Mark 10:17-27
Jesus trek die jongman wat voor Hom kniel, op uit die stof. Voor Hom staan ’n aantreklike, goed opgevoede en duidelik welgestelde man. Maar wat veral opval, is sy vriendelike oë en innemende glimlag. Hy hou sommer dadelik van hom.
“Goeie Leermeester, ek wil graag die ewige lewe hê. Wat moet ek doen?” vra die jongman, sy oë ernstig, soekend.
“Jy weet mos,” antwoord Jesus. “Dit staan alles in die Tien Gebooie.”
Die man glimlag al breër terwyl Jesus die gebooie een vir een opnoem. In sy gedagtes maak hy die een regmerkie na die ander by die gebooie, en dis nie al nie. Hy gee boonop sy tiendes. Net gister nog het hy ’n stewige bydrae vir die ou blinde bedelaar gegee. Gelukkig het hy genoeg om baie aalmoese uit te deel. Dit sal sekerlik in sy guns tel.. “Dit doen ek alles, Meneer, van kleins af al. Ek is so grootgemaak.”
Jesus knik. “Dan is daar nog een ding wat jy kan doen: verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Kom dan en volg My.”
Die jongman se glimlag verstar.
Nêrens in die Bybel staan dit dat ’n mens nie ryk mag wees nie. Talle baie besondere gelowiges was ook baie ryk, soos Abraham, of Job, of Salomo. Maar rykdom kan ook ’n struikelblok wees, soos vir hierdie jongman. Want rykdom het die manier om sy eie (valse) sekuriteit te bied. ’n Ryke kan in die versoeking val dat hy glo hy het nie ander (en uiteindelik ook nie vir God!) nodig nie.Ek ken ook ryk mense wat (soos ons jongman) groot dankoffers gee, en vir die sending, en vir Bybelverspreiding … Maar van ’n hart vol deernis vir dié wat langs hulle swaarkry, verstaan hulle min. En jy?
Views: 147