Dit het heel onskuldig begin: met ’n tikkie ekstra moeite wat Sanet vir hom gedoen het, en ’n doos sjokolade hier en ’n botteltjie parfuum daar om vir haar dankie te sê. Want hy weet maar te goed hoeveel sy vir hom en vir sy werk beteken. Hy kan hom amper nie ’n kantoor sonder haar voorstel nie. Hulle verstaan mekaar so goed. Sy weet presies waar alles is. Sy kan aanvoel wat hy nodig het, amper asof sy sy gedagtes kan lees. Sy reël sy afsprake en herinner hom betyds dat sy vrou se verjaardag op hande is. Sy help hom geskenke uitsoek vir sy kinders.
Dit het heel onskuldig begin
Hy het hom altyd daaraan getroos dat hulle verhouding ’n baie goeie, maar ook ’n streng professionele verhouding is. Hulle is immers albei getroud, en Sanet, so kry hy altyd die indruk, gelukkig getroud daarby. Haar man Jan is goed vir haar en aanbid die grond waarop sy loop. Ongelukkig kan hy nie dieselfde van sy vrou sê nie. Rina is die laaste tyd baie afsydig. Hulle praat nie juis veel met mekaar nie en sy verstaan hom en sy werksituasie gladnie. Hy het al lankal opgehou om met haar daaroor te praat, en vir haar klagtes oor die kinders en oor haar ma en die stories oor haar vriendinne sien hy darem regtig ook nie ná ’n dag se harde werk kans nie.
Die dag toe dinge tussen hom en Sanet verander het, was toe hy heel ingedagte aan haar boud gevat het. Hy het hom boeglam geskrik, want dit was nie iets wat hy bewustelik beplan het nie. Toe hy sy hand skuldig wegruk, het sy na hom omgekyk en gebloos, maar nie geskok of ontsteld nie. Daar was iets anders in haar oë; ’n warmte en ’n toegeneentheid.
Aanvanklik was hy verbaas oor haar reaksie. Hy het dit nie van haar verwag nie. Maar hoe meer hy daaroor dink – en hy betrap hom dat hy sedert daardie dag al meer oor haar dink – hoe meer besef hy dat dit maar net natuurlik is dat hulle tot mekaar aangetrokke voel. Hulle is feitlik die hele dag in mekaar se geselskap. Hy weet baie meer van haar en van die dinge wat vir haar belangrik is, as wat hy van Rina weet. En Sanet verstaan hom soos Rina nog nooit kon of probeer het nie. Sy is ’n gawe van die liewe Vader aan hom op ’n tydstip in sy lewe wat hy baie liefde en ondersteuning nodig het, en Rina gee dit nie vir hom nie.
Hoe meer hy daaroor dink, hoe meer besef hy dat hy homself gelukkig kan ag om Sanet in sy kantoor en lewe te hê. Op een of ander manier moet hy vir haar laat verstaan dat hy haar waardeer. ’n Dosie sjokolade is goed en gaaf, maar dit sê ook net sóveel. Sy moet verstaan dat sy vir hom baie spesiaal is. Dalk moet hy haar uitneem na ’n goeie restourant, en dan kan hulle dalk daarna ’n ballet gaan kyk. Hy verbeel hom hy het gesien Giselle speel nou. Sanet sal weet. Sy weet alles. Maar hy wil nie vir haar vra nie, want dit moet vir haar ’n verrassing wees. Hy sal net vir haar sê sy moet haar aand oophou, want hy ontmoet ’n belangrike kliënt vir ’n sake-ete en hy sal haar nodig hê, sy moet saamgaan.
Toe sy by die restaurant opdaag, ruk sy hart. Sy lyk hartverskeurend pragtig in haar aandrok. Hy het nie besef sy lyk so mooi in aanddrag nie.
Hy bestel vir hulle drankies terwyl hulle kamma op die kliënt wag. Later sê hy: “Iets het seker voorgeval. Ek dink ons moet maar solank bestel.”
Dit lyk of sy iets wil sê, maar dan bedink sy haar en knik net. “Ek is rasend van die honger.”
Dit word ’n heerlike aand, net soos hy dit beplan het. Die ete, die ballet, alles is wonderlik. Maar niks is so ongelooflik soos daardie eerste soen nie. Hy was huiwerig, maar dit was onnodig, want haar mond het sy soen gretig beantwoord toe sy haar liggaam teen syne aanvly. Toe hulle na sy gastehuis ry, vra sy nie vrae nie en lê die hele pad met haar kop op sy skouer.
Agterna voel hy effens skuldig, maar hy ban dit gou weer uit sy gedagtes.
Ja, dis ’n wonderlike aand; die begin van groot dinge vir hom en Sanet. By haar voel hy sommer weer jonk en viriel, asof hy die wêreld kan stormloop. Wanneer laas het Rina hom só laat voel? Het sy dit ooit vir hom gedoen? Hy dink nie so nie. Nie soos Sanet nie! Toe sy die aandrok van haar skouers laat gly en in al haar verruklike naaktheid voor hom staan, het hy amper gehuil oor hoe mooi sy is.
Agterna voel hy effens skuldig, maar hy ban dit gou weer uit sy gedagtes. Hy het iemand in sy lewe nodig, iemand wat hom verstaan. Dit wat tussen hom en Sanet gebeur het, is iets moois. Hoe kan dit dan verkeerd wees? Hy het nie daarvoor gesoek nie, dit het vanself gebeur. Voor hy kon keer, was hy lief vir haar en sy vir hom. As dit nie bedoel was om so te wees nie, sou hulle seker tog nie vir mekaar lief geword het nie?
Hy sal vir Rina om ’n egskeiding dagvaar. Hulle huwelik het eintlik al lank gelede verbrokkel. Wat Jan sal sê, weet hy nie. Hy sal seker verpletter wees, maar dit is maar hoe die lewe werk. Almal kan nie wen nie. Jan sal maar daaroor moet kom. Wat nou belangrik is, is sy en Sanet se geluk, nie Jan se kleinserigheid nie.
Hy draai na Sanet en trek met sy vinger oor die kontoere van haar heerlike lyf. Hy soen haar op haar fyn oorskulpie en fluister sag: “Jy is ’n wonderlike vrou, weet jy dit? Ek is lief vir jou, en nou is jy myne. Net myne.”
Hy is natuurlik nie reg as hy redeneer hy het nie daarvoor gesoek nie. Sonde kom bied hom ongevraag vir jou aan; dis waar. Maar as dit gebeur, moet jy die hasepad kies, en sommer dadelik ook, voordat jy twee keer kan dink. Dit was immers God se raad aan Kain in Genesis 4:7, en in Jakobus 4:7 staan: “Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” Want jou kop is ’n wonderlike ding wat enige verkeerde iets só kan draai dat dit vir jou reg lyk. Hoe anders kon koning Dawid dan ooit met sy sonde met Batseba en sy moord op Uria saamgeleef het? Maar lees gerus weer die verhaal in 2 Samuel 11.
Views: 29