Hand 16:16-40
 
“My ouma het altyd psalms gesing as sy bedruk voel,” sê Paulus. Toe begin hy sing, en ná die eerste reël val Silas ook in.
 
“Hou julle bekke, ons wil slaap!” brul die gevangenes en swets.
 
Silas steur hom nie daaraan nie. “Jou ouma was reg, Paulus. Ek voel al klaar nie meer so bedruk nie.”
 
Hoe meer hulle sing, hoe meer is hulle bewus van God se teenwoordigheid en sorg oor hulle. Die ander gevangenes skel later nie meer nie, op ’n vreemde manier geraak deur die vreugde wat in hulle liedere opklink.
 
En toe gebeur dit! Die tronk skud en bewe en rammel. Die volgende oomblik swaai die seldeure krakend oop en die boeie gaan los. Hulle is vry!
 
Dis doodstil in die tronk. Die gevangenes is te oorbluf om te beweeg. In die stilte hoor hulle iemand naderstorm. Dan is dit plitseling stil. Iemand vloek baie hard en ontsteld buite die sel.
 
Paulus hoor ’n metaalgeluid en besef die bewaarder het sy swaard getrek. “Moenie!” skree hy hard. “Moenie jouself doodmaak nie. Ons is nog almal hier.”
 
Die bewaarder gryp ’n lamp by een van sy troepe wat intussen wakker geword het, en storm by die binneste sel in. Die twee manne sit nog soos hy hulle die middag opgesluit het, behalwe dat hulle voete nie meer in die blokke is nie. Bewend sak hy voor hulle op sy knieë neer. “H… Hoekom het julle nie gevlug nie? Hoekom het julle my gekeer?” stotter hy.
 
“Omdat God jou liefhet, ou broer,” glimlag Paulus.
 
Jy kan nie altyd die plek kies waar jy ambassadeur vir Christus wil wees nie. God kies die plek. Die vraag is: is jou oog en hart fyn genoeg op die Gees se leiding ingestel dat jy die geleentheid sal aangryp, soos Paulus en Silas in die tronk in Filippi?
image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.