I
Ons ken almal die verhale wat in die boek Rigters opgeteken is – verhale van politieke onrus en godsdienstige verval. Die boek begin by die dood van Josua, die man onder wie se leiding die Israeliete die beloofde land ingetrek en verower het. En dan merk die skrywer op: “Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.” (Rig 2:10)

Die res van die boek vertel die verhaal van mense wat God vergeet en afgode begin dien. Dan stuur die Here ’n rigter om hulle uit hulle penarie te red, soos Gideon en Simson en so, en vir ’n tyd gaan dit dan beter, maar dit hou nie. Kort voor lank is dit maar weer so. Die boek eindig met ’n burgeroorlog wat die ander stamme teen die stam Benjamin gevoer het; so erg dat die stam feitlik uitgewis is. En dan sluit die boek af met die woorde wat ons vanoggend ook gelees het: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” ’n Mens wil half moedeloos word as jy dit lees. Godsdienstige en sedelike verval, anargie – is dít hoe God se volk lyk?

Dis mos hoe die duiwel werk, nie waar nie? Hy laat jou glo niemand anders as jy is so simpel om nog te glo nie. Dis bv wat met Elia gebeur het daar waar hy onder die besembos sit, só depressief dat hy wil doodgaan. Want, sê hy vir die Here, hy is al een in Israel wat nog glo. Hy sien nie die ander 7000 wat nie die knie voor Baäl gebuig het raak nie (1 Kon 19).

Die verhaal van die boek Rut skets ’n heeltemal ander prentjie as Rigters. Dit speel in dieselfde onstuimige tyd af, op die platteland van Juda, en die mense wat ons hier ontmoet, het nie vir God vergeet nie. Hulle leef met die wete dat God oor hulle hele lewe beskik, en hulle leef in verantwoordelikheid teenoor Hom. Jy hoor dit in feitlik elke tweede sin wat die mense praat.

* In ons gelese gedeelte hoor ons dit uit Naomi se mond as sy bv vir haar skoondogters sê (1:8-9): “Mag die Here sy liefde aan julle bewys … Mag die Here vir hulle elkeen weer ’n goeie man en ’n heenkome gee.” Ek meen, wie van ons kan enige twyfel hê oor Naomi se geloof in die lewende God as jy dit hoor?
* En die ongelooflike woorde van Rut as sy vir Naomi motiveer hoekom sy nie ook soos Orpa gaan omdraai nie (1:16-17), vertel ook vir ons van ’n vrou wat haar heil volledig van God verwag: “… waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word …

Toe ek dit gelees het, het ek net weer besef: maak nie saak hoe deurmekaar die wêreld daarbuite is nie, maak nie saak wat in die politiek aangaan nie, maak nie saak hoe ander mense geestelik afvallig word en vervlak nie – en dit sien en hoor en lees ons mos maar elke dag – jou geloof word nie dáár beslis nie. Jou geloof word geleef waar jy elke dag woon en werk, teenoor jou gesin en jou bure en jou vriende en jou kollegas, daar waar jy elke dag teenoor ander mense ’n getuienis uitleef. En dís wat tel.

Miskien moet ons op dié punt maar vir onsself afvra: kan ander mense – my kinders, my familie, my vriende – in my lewe sien en hoor en ervaar dat die Here ’n lewende teenwoordigheid is? Ek praat nie van wat ons hier in die kerk doen nie. Ek praat van wat in my huis aangaan, in my motor, in my kantoor. In die heel eerste sin wat ons van Naomi en Rut lees, kom ons al ’n diepgeleefde geloof agter. Wat ervaar mense in jou lewe?

Of nee wag, laat ek nie so negatief wees nie. Liewe gemeente, as ’n mens soos ’n gelowige leef en praat, sien en hoor mense dit! Jou getuienis maak ’n verkil! Moenie dink jy kan nie vir die Here veel beteken want jy is nou nie so ’n hoogs geskoolde mens in die Bybel nie! Die Here wil jou, gewone mens, se getuienis en lewe gebruik om ander mense te raak. Dis mos wonderlik! Dis Evangelie!

II
Dit bring my by die vraag: hoe het dit gekom dat Rut ’n gelowige geword het? Sy moes dit mos by haar man Maglon gehoor het, of hoe? En dalk by Naomi. Wat het Maglon reg gedoen in sy huwelik met Rut?

Jy sien, bloot die feit dat jy ’n gelowige is, sal ander mense nog nie by die punt bring dat hulle ook wil glo nie. Julle ken mos die verhaal van Lot daar in Sodom. Volgens Petrus (2 Pet 2:7,8) was die gruweldade van Sodom dag na dag ’n foltering vir sy vroom gemoed. Maar uiteindelik, toe die stad verwoes is, was daar nie ’n enkele mens wat saam met hom in God geglo het nie. Nie sy vrou of sy dogters of aanstaande skoonseuns of enige werksmense van hom nie. Lot se geloof het niemand geraak nie. As hy anders geleef het, kon hy ’n hele stad gespaar het!

Liewe gemeente, die manier waarop jy jou geloof uitleef, ráák mense om jou. Maglon en Naomi was gewone mense soos ons, maar uiteindelik was hulle getuienis die begin van Rut se diep-gewortelde geloof.

III
Daar is nog ’n ding wat ons in dié verse moet raaksien, en daarmee sluit ek af: ’n Mens kan nie jou geloof uitleef sonder dat dit jou iets kos nie. Rut moes haar mense agterlaat, want haar geloof het nuwe lojaliteite beteken, en nuwe verantwoordelikhede. Sy het net geweet haar skoonma gaan nie sonder haar regkom nie, en daarom laat sy alles in Moab agter. Geloof maak jou oë oop vir die mense om jou. Geloof maak jou hart oop vir ander, en jou hande, al kos dit jou.

Ons paaie kruis met baie ander mense s’n. Wie weet, dalk is jóú geloofslewe die boodskap wat God wil gebruik om iemand anders by die Here uit te bring. Of dalk is jy die een wat in iemand anders se lewe ’n Rut moet wees.

Dit is wat die Heilige Gees in jou lewe wil regkry. Daarom het dit Pinkster geword. So leef biddend, dat die Gees jou kan lei. En hou jou oë oop!

image_pdfimage_print

Views: 65

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.