Toe ek vir Elmien vertel dat ek oor hierdie gedeelte gaan preek, maar dit is ook doop vandag, het sy gesê: “Oeps!”En toe voeg sy by: “Al wat jy vir die mense moet sê, is van drukkies en soentjies kom sokkies en skoentjies.”

Dis in elk geval wat Naomi gedink en gehoop het toe sy Rut daardie nag na Boas by die dorsvloer gestuur het. Hierdie gedeelte was ’n tyd gelede juis taamlik heftig bespreek in kerklike kringe, want daar is mense – ook predikante – wat onomwonde sê Rut het die nag daar op die dorsvloer by Boas geslaap, en tog is daar geen woord van veroordeling daaroor in die Bybel nie; dus, so lei hulle dan af, seks is nie net bedoel vir die huwelik nie, maar vir enige twee mense wat mekaar respekteer.

Nouja, ’n mens hoef nie ’n kenner van Hebreeus te wees nie om te sien dat die skrywer ’n toneel skets met baie duidelike seksuele ondertone. Dit hét soms nogal rof gegaan op die dorsvloere van Kanaän. En as jy nou nog boonop die teks in Hebreeus lees, is dit soveel duideliker. Naomi se plan is eenvoudig en nie vir misverstand vatbaar nie: Rut moes in die nag, wanneer Boas lekker vrolik feesgevier was, stilletjies in sy bed gaan klim en haarself vir hom aanbied.

Miskien moet ek net eers iets oor die lossersgebruik verduidelik. Daar is twee wette wat hier ter sprake is waar iemand as losser optree. Die een is die erfreg. Daarvolgens mag ’n familie se grond nie uit sy besit raak nie. As jy om watter rede ook al jou grond in die mark moes sit, kon jy dit nie verkoop aan wie jy wou nie; jy moes dit aan die naaste familie (= die losser) verkoop. Maar die losser koop nie eintlik die grond nie; hy koop net die gebruik van die grond, want elke 50 jaar, met die sg Jubeljaar, moes die grond aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word.
Die ander wet wat ter sprake is, kom uit die familiereg. Daarvolgens was die naaste familielid verplig om in te gryp as dit lyk of ’n familielyn gaan doodloop. Die losser moet dan met die kinderlose weduwee trou, sodat sy kinders kan hê wat haar eerste man se familienaam kan voortsit. Die kinders wat gebore word uit so ’n lossershuwelik is nie as die losser s’n beskou nie, maar as die oorlede man s’n.

Nou was Naomi se probleem dat sy nie van die man gehou het wat die eerste plig gehad het om as losser op te tree nie. Sy het net geweet Boas sal vir haar en Rut baie beter wees. Maar Boas het tweede in die ry gestaan, en dit was Naomi se probleem. Sy wou die man wat eerste plig as losser gehad het, uitskakel. Dis hoekom sy Rut stuur om by Boas in die bed te klim. Want as Boas by Rut geslaap het, sou Naomi volgens wet kon eis dat Boas met haar trou, en dít was Naomi se uiteindelike doel. Dan moes Boas hulle losser wees, al was daar ’n nader familielid as hy.

Maar om terug te kom by die debat oor wat presies dié nag op die dorsvloer gebeur het: Naomi het geweet dat die feestelike stemming by die oes-af fees haar in haar planne sal help. En daar ís Bybelkenners wat sê dis presies wat toe ook gebeur het. Maar ons het darem mos in die afgelope paar aande vir Boas en Rut leer ken, nie waar nie? Ons het hulle leer ken as diep gelowige mense; mense wat nie kortpaaie vat om hulleself ten koste van ander te bevoordeel nie; mense wat bereid is om selfs méér te doen as wat die wet vereis om hulle medemens tegemoet te kom. En daarom glo ek vir geen oomblik dat daar daardie nag meer tussen Rut en Boas gebeur het as waarvan die Bybel ons vertel nie. Ja, Rut wás op die dorsvloer, en ja, sy hét by Boas se voete ingekruip, maar dit is al, ten spyte van Naomi se sorgvuldig-uitgewerkte plan. Want hulle was albei mense wat opreg en met integriteit voor God en met mekaar geleef het.

Dit is die hele punt. Rut was in dieselfde bootjie as Naomi, en tog het sy ’n ander uitweg as Naomi gekies. Sy was net so desperaat dat Boas hulle moes help, maar sy was nie bereid om die reg in eie hande te neem om haar sin te kry nie. Sy het besluit om liewer haar vertroue op God se beskikking te stel.

Dit was natuurlik presies hier wat Naomi se probleem gelê het. Sy het iewers langs die pad haar vertroue dat God die beste weet en dat Hy sake reg sal reël, verloor. Vir haar was God nie ’n hulp nie, maar ’n vyand. Sy sê in soveel woorde dat die Here teen haar gedraai het (1:13 & 21). En daarom sien sy nie kans om haar lot in God se hande te los nie, want sy het gedink Hy sal niks doen om haar te help nie.

Dis natuurlik ons almal se dilemma, nie waar nie? Dat ons nie vooruit seker kan weet dat God sake sal reël soos óns dit wil hê nie. Dat ons bang is Hy sal iets laat gebeur waarvan ons nie gaan hou nie. En dan maak ons soos Naomi en vat kortpaaie om te verseker ons kry ons sin.

Boas het ook nie waarborge vir Rut kon gee oor wat die volgende dag in sy onderhandelinge met die eerste losser sou gebeur nie. Daarom sê hy (3:13): As hy dan moreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed …

Goed? wil ek skree, en jy dalk ook, en Naomi beslis ook. Goed, as die ding wat ek juis ten alle koste wil verhoed, gebeur? Wat is goed daarin? Wat goed is daarin, is dat dit Gód se besluit is, en nie joune nie. Dat Hý beskik, en jy nie konkel nie. Hoe skryf Paulus? Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom 8:28).

Jesus het dit verstaan. Daarom bid Hy daar in die Tuin van Getsemane, toe die manne al op pad is om Hom te kom vang: “Laat hierdie beker by My verbygaan, maar nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt 26:39). As Jesus sy eie wil daardie dag gevolg het, was nie een van ons vanaand hier nie.

Dís geloof: om jou te berus by God se wil en beplanning vir jou lewe, omdat jy weet dat Hy die beste weet, en dan – en hier kom die moeilike stukkie – God se pad gewillig, van harte en met vreugde te loop. Dit is wat die Heilige Gees in ons wil doen. Die Here het immers in Eseg 36:27 beloof: Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.