit kan verwytend klink. Ai.

“Ons het nie nader gekom nie, want Johannes was daar om Ma te ondersteun.” Weer die gelatenheid in Jakobus se stem.

“Julle ondersteuning sou vir my meer werd gewees het.”

“Hoe moes ons dit kon dink, Ma?”

Ek is so uit die veld geslaan dat ek nie woorde het nie. “Jakobus! Hoe kan jy so vra? Julle is dan my kinders. Julle is al wat ek oor het.”

“Ma baklei die hele tyd met ons en sê ons is nie die soort kinders wat ons behoort te wees nie, of die soort broer wat Jesus nodig gehad het nie. Ons het gedink …”

Ek laat hom nie toe om sy sin klaar te maak nie. Wat te erg is, is darem te erg. “Wel, julle was verkeerd. Ek kan nie glo dat …”

“Wag nou, wag nou, julle,” sny Joses my en Jakobus se argument kort. “Kan ons nie asseblief dié gesprek oor begin nie? Sonder verwyte en beskuldigings en wat moes en wat moes nie? Want as julle só aangaan, loop ek.”

Dis toe dat ek begin huil. “Ek is jammer, julle,” snik ek. “Dis so seer hier binne, en ek is kwaad omdat Jesus dood is, en nou haal ek dit sommer op julle uit. Vergewe my asseblief. Ek … Dankie dat julle vanaand gekom het. Dit beteken regtig baie vir my. Ek wou julle só graag sien, ná Jesus se dood.”

Toe is almal in trane. Ons huil oor Jesus, oor sy dood, oor al die misverstande voor sy dood en by die kruis, oor verlore geleenthede.

Toe ons bietjie bedaar het, het elkeen iets oor Jesus te sê; iets wat hy onthou van Jesus, iets wat Jesus gesê of gedoen het wat hom geraak het.

Dit is Jakobus se woorde wat my die diepste raak. “Ek onthou die dag toe Abiël-hulle vir my wou boelie. Jesus het voor my ingestap en vir hulle gesê hulle moet my los, ek is kleiner as hulle. Toe pak hulle vir Jesus, en hy skree vir my: ‘Hardloop!’ Hy is taamlik geslaan daardie dag. Toe hy later by die huis kom, het hy ’n blou oog en ’n stukkende lip en ’n neus wat bloei gehad. Maar hy het geglimlag en gesê ons het hulle darem lekker geflous.” Hy begin weer huil. “Hy was die heel beste broer wat ek kon gehad het. Hy was iemand om na op te sien.”

Toe is dit Joses se beurt. “Ek onthou die tyd ná Pa se dood, toe Ma nie so lekker was nie. Toe het Jesus die huis oorgeneem en alles georganiseer en ons gehelp om aan te gaan met ons dinge. Hy het die werkswinkel bestuur en ons geleer waar Pa opgehou het, en hy het vir Anna en Elisabet gehelp om die huiswerkies te doen.”

“En partykeer het hy vir ou Henog in die skool ook gaan help,” voeg Judas by.

“Dit het ek nie geweet nie. Wanneer was dit?” Dit kom regtig as ’n verrassing.

“Dit was ook in daardie tyd,” antwoord Judas. “Ek en Simon was toe nog in die skool, en baiekeer het hy gekom om ons kleintjies te help om die letters reg te vorm, of om van die ingewikkelder dele vir die groter seuns te verduidelik. Die ouens het altyd gesê hy verduidelik baie beter as ou Henog.”

Simon knik. “Ek onthou een van die seuns het eenkeer vir ou Henog gesê hy wens Jesus was ons onderwyser.” Hy glimlag by die herinnering. “Ou Henog het dit nie goed gevat nie.”

Ons praat tot diep in die nag; roep al die mooi herinneringe op, insidente wat van ons al vergeet het maar wat met die vertel weer helder in ons geheue terugkom. Dis ’n wonderlike, nostalgiese, hartseer aand. Ons praat nie weer oor die misverstande nie. Niemand vra hoekom Jesus dan nie vir hulle gekies het om sy dissipels te wees nie, want dis nie ’n aand vir baklei nie. Dis ’n aand vir onthou, vir saamwees, vir treur en mekaar ondersteun, want ons het die beste persoon in die hele wêreld as deel van die gesin gehad, en ons het hom nie genoeg waardeer of genoeg liefde gegee nie.

“Ek wens ons kon alles weer oor hê, Ma weet,” sê Jakobus later. “Ek verwyt myself oor so baie goed; dinge wat ek anders sou wou doen, goed wat ek liewer nie moes gesê het nie, kanse wat ek gehad het om vir Jesus te wys dat ek bly is hy is my oudste broer, maar wat ek opgemors het.”

Dis met dié woorde in my ore wat ek die aand in die bed klim. Naas al die mooi en dankbaarheid en goeie herinneringe, die verwyt. Ons het almal ’n stuk verwyt oor ons. Ons was nie vir Jesus die ma en die broers wat hy moes gehad het nie. Ons het hom almal op een of ander manier in die steek gelaat; ek die meeste van almal.

Ag, Jesus, as jy net nog hier was! Daar is so baie wat ek nog vir jou wou sê. Jy moes nie so gou van ons weggeskeur gewees het nie. Ons was nog nie gereed om jou te verloor nie.

 

Uit my boek “Maria”

image_pdfimage_print

Views: 16

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.