Ek wonder of julle al die storie van die seuntjie gehoor het wat ná die Sondagskoolklas die volgende vir sy ma te vertelle gehad het:

Moses het op ’n dag by die agterste linies van Israel gekom en toe gesien dat die Egiptenare besig is om hulle in te haal. Dadelik het hy die Hoofkwartier laat weet dat die geniekorps gou-gou ’n brug oor die Rietsee moet kom bou. So is toe gedoen. En toe die Israeliete anderkant aankom, sien Moses dat die Egiptenare al halfpad oor die brug is. Vinnig laat hy Hoofkwartier toe weer weet om bomwerpers te stuur om die brug op te blaas. Gelukkig het hulle net betyds opgedaag, en toe Farao se tenks in die middel van die brug kom, het hulle die brug flenters gebom en al die tenks van die farao het in die see geval. So het ook sy hele infanterie verdrink.
Sy ma was baie ontsteld oor hierdie vertelling, en wou toe weet of die juffrou regtig die verhaal só vertel het. Nee, sê die seuntjie, nou nie heeltemal só nie, maar as hy dit moes vertel soos sý dit vertel het, sou niemand hom tog geglo het nie!

En jy: Glo jý nog? Glo jy nog in die krag van God, in sy liefde en goedheid, en sy alvermoë? En as jy nog glo, verwag jy nog enig-iets van God? Bid jy nog om sy voorsiening en sy sorg as jy in die nood is? As jy siek is of gebrek ly? As jy eensaam is of bekommerd? Glo jy dat Hy dan uitkoms kan bring?

Ons lees in ons teksgedeelte van ’n vrou wat geglo het in die mag van God, wat alles van Jesus verwag het – en dit ook ontvang het! Wat haar naam was, word nie gesê nie. Maar hier staan dat sy 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Behalwe dat sy natuurlik ellendig gevoel het, het hierdie bepaalde siekte haar volgens die Joodse wet onrein gemaak, en almal wat aan haar sou raak, sou ook onrein wees, en daarom nie geskik om na die tempel te gaan om God te aanbid nie. Julle kan dink watter diepe ellende dit was.

Volgens die Lukas-Evangelie het sy alles wat sy het, aan dokters uitgegee. Keer op keer het sy ’n ander soort medisyne gebruik. Maar sonder sukses. Markus skryf dat sy eerder erger geword het.

En toe hoor sy van die Here Jesus. Sy het geglo dat Hý haar kan genees, en daarom wou sy tot elke prys by Hom uitkom. Markus vertel dat sy by haarself geredeneer het: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” En eindelik sien sy haar kans. Daar was ’n groot gedrang om Jesus – sy sou ongemerk nader kruip en aan Hom raak. Versigtig gaan sy deur die skare mense. Meteens is sy vlak by Jesus. Vinnig steek sy haar hand uit en raak aan die soom van sy kleed. En – die wonder gebeur! Sy is gesond! Nou moet sy net so gou as moontlik wegkom.

Maar – te laat! Jesus het gemerk dat daar krag uit Hom uitgaan. Hoe sou Hy dit ook nié opgemerk het nie? Bewend van angs val sy voor Hom neer. Wat sal die Here Jesus sê? Sal Hy haar straf omdat sy Hom onrein gemaak het? Omdat sy, ’n vrou, dit durf waag het om haar aan Hom op te dring? Omdat sy Hom opgehou het terwyl Hy haastig op pad is om ’n baie belangrike man – nogal ’n raadslid van die sinagoge! – se sterwende kind te gaan gesond maak?

Maar wat sê Jesus vir haar? “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Nie veroordeling nie, maar genade! “Wees gerus!” Hoe kon sy ook anders gedink het? God se koninkryk is tog vol genade, goedheid, liefde en vreugde. God gee om vir mense in nood en ellende. Mense se leed en swaarkry raak Hom, en daarom help Hy hulle. Hierdie vrou se smekende hand aan die soom van sy kleed is nie vir Hom ’n ergernis en ’n oponthoud in sy besige program nie, want sy is deel van sy program! Dis waarom Hy na die aarde gekom het – om mense in nood, soos hierdie vrou, te help en te red!

Maar hoor weer wat sê die Here vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Op die ou end het die vrou ook baie méér gekry as wat sy wou hê. Nie net haar liggaam is genees nie, sy is gered! Want Jesus het gekom om te soek en te red wat verlore is. Hy het gekom om mense te genees, soos Hy hierdie vrou genees het, na liggaam én na gees. Daarom sien ons Hom later aan ’n kruishout hang: sodat daar deur sy wonde genesing kan kom. Daar het Hy werklik onrein geword – nie net vanweë hierdie vrou se aanraking nie, maar vanweë ons almal se sonde – sodat ons rein kan word, gesond kan word, gered kan word.

Die Here red! Hy genees! Dit wil hierdie wonder ons leer. Maar dis nie al nie. Die Here sê vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Jou geloof. Natuurlik is dit nie haar geloof wat haar gesond gemaak het nie. Dit was Christus. Maar, en dit is wat Jesus hier bedoel, dit het tog ook nie los van haar geloof gebeur nie. Want hierdie vrou het in God geglo, geglo dat Christus die mag het om haar gesond te maak; sy het Christus se heerskappy erken, en was daarom bereid om Hom ten volle te vertrou met haar gesondheid, met haar lewe. Daarom het sy geen moeite ontsien om tot by Hom te kom nie, want sy het haar vertroue in Hom gestel.

Miskien is dit die rede hoekom ons so dikwels nie God se goedheid en genade, God se vrede beleef nie; hoekom ons nie die krag van sy reddende teenwoordigheid in ons lewens en met ons probleme beleef nie: omdat ons geloof nie daar is nie. Nie omdat ons nie glo nie, maar omdat ons te min glo, nie bereid is om God ten volle te vertrou met ons lewens en ons probleme nie.

Ons probleem is dat ons soos daardie Sondagskoolseuntjie redeneer: Só en só werk dit, en nie anders nie. Daarom sê ons, as die Here sê: “Draai die ander wang, loop die tweede myl, wees die minste,” dan sê ons: “Hm-im. Dit sal nie werk nie. Dis ’n onrealistiese eis. Miskien kon dit werk in Jesus se tyd, maar nie vandag nie.” Want ons vertrou God nie genoeg om te glo dat Hy, as ons só optree, op sy wonderlike manier vir ons sal sorg nie.

Hierdie vrou het dit geglo. En het baie meer ontvang as waarop sy ooit kon hoop! Christus het haar nie net gesond gemaak nie, maar haar ook gered!

Het dit nie tyd geword dat ons God begin vertrou nie?

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 119

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.