Elke jaar moes die Jode vir hulle feeste die lang pad aandurf na Jerusalem, meestal te voet. Daar was gevare langs die pad, verblyf in die stad was ’n kopseer, en die feesmaal is ten duurste by die skelm tempelhandelaars aangeskaf: ’n offerlam sonder gebrek. ’n Klompie jare gelede pak ek en my gesinnetjie óns feesreis na my ouers in Sedgefield aan, met ’n motorkar. Ons het nog nie ’n selfoon gehad nie, maar darem geloof. Blyplek is nie ’n kwessie nie, en ons feeskos het ook nie ’n fortuin gekos nie – die yslike bevrore kalkoen is veilig in die kattebak.
Ons padkos is ’n sakkie gekerfde biltong. Die kinders lê lustig weg. Te lustig, want kort anderkant Worcester kook my jongste oor. Vroulief is dadelik by met ’n handdoek wat juis vir sulke ongevalle byderhand is. Daar is nie skade aan die motor nie, maar my jongste se rok is afgeskryf. Al genade is ousus se T-hemp wat iewers maklik uit te grawe is. Ousus is nege jaar ouer, en nege jaar groter. Die T-hemp hang soos ’n rok om my jongste se dun ou lyfie. Maar sy is ten minste nou skoon, en ons kan verder ry. Oormôre is dit fees, en Pa-hulle wag.
Op Rheebok naby Mosselbaai gaan ons by my swaer aan. Die plan is dat ons sommer ’n stukkie daar sal eet. Maar skoonsus het net die vorige dag haar been gebreek, en hinkepink op die nuwe krukke rond. Sy kan ons onmoontlik ontvang. Dus drink ons net ietsie, kuier bietjie en ry verder. Nie veel verder nie, want net anderkant Groot Brak begin die rooi waterliggie vir ’n vale flits. Dis net stoom waar jy kyk. Ek weet maar min van dié soort ding, maar ek kyk hier en druk daar, en toe sien ek dit: ’n waterpyp het die gees gegee. En daar’s ’n kalkoen in die kis …
Daar staan ons, seker ’n goeie vyf kilometer van Groot Brak. My vrou herinner my dat ons laas toe ons by haar broer aangery het, óók langs die pad gaan staan het. Toevallig? Dalk moet ons liewer nie weer by haar broer-hulle aanry nie. Of dalk is dit ’n teken dat ons ’n nuwe motor nodig het. Ons oudste dogter dink beslis so, en sê dit ook. Trouens, sy sê dit al lankal, sedert die vórige keer toe ons by Riversdal gaan staan het, óók op pad na Sedgefield.
Ons besluit om al ons kosbare ou aardse besittinkies (en die hopelik-nog-bevrore kalkoen) in die flenterkar toe te sluit en met dapper en stapper die pad Groot Brak toe te vat. En daar val ons in die pad: ek en vroulief en ons drie meisiekinders, een met ’n T-hemp wat soos ’n tent om haar hang, ’n ander een in trane. Ons reis is in elk geval nou meer soos dié van die Jode wat ook te voet gereis het.
Ons was nie ver nie, toe stop daar ’n Samaritaan met ’n groot hart. Hy stel homself voor, en sê dadelik hy is ’n Christen. Loof die Here vir sy voorsiening. Ek bly by die motor, vroulief en die kroos ry met ons Samaritaan na George om hulp te kry. Hy vertel onderweg hoe hy gebid het vir ’n motor, nie ’n spoggerige een nie, net ’n “good, sturdy vehicle,” en hoe die liewe Vader voorsien het. Miskien ’n skimp dat ons ook vir só ’n soort motor moet bid?
Ons kom die aand moeg en heelwat later as beplan uiteindelik by Sedgefield aan. Twee dae later vier ons fees met gebraaide kalkoen en al. Dankbaarder vir ’n feesmaal was ek nog nooit.