Ons dink in Pinkstertyd en verwonder ons daaroor dat God deur sy Gees in ons woon om ons daagliks nuut te maak en te lei. Pinkstertyd is ’n viering van God se goeie guns, sy genade en sy liefde, wat Hy elke dag vir ons het. Want ons het almal behoefte aan God se guns.

Ek stel my voor dat dít presies was wat in Rut se kop gedraai het terwyl sy na ’n geskikte land soek waar sy kan gaan are optel. Sy het God se guns nodig. Sy weet dat sy en haar verbitterde ou skoonma Naomi sonder God se genade dit nie gaan maak nie.

Ek wonder wie van julle al so gevoel het. Ek weet ék was al daar, by ’n punt waar ek geweet het dat net die guns, die genade van God, my nou kan help, want daar is géén ander uitkoms nie. Ek onthou hoe benoud ek was; hoe ek na God geroep het en my op sy beloftes verlaat het. Hy het tog vir ons geleer dat ons mag bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Dis presies wat Rut en Naomi nodig gehad het: daaglikse brood uit God se hand. En dit is ook presies wat Hy hulle gee.

Natuurlik, toe Rut die oggend by die voordeur van hulle huis uitstap, het daar nie ’n waentjie vol brood op haar gewag nie. God se guns werk meestal nié so opspraakwekkend nie. Meestal werk Hy agter die skerms waar ons Hom nie sien en dikwels ook nie verwag nie. Maar dit beteken nie dat Hy afwesig is nie. Om die waarheid te sê, elke toneel van hierdie verhaal jubel dit uit dat God in beheer is en vir sy kinders sorg en voorsien, maar nêrens tree Hy op die voorgrond nie. Nêrens lees ons van manna uit die hemel of kwartels, of water uit die rots of allerhande tekens en wonders soos ons in die Eksodus-verhaal gesien het nie. Dit kan Hy natuurlik óók doen. Maar meestal doen Hy dit nié.

Hy voorsien op ’n ander manier. Hy sorg dat Rut “toevallig” by Boas se land uitkom. Hy sorg dat Boas “toevallig” juis op daardie dag gaan kyk hoe dit met die oes vorder.

Sien jy dit? God se genade en sorg vir Rut en Naomi se naam is Boas. Boas is die een wat God se guns, die daaglikse brood waarom Rut en Naomi gebid het, voorsien.

Ek het op ’n keer die verhaal gehoor van die seuntjie wat bang en alleen was. Dit was donker in die kamer, en hy roep sy ma en sê hy is bang, sy moet asseblief by hom bly. Die ma het ’n rukkie op sy bed gesit en oor sy hare gestreel, maar toe sy wou gaan, het hy haar vasgegryp. Sy moes by hom bly. Toe sê die ma hy hoef nie bang te wees of alleen te voel nie, want God is by hom in die kamer. Toe sê hy ja hy weet, maar hy soek iemand met ’n vel om.

Boas was God met ’n vel om vir Rut en Naomi.

Kom ons kyk ’n bietjie hoe het hy dit gedoen. Ons lees hier dat hy na sy land gegaan het om te kyk hoe dit met die oes gaan. Hy groet sy werksmense, en in sy heel eerste woorde weet ons al dat ons hier met iemand te make het wat God se seën, God se guns, in mense se lewens inbring. “Mag die Here by julle wees,” groet hy sy mense. Ek veronderstel hy het vir die voorman gevra hoe dit met die oes gaan en so, en dan draai hy na Rut se kant toe waar sy eenkant onder ’n boom sit en rus.

Ek wonder wat ék sou gedoen het as ek ’n vreemde jong vrou op my land gewaar het. “Ai tog! Tog net nie nóg ’n bedelaar nie. Ek het tog nie krag vir haar nie.” En dan sou ek haar waarskynlik doelbewus misgekyk het en aangegaan het met my lewe.

“Wie is daardie meisie?” vra Boas. Hy sien haar raak, nie as ’n laspos nie, maar as ’n mens; iemand met ’n naam en ’n familie. En dan gaan hy na haar toe, hy gaan uit sy pad om haar te help. Hy sien toe dat sy kos en water het, dat sy veilig is, dat sy genoeg sal hê vir haar skoonma ook.

Dís wat Boas van die res onderskei. Hy het ’n verskil gemaak in die mense se lewens wat hy teëgekom het. Hy het God in hulle lewens verteenwoordig, God se hande en voete, God se genade vir ander geword.

Daar is baie mense om ons wat elke dag bid dat ons hemelse Vader vir hulle hulle daaglikse brood sal gee. Hoe verhoor God daardie gebede? Hy stuur sy kinders. Jy en ek moet God met ’n vel om wees vir die mense wat oor ons pad kom. Ons moet God se ontferming, God se guns en liefde, na mense bring.

Liewe gemeente, as ’n mens dít eers goed gehoor het en verstaan, kan jy nie dieselfde bly nie. Kan jy nie die mense om jou miskyk, bo-oor hulle kyk en loop asof hulle nie daar is nie. God se ontferming werk soos ’n aflosstokkie. Jy ontvang dit nie om dit in besit te neem nie; jy ontvang dit sodat jy dit weer kan aangee, kan uitdeel aan iemand anders wat dit ook nodig het.

Dít is wat Jesus bedoel het met die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Die Samaritaan was God met ’n vel om vir die slagoffer langs die pad.

Nou wonder ek. Ons dominees word daaroor verwyt dat ons nie die boodskap wat ons bring, end-uit vat nie. Mense sê ons klink nie die spykers om nie; ons los dinge dat dit in die lug hang. En ek wil nie dat hierdie belangrike saak in die lug hang nie. Daarom vra ek; nee, ek daag jou uit – as die Here vanoggend met jou gepraat het en jy die roeping aanvaar om in hierdie week só te gaan leef dat jy God se goedheid, sy guns by mense gaan uitbring; as jy soos Boas en die barmhartige Samaritaan God se liefde gaan lééf – dat jy dan nou opstaan om daarmee te sê: “Ja, Here, hier is ek. Gebruik my!”

GEBED
Here, hier staan ons voor U. Ons wil graag U by mense verteenwoordig. Ons wil kanale wees waardeur u genade, u guns, u voorsiening by mense kan uitkom. Ons wil só leef dat mense weer sal glo en weet en ervaar dat U teenwoordig is in hierdie wêreld.
Here, ons is gewillig, maar ons bely dat dit U is wat ons daartoe bekwaam maak. Doen dit deur u Gees, Here. Maak ons instrumente van u liefde vir dié mense wat U oor ons pad stuur!

image_pdfimage_print

Views: 60

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.