’n Mens sou die vraag ook só kon vra: Watter gesag het die man in die huis en leer die Bybel ons dat die vrou gelyk is aan die man?

Dié vraag is so oud soos mensdom; of liewer, byna so oud. Dié vraag sou nooit in die Tuin van Eden ter sprake gekom het nie. Ons lees in die skeppingsverhale dat Adam en Eva as gelykes geskep is om mekaar te help en dat hulle in volkome harmonie geleef het (vgl Gen 2:18, NAV). Maar ná die sondeval verander alles, kom daar spanning in die verhouding en loop dit uiteindelik uit op ’n magstryd tussen man en vrou. God se woorde aan Eva ná die sondeval (Gen 3:16b) is verdoemend: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” ’n Mens sou dit ook só kon vertaal: “Jy sal probeer om oor jou man baas te speel, maar hy sal oor jou heers.” Daarmee is die tafel gedek vir ’n voortdurende stryd om die baasskap en oneindige hartseer in die huis.

Magstryd

Aanvanklik het die man dié stryd maklik gewen, want die man is fisies sterker as die vrou en kon haar dus op haar plek (soos die man gemeen het) hou. Van die begin af is die vrou as ondergeskikte behandel: sy het nie ’n regspersoon gehad nie; sy kon nie ’n selfstandige beroep volg nie; sy is nie geskik geag om skoolopleiding te kry nie.

Ook op godsdienstige terrein is sy minderwaardig behandel. Sy mag byvoorbeeld nie die voorhof van Israel (die ruimte naaste aan die offer-altaar by die tempel) betree het nie. Die Joodse man het gebid: “Dankie dat ek nie ’n heiden of ’n hond of ’n vrou is nie”! In die vroeë kerk is by dié Joodse opvatting aangesluit, sodat Paulus sonder om te blik of te bloos reël dat ’n vrou in die gemeente haar mond moet hou (1 Kor 14:34-35 en 1 Tim 2:12). Dié houding is boonop uit die Bybel verdedig. Die man is eerste gemaak, en dit was tog die vrou wat vir die sondeval verantwoordelik was, het hulle geredeneer (vgl. 1 Tim 2:13,14). Daarom was ’n vrou se plek die huis, waar sy haar vervulling in moederskap moes vind (1 Tim 2:15).

In die eerste eeue na Christus het dié toedrag van sake nie noemenswaardig verander nie. Die manlike dominering het maar eers die afgelope twee eeue gaandeweg uit die samelewing begin verdwyn, en dit ná aansienlike druk van vroueregte-bewegings. Vroue het stemreg gekry, is toegelaat om ’n eie loopbaan te hê, word as regspersoon en as belastingpligtige erken. Vroue word ook toenemend in kerke op gelyke voet met mans behandel. Talle kerke (maar nie almal nie) laat vroue vandag toe om leraars te wees – ’n gebruik wat vyftig jaar gelede haas ondenkbaar was.

Die vraag is nou: wat het dit alles vir ons te sê oor die man se gesag in die huis?

Vir baie mans is die opkoms van die vrou ’n groot probleem, omdat hulle, op die voetspoor van Paulus en die Joodse opvattings van sy tyd, glo dat die man die hoof van die huis is en moet wees. Paulus skryf dit tog in soveel woorde in 1 Kor 11:13 dat die man die hoof is van sy vrou, sal hulle gou vir jou sê. Daarom is dit die man se Godgegewe roeping om die gesagsdraer in die huis te wees, sê hulle. Dit is een van die temas van Angus Buchan se “Mighty Men”-veldtog: dat mans weer hulle Godgegewe roeping om hoof van die huis te wees, ernstig moet opneem. Dit is ook ’n uitgangspunt van die Promise Keepers-beweging wat in 1990 in die VSA ontstaan het.

Dit klink Bybels

Dit klink so Bybels, dié standpunt. Jy kan tekste links en regs uitpluk om jou standpunt te ondersteun. Jy kan op ’n eeue-oue kerklike tradisie terugval om te bewys dat dit nog altyd so was. Maar dieselfde is destyds van slawerny gesê. Nêrens in die Bybel word die praktyk van slawerny veroordeel nie, en tog glo ons vandag onomwonde dat slawerny teen God se wil is. Bloot die feit dat ’n bepaalde saak nie in Bybelse tye bevraagteken is nie, beteken nog nie dat dié saak in lyn is met God se bedoeling met die wêreld en sy mense nie. Dit neem ons soms net baie lank om die betekenis van Christus se verlossing goed te verstaan en tot in die praktyk van elke dag deur te trek. Dit het agtien eeue gevat voordat die kerk anders oor slawerny begin dink het, en twintig voordat die posisie van die vrou aan die beurt gekom het.

Jesus se verlossingswerk

Tog het ons in die Bybel self al voorbeelde van hoe daar anders gedink kan word oor man-vrou-verhoudings. Jesus het al dié saak aangeraak toe Hy oor die geldigheid van egskeiding genader is (Matt 19:3-9). Die Fariseërs wou egskeiding regverdig omdat die Bybel dit toelaat (vgl. Deut 24:1). Jesus se antwoord is dat dié reëling bloot ’n noodmaatreël van Moses se kant was, maar dat dit nie God se wil weerspieël nie. Hy sê ons sien God se wil vir die huwelik in hoe dit vóór die sondeval was. Dáár moet ons gaan soek as ons vra na die verhouding tussen man en vrou.

Toe Jesus vir ons sonde kom sterf het, het Hy vir ons die voor-sondeval-toestand teruggekoop. Ons hoef nie vanuit na-sondeval omstandighede en gebruike te redeneer as dit oor man-vrou-verhoudings in die huwelik gaan nie. Die vloek dat die man oor die vrou sal heers (Gen 3:16) is deur Christus se kruisdood uitgewis. Die vrou is verlos om nou weer in alle opsigte gelyk aan die man te wees, ook in die huwelik. Daarom is kategorieë soos dat die man die hoof van die vrou en die huis is en dat die vrou na hom moet opsien vir leiding, vir my ’n probleem. Ek glo Christus het ons kom verlos van dié verknegtende standpunt, en in elke huwelik moet man en vrou self hulle verhouding uitwerk soos dit pas by hulle unieke persoonlikhede. Die man se rol in die huis mag nooit ’n statutêre gesagsrol wees wat die man weer moet terugvat, soos talle mense vra nie. Die man se rol in die huis moet wees soos een wat dien. Dis tog die voorbeeld wat Christus in Joh 13 gestel het, dan nie?

image_pdfimage_print

Views: 41

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.