Ons het nou gelees hoe die duiwel gekom het om Jesus te versoek, reg aan die begin van sy aardse bediening. Maar dis natuurlik nie die eerste keer wat ons van die duiwel in die Bybel lees nie. Die duiwel het al in die Tuin van Eden probeer om die wêreld as ’t ware van God te steel. En nou kom Jesus na die wêreld om die mense vir God terug te kom wen, en dis of die duiwel op sy agterpote kom en sê: Hokaai! Hierdie is my plek. Ek soek jou nie hier nie! Dis asof hy ’n streep in die sand trek en vir Jesus sê: Jy moet oppas, want jy loop nie nou in niemandsland in nie!
Nou kan julle dink, as die duiwel kans gesien het vir die Here Jesus, is hy nie iemand met wie ’n mens moet speel nie. Pasop vir hom! Hy is nie onskadelik nie. En hy probeer alles om God se werk te verongeluk.
Dis die eerste saak wat ek vanoggend wil onderstreep. Die duiwel het van die begin af probeer het om Jesus se bediening te verongeluk. Dis wat Matteus ons wil laat verstaan. Dis nogal opmerklik as ons Matteus se weergawe van die evangelie met Lukas s’n vergelyk. Lukas se verhaal begin so half idillies met mense wat telkens in lofsange uitbreek (bv die Lofsang van Maria en die Lofsang van Sagaria, en die engele wat sing). Maar Matteus vertel die verhaal anders, of liewer, hy sien ander goed raak. Hy vertel vir ons van Josef wat in die geheim van Maria wou skei toe hy uitvind sy is swanger, en van Herodes se moord-bendes, sodat hulle Egipte toe moes vlug. Daarmee onderstreep hy vir ons die feit dat Jesus se koms na die aarde toe heftige teenkanting ontlok het. Die duiwel blaas dreiging en moord. Want die wêreld waarheen Jesus gekom het, so dink Satan in elk geval, behoort nie aan God nie. Hy meen dis syne. Dit is ’n feit wat elke kind van God die een of ander tyd leer: wanneer jy kies om agter Jesus aan te loop, gaan die duiwel vir jou wag. Wees maar op jou hoede!
’n Tweede saak: Satan kies die tyd om toe te slaan, baie oordeelkundig. By sy doop was Jesus op ’n hoogtepunt in sy lewe. God die Vader het Hom openlik verklaar as sy geliefde Seun, en die Gees van God het op Hom gekom. Dit was met ’n veerkrag in sy treë dat Hy die woestyn ingestap het om alleen-tyd met sy Vader te hê en Hom vir sy aardse bediening voor te berei. Maar nou is dit veertig dae later, veertig dae in die woestyn. Jesus was teen dié tyd fisiek afgetakel en baie honger en daarom kwesbaar, en dis tóé dat die duiwel Hom takel.
Dit was nog altyd so, nie waar nie? Toe hy Eva wou verlei in die Tuin van Eden, wag hy tot sy alleen is, want alleen is jy minder weerbaar. Met ons werk hy nie anders nie. Hy wag sy kans af en kom juis op ’n tyd wanneer ons swak is: wanneer jy moeg is, of oorwerk, of gespanne, of terneergedruk, of alleen. Wanneer jy en jou eggenoot ’n uitval gehad het, of jy probleme by die skool het en dit voel vir jou niemand verstaan jou nie, of jou wêreld stort in duie. Dis dán dat hy jou bekruip; gedagtes in jou oor fluister, idees in jou kop plant, of verkeerde goed oor jou pad stuur.
’n Mens weet nie wanneer die duiwel gaan toeslaan nie. Waarop jy kan reken, is dat dit op ’n tyd gaan wees wat jy hom die minste kan weerstaan. Daarom moet jy elke dag gereed wees; moet jy elke dag by God aanmeld vir diens, sodat jy in sy teenwoordigheid die dag kan ingaan.
’n Derde opmerking: Waaroor gaan versoekings? Hoekom is dit so erg om aan ’n versoeking toe te gee? Ek bedoel, wat is nou so erg daaraan om brood uit klip te maak? Jesus het tog later op eie inisiatief brood en vis gemaak om ’n skare te voed. En dis tog nie verkeerd om God blindelings te vertrou nie, sodat jy die moed het om van ’n hoë gebou af te spring nie? Is dit dan nou so danig verkeerd? Is dit sonde?
Dalk moet ons eers weer mekaar herinner daaraan wat sonde is. Sonde is om jou doel te mis (dit is wat die Griekse woord ἁμαρτία letterlik beteken: om die teiken mis te skiet). En dis presies wat die duiwel met sy versoekings in die woestyn wou bereik: hy wou hê Jesus moet sy doel mis. Hy wou hê Jesus moet iemand anders wees as dit waarvoor God Hom na die wêreld gestuur het. Daarom fluister hy in Jesus se oor: Jy is mos jou eie mens! Doen wat jy wil. Jy hoef nie so te sukkel nie! Vir wat? Maak vir jou brood as jy dan honger is! Spring van die tempel se toring af en wys vir almal watter wonderlike superman is jy! Vat ’n kortpad na die troon van die wêreld!
Jy sien, Satan se fluisterstem praat van ’n ander pad as God s’n, en dit laat jou wegdraai van jou roeping, van God se plan vir jou. En hy is slim, hoor. Hy ken selfs die Bybel – ja, die duiwel ken ook die Bybel! – en haal daaruit aan om sy argumente gewig te gee. Maar kyk net wat doen hy: hy haal die Bybel só aan dat dit elke keer om jouself draai. Hy sê vir Jesus: sorg vir jouself, want jy is dit werd! God se beloftes is daar! Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou beskerm.
Dit het mos die slagspreuk van ons moderne tyd geword: because I’m worth it. Dit gaan oor my, my behoeftes, my regte, my verwesenliking. Ek gesels aan die begin van die jaar met my katkisante en vra hulle wat is hulle verwagting van die jaar. En hulle het baie verwagtinge genoem: dit moet lekker wees, en hulle wil mekaar beter leer ken, en dit moet net nie boring wees nie. Maar nêrens het ek ’n woord gehoor van die Bybel, of van Jesus, of van nader aan God groei nie.
Dís hoe ons al gekondisioneer is. Ons fokus só op onsself dat ons net aan onsself en ons eie behoeftes kan dink. Daarom lees ons die Bybel net met die vraag: Wat kan God vir my doen? Watter beloftes en troos gee die Bybel vir my? Nou, natuurlik is die Bybel vol beloftes en troos en sulke woorde. Maar dis nie al wat in die Bybel staan nie. Die Bybel is ook God se Woord wat ons wil stuur, wat ons navolgers van Jesus maak, wat ons op ander wil rig. Maar solank ons besig bly met die vraag: Wat is daarin vir mý? bly ons lewe onvrugbaar en beteken ons niks vir die Koninkryk nie. En dís wat die duiwel wil hê. Dis wat hy wou hê Jesus moes doen: God se sorg vir Homself eksklusief opeis.
En dan lieg hy ook so lekker. Hy gee voor dat hy die wêreld vir Jesus kan bied. Maar die wêreld is nie syne om uit te deel nie, dis God s’n! Hoe sê Ps 24? Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en dié wat daarin woon. Oppas vir Satan se gladde tong!
’n Laaste opmerking: Jesus wys vir ons hoe om die duiwel te hanteer; hoe ons óók staande kan bly in versoekings. Hy het dit gedoen, nie deur die duiwel te bestorm nie, maar deur God se Woord: “Daar staan óók geskrywe …” Later skryf Paulus in Efes 6 dat ons staande kan bly, ondanks die listige aanslae van die duiwel, as ons die wapenrusting van God aan het, en dan noem hy in vers 17 by name die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.
Ek en jy het nie die woorde of argumente om met die duiwel te stry nie. Maar ons hoef ook nie met hom te redeneer nie. Ons kan soos Jesus maak. Hou maar net by God se Woord. Koester die Woord in jou hart, want dít bewaar jou van versoeking, soos Psalm 119:11 ons herinner. En laat Jesus in jou leef en oor jou heers, sodat Hy vir jou die stryd kan stry. Hy belowe Hy sal.
Views: 52