Die vandag die tweede Sondag ná Paasfees. Goeie Vrydag is verby, Paasfees is verby, die vakansie is om en die lewe gaan aan.
Ek wil hê ons moet in ons gedagtes vanoggend ’n oomblik teruggaan na Jerusalem. Ons is op die tempelplein op Pinksterfees, die oesfees, 50 dae na die Paasfees. Eenkant, in die Pilaargang van Salomo, is ’n klompie van Jesus se dissipels. Hulle is maar so ’n honderd of so bymekaar, onbeduidend tussen die duisende ander feesgangers wat op die tempelplein bymekaargekom het vir die groot feesvierings.
Die geestelike leiers is vir die eerste keer in drie jaar relatief gerus oor die fees se verloop. Die groot moeilikheidmaker, daardie Galileër Jesus van Nasaret, is mos dood, gekruisig op Golgota tydens die vorige fees sewe weke gelede. Daar is wel nog ’n paar van sy dissipels oor, maar hulle is eenvoudige mense, Galileërs. Daar behoort nie moeilikheid uit hulle oord te kom nie. Kyk hoe het hulle uitmekaar gespat toe hulle Rabbi gevang is! Ja-nee, alles is nou weer onder beheer.
Vir die gewone feesgangers is die fees ook maar net soos talle ander wat hulle al bygewoon het. Hier en daar praat hulle nog oor die groot opwinding wat hulle by die vorige fees beleef het, toe Jesus van Nasaret op die donkie die stad ingekom het en hulle almal geglo het Hy is Seun van Dawid, die Messias wat hulle uit die greep van die Romeine gaan bevry. Hulle het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar wat, van dit alles het daar net mooi niks gekom nie. Hy was toe al die tyd net ’n opstoker, en die Romeine het met sy gal gewerk, dié is nou maar seker. En nou gaan die lewe maar soos altyd aan. Die Romeinse soldate is nog steeds oral sigbaar, en die korrupte staatsamptenare. Wys jou net: ’n Mens moet jou nie onnodig laat saamsleep deur mense nie, want op die ou end is jy net teleurgesteld.
Toe, skielik, hoor hulle ’n geloei, kompleet of daar ’n geweldige stormwind iewers waai, daar in die rigting van die Pilaargang van Salomo, en hulle staan nader om te gaan kyk wat daar aangaan. Maar dít is vir jou ’n gedoente! Al die Galileërs wat daar bymekaar is, praat gelyk, die een so opgewonde soos die ander, en hulle prys God oor die groot dinge wat Hy gedoen het. Wat sou dit wees?
Toe Petrus opstaan en sy hande in die lug hou om hulle stil te maak, is hulle nóg meer verbaas. ’n Eenvoudige visserman van Galilea wil ’n toespraak hou op die tempelplein, hier voor al die geleerdes en geestelikes! Kan dit wees?
Maar terwyl Petrus so gloeiend praat oor Jesus van Nasaret, die man wat hulle op die Paasfees gekruisig het, slaan hulle verbasing om na verwondering: daar het iets met hierdie mense gebeur! Hulle is nie meer die eenvoudige, agterlike Galileërs wat hulle onthou nie. Petrus is vol Geesdrif, vol hemelse vuur as hy praat van Jesus, as hy sê dat dié Jesus wat hulle verwerp het, die Messias is. Hy het opgestaan uit die dood. Hy lewe! God het Hom Here en Christus gemaak! Kan dit waar wees? Kan die gekruisigde dan werklik lewe? Dit kan tog nie!?
Maar hier staan een van sy dissipels tog onverskrokke voor hulle en praat van Hom as die Lewende! ’n Gewone, eenvoudige man. Iets móés met hom gebeur het wat hom verander het, en hy sê dis Jesus, Jesus van Nasaret wat Here en Christus gemaak is! God is hier aan die werk! Hy het Hom nie uit die wêreld laat uitskuif nie. Hy het nie opgegee met die wêreld en met die mense wat Hom verwerp het nie. Hy het Jesus uit die dood opgewek en Hom Here en Christus, Messias, gemaak. Hy het hierdie gewone manne en vroue nuutgemaak, begeester met hemelse ywer.
God is aan die werk! Ons wil deel daarvan wees, Petrus! Wat kan ons doen om deel van God se nuwe besigwees in die wêreld te word?
Laat julle red! Laat toe dat God julle ook verander, nuutmaak soos Hy met ons gedoen het, sê Petrus.
En toe gebeur daar nóg ’n verstommende ding. Drie duisend mense staan op en sê: Hier is ons, Here. Verander ons. Maak ons nuwe mense, mense wat deel is van u besigwees in die wêreld.
Ek wonder nogal waar pas óns vanoggend in hierdie verhaal in. Daar was ’n tyd, dink ek, toe party van ons goed ingepas het by die geestelike leiers van destyds se tevrede houding. Alles was onder beheer, alles verloop glad, en die moeilikheidmakers is uit die weg geruim.
Ek glo daardie tyd is vir altyd verby. Ek dink baie van ons pas nou eerder in by die gewone mense wie se entoesiasme geblus is. Ons het geleer om te aanvaar dat daar min opwinding in die geloofslewe is. Jy moenie te veel verwag nie, want jy kan dalk net teleurgestel word. Daarom, gaan maar aan met jou kerkbesoek en stiltetyd en so, maar weet dat godsdiens eintlik maar ’n saai affêre is.
Maar wat dan van God? Wat van Jesus wat uit die dood opgestaan het en lewe? Wat Here en Christus is? Wat besig is in die wêreld? Wat daarvan?
Daar is natuurlik nog ’n derde moontlikheid ook. Ons kan soos die Emmausgangers wees, mense wie se hart warm word omdat Jesus met ons gepraat het, en opspring om die boodskap vir ander te gaan vertel (Luk 24:13-25). Ons kan aansluit by die drie duisend wat gesê het: ons wil saam met Jesus opstaan uit die dood. Ons wil deel wees van God se werk in die wêreld. Ons wil nie dieselfde bly terwyl Hy besig is om die wêreld te verander nie. Ons wil nie net oor Hom praat nie. Ons wil vir Hom lééf.
God het ons nie vergeet nie. Hy is besig in die wêreld, en in die gemeente!
Amen.
Views: 32