Maria vertel:
Toe ons by die graf kom, begin die dag net breek. Dit lyk of dit ’n mooi dag gaan wees; een van daardie jubelende lente-dae. Hier en daar is daar ’n wolkie wat met hulle ligroos skakerings aankondig dat die son op pad is. Die voëls moes die aankondiging gehoor het, want hulle begin uit die bome gesels, en die hane probeer mekaar die loef afsteek met die hardste gekraai.
Op pad graf toe het ek en Maria bespiegel hoe ons twee alleen die grafsteen weggerol gaan kry, maar toe ons nader kom, los die probleem homself op. ’n Paar soldate sit by die graf. Dis vir my vreemd, maar ek is tog verlig. Hulle sal ons kan help.
Een van die soldate staan op toe ons nader kom. “Staan net daar. Hierdie graf is verbode terrein!”
“Dis my kind wat hier begrawe is, Meneer. Ons het net gekom om sy liggaam met reukolie te behandel.”
Die soldaat kyk onseker na sy makkers, en draai dan weer na my. “Ons het opdrag gekry om niemand by die graf toe te laat nie, Mevrou. Die Joodse Raad is bang dié … jou seun se dissipels kom die liggaam steel.”
“Hoekom sal ons dit wil doen?” vra Maria Magdalena verontwaardig.
Die soldaat trek sy skouers op. “Ek het gehoor hy het op ’n stadium gesê hy sal op die derde dag opstaan uit die dood, of so-iets. Ek is nie seker nie. Maar die Joodse Raad sê die dissipels sal sy liggaam kom steel en dan vir almal sê hy het opgestaan, net soos hulle met daardie Lasarus-kêrel gedoen het.”
“Maar Lasarus het regtig …” begin Maria, maar ek stamp haar in die ribbes om haar te keer. Dit help nie ons staan hier met die soldate en redeneer nie.
“Lyk dit vir jou of ons twee vroue die liggaam sal kan steel, Meneer? Julle is in elk geval mos hier om ons te keer as ons so iets sou wou probeer.”
“Laat hulle tog maar ingaan en klaarkry, man,” sug een van die ander soldate. “Dit kan nie kwaad doen nie.”
Ek glimlag verlig na die soldate se kant toe, en wil net vir hulle vra om ons met die grafsteen te help, toe die aarde begin skud en bewe; so erg dat ek my balans verloor en plat op die grond gaan sit. Maria sit ook en klou die kruik met reukolie verbete vas asof iemand dit by haar wil afvat. Selfs die wagte lê plat.
Ek weet nie hoe lank die aardbewing aangehou het nie, maar vir my voel dit na ’n ewigheid. Maar uiteindelik hou dit op. Om ons is dit net stofwolke.
Toe die stof gaan lê en ek opstaan, is die graf oop! Die steen moes met die aardbewing oopgerol het. Ek kyk weer na die soldate om seker te maak ek kan maar nader gaan, maar hulle lê soos dooies. Vreemd. Hulle is tog sekerlik geharde manne?
“Kom ons gaan in,” sê ek vir Maria en help haar op.
My hart klop in my keel toe ons by die grafkamer inbuk. Hier binne lê my kind. Verlede week was hy nog ’n liewe, laggende, lewende mens; nou is dit net ’n dooie liggaam wat hier lê.
’n Paar doeke lê op die plek waar ons hom Vrydag neergelê het, maar die liggaam is weg! Ek swaai verskrik om om by die soldate te hoor of hulle iets weet, reg in Maria Magdalena in wat reg agter my by die graf ingekom het.
“Wat nou?” wil sy weet.
“Die graf is leeg! Die liggaam is nie hier nie, Maria. Dis weg.”
Die kruik met die reukolie gly uit haar hande en val met ’n dowwe slag op die klipvloer van die graf, flenters, maar nie een van ons twee kom dit regtig agter nie. Die liggaam is weg. Jesus is weg. Dit kan nie wees nie.
Op daardie moment onthou ek dat Jesus gesê het ek gaan hom nie verloor nie, en dat hy op ’n ander keer, langer gelede, gesê het hy sal baie ly en doodgemaak word, maar weer opstaan. Die soldate het ook netnou iets daarvan gepraat. Kan dit wees dat hy …?
Vererg skud ek my kop. Ek raak oud en droom onmoontlike drome. Dis hoekom ek my nooit regtig aan dié uitsprake van Jesus gesteur het dat hy weer sal opstaan nie. Dood is dood. Geen mens kan lewendig word as hy só verniel is soos Jesus Vrydag verniel is nie, dan nie? Of kan dit? Nee, dit kan nie wees nie. Nee, hier is ’n groot fout iewers, en ek gaan dit uitvind, al is dit die laaste ding wat ek doen.
Maria staan asof versteen in die graf, en ek moet by haar verbyskuur om buite te kom. Net toe kom Salome en Maria vrou van Klopas ook by die graf aan, en Johanna vrou van Gusa.
“Sjalom,” groet hulle. “Jy het ons voorgespring.”
“Julle, Jesus se liggaam is nie hier nie,” antwoord ek ontsteld en draai in die rondte in ’n gek poging om te kyk of ek die liggaam iewers gewaar.
En daar, reg langs die grafklip, staan ’n man in blink klere. Dit kan nie wees nie. Ek weet wie hy is. Dit is die engel Gabriël!
Die ander volg my blik en deins verskrik terug toe hulle die hemelse wese sien.
Die engel hou sy hand op. “Moenie skrik nie, Dames!” glimlag hy. Hy kyk reguit na my as hy verder praat: “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.”
Ons is almal verbyster, om verskillende redes. Hulle oor die gesig van ’n engel, ek oor die weersiens van die boodskapper wat my hele lewe verander het.
“Ek het nie gedink ek sal u weer sien nie,” sê ek, meer vir myself as vir die engel.
“Het ek nie destyds al vir jou gesê dat niks by God onmoontlik is nie, Maria?”
Ek knik. “Maar Jesus … Waar is hy dan?”
“Hy gaan voor julle uit na Galilea. Onthou julle nie dat hy dit vir julle gesê het nie? Julle sal hom in Galilea sien. Toe, gaan vertel dit vir die dissipels. Ek dink hulle sal bly wees om dit te hoor, of hoe?”
“Maar …” My kop is so vol vrae, maar die engel is nie meer by ons nie. Hy het verdwyn, net soos destyds daar in Nasaret toe hy weg is lank voordat ek al my vrae kon vra.
Ek draai om en gaan weer in die graf in, net om seker te maak. En ja, sowaar, daar lê die grafdoeke, en eenkant, netjies opgerol, die doek wat ons om Jesus se kop gedraai het. Jesus is nie hier nie, en as iemand sy lyk kom steel het, hoekom sou hulle die doeke hier gelos het? Dit kan tog nie wees nie.
Ek wil nie myself toelaat om bly te word nie, al klop my hart soos ’n voorhamer in my bors. Maar Jesus hét gesê ek sal hom nie verloor nie. Hy hét, en gevra ek moet hom vertrou, want hy is … Ja, wie presies ís hy? Wat beteken dit om Seun van God te wees? God wat mens geword het? God self?! Want dán kan dit wees! Is dít die rede hoekom hy gesê het ek moet hom glo? Hoe het hy nou weer vir my gesê? “En as ek vir Ma belowe Ma sal my nie verloor nie?” Ek het toe nog gevra: “Hoe kan jy dit belowe as jy doodgaan?” En toe sê hy: “Omdat dit ek is wat dit belowe, en ek van Ma vra om my te vertrou. Dis hoe.”
Ek kyk weer na die grafdoeke, en die blydskap kom stadig in my hart lê soos ek begin verstaan. Jesus het uit die dood opgestaan. Jesus lewe!
Ek storm by die graf uit om dit vir die ander te vertel, maar hulle is nie meer daar nie. Hulle het seker vir die dissipels gaan vertel.
Goed, dan hoef ek nie nou Betanië toe te gaan nie. Ek kan dit vir my seuns gaan vertel.
Toe ek my weer kom kry, hardloop ek met die paadjie af, stad toe.
Uit my boek “Maria”
Views: 42