As jy nou moet sê wat vir jou die belangrikste dag op die kerklike kalender is, wat sal jy sê?Kersfees? Dis natuurlik waar alles begin het. En die Kindjie in die krip gryp almal se verbeelding aan.
Aswoensdag? Dis die begin van Lydenstyd, wat uitloop op Jesus se kruisdood.
Goeie Vrydag? Die dag toe ons Here gesterf het vir ons sondes.
Paasfees? Die dag toe Jesus uit die dood opgestaan het.
Hemelvaart? Toe Jesus hemel toe opgevaar het en sy troon bestyg het.
Pinkster? Toe die Heilige Gees uitgestort is en by die kerk kom woon het.
Ja, al hierdie dae is belangrike kerklike feesdae. As ek na die bywoning van die eredienste kyk, moet ek aflei dat Kersfees vir baie Christene dié belangrike feesdag is.
Martin Luther het ’n interessante ding gesê. Hy het gesê die dag waarop ons dit gedenk dat Jesus gedoop is, behoort eintlik net so belangrik soos Kersfees te wees. En ons het nie eers so ’n datum op ons kalender nie! Alhoewel, daar is al meer kerke wat Jesus se doop vier op die eerste Sondag na Epifanie. Maar vir die meeste van ons ís Epifanie nie juis van betekenis nie. Epifanie (6 Januarie) beteken “verskyning” en is die dag waarop Jesus se geboorte en die besoek van die sterrekykers in veral die Oosterse kerke gevier word. In Epifanie-tyd vier ons dit dat die Seun van God as mens onder ons verskyn het. Martin Luther wou gehad het dat die eerste Sondag na Epifanie elke jaar as Doopfees gevier word, om Jesus se doop te herdenk.
As ’n mens mooi daaroor dink, kan jy dit verstaan. Jesus se doop was die begin van sy openbare bediening op aarde, van sy werk as Leermeester, Geneser en uiteindelik Verlosser. Markus en Johannes begin daarom ook hulle Evangelies by Jesus se doop, nie by sy geboorte nie, want dít is waar sy eintlike werk begin het.
Maar wat het daardie dag gebeur wat dit so betekenisvol maak? Ek wil veral 3 dinge uitlig:
1. Jesus het Hom vereenselwig met ons. Daarom laat Hy Hom doop; nie omdat Hy nodig gehad het om sy sondes te bely en dit afgewas moes word nie (Hy was immers sonder sonde), maar omdat Hy een van ons is en dit só demonstreer. Hy het gekom om ons sondeskuld op Hom te neem, en namens ons daarvoor te sterf. Daarom, al huiwer Johannes, wel wetende dat Jesus nie die doop nodig het nie, dring Jesus daarop aan: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Ons kan dus sê die feit dat Jesus Hom laat doop het, was sy manier om te sê Hy is gewillig om ons lot op Hom te neem en vir ons te kom ly en sterwe. Hy is saam met ons, ten volle deel van ons wêreld. Hy is een van ons.
2. By sy doop word Jesus as ’t ware gelegitimeer. Dit is waar die Vader Hom amptelik aanstel en aanwys as die Seun. Daarom die woorde uit die hemel: “Dit is my geliefde seun. Oor Hom verheug Ek My.” Daarmee het die Vader twee Skrifgedeeltes uit die Ou Testament aangehaal: Psalm 2:7 (Jy is my Seun) en Jesaja 42:1 (oor Jou verheug Ek My). In Ps 2:7 gaan dit daaroor dat Jesus die Koning is wat in ’n besondere verhouding met God staan, en Jes 42 handel oor die lydende Kneg van die Here, wat sinspeel op Jesus se lyding en sy nederigheid. Ons kan dus sê dat die doop die begin is van Jesus se weg van lyding; die bevestiging uit die hemel dat dít God se pad vir Hom was. En as die Vader op daardie moment die hemel oopskeur en praat, sê Hy Hy is ten volle betrokke by Jesus se bediening. Hy sit nie in die hemel en wag tot Jesus opvaar nie. Hy is saam met Hom, ten volle.
3. Die derde saak wat ek wil uitlig, is dat die Gees soos ’n duif op Hom gekom het pas nadat Hy gedoop is. Daarmee het Jesus sy besondere toerusting vir sy roeping ontvang. Hierna sou die Gees Hom lei, en selfs drywe, om sy roeping te leef. Ons sien iets daarvan in die vers wat volg op die doop-verhaal (4:1): “Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.”
Jesus se werk op aarde was nie iets wat Hy alleen gedoen het nie. Die Vader en die Gees was by Hom. Want God drie-enig sit agter ons verlossing. Hy maak ons deel van God se omgee vir die wêreld.
Nou is die merkwaardige dat Jesus, toe Hy hemel toe opgevaar het, vir sy kerk beveel om die evangelie aan mense te verkondig en mense sy dissipels, sy navolgers, te maak, en hulle te doop in die Naam van die Vader, Seun en Gees (Matt 28:19). Só, op ’n manier wat ons nie goed verstaan nie, word dit wat by Jesus se doop gebeur het, in ons herhaal met ons eie doop: die drie-enige God kom lê beslag op jou lewe as gedoopte en skakel jou in by God se plan met die wêreld. Soos Jesus, toe Hy gedoop is, Homself aangemeld het om sy roeping as God se gestuurde in die wêreld te leef, soos die Vader sy seën op Jesus se bediening uitgespreek het, soos die Gees op Hom gekom het om Hom toe te rus vir sy taak, so is die drie-enige God met elkeen van ons ook besig. Dis hoekom ons gedoop is!
As ek en jy Jesus se navolgers is, kan ons weet dat ons dit nie alleen doen nie, of selfs (net) onder leiding van die Heilige Gees doen nie. Die drie-enige God is dan daar om ons te help, te lei, te beskerm, te ondersteun, te seën, te gebruik!
Ek weet nie van julle nie, maar dit maak my baie opgewonde!
Amen.