Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ’n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. (Luk. 5:3)
Oppas as jou pad met Jesus s’n kruis …
Op ’n dag sit Petrus, moeg ná ’n nag se vergeefse visvang, sy nette op die strand en uitspoel. Al wat hy wil doen, is om sy werk klaar te kry en huis toe te gaan. Hy steur hom nie aan die samedromming van mense om Jesus op die strand digby hom nie, want hy het tog al vir Jesus hoor preek. Maar toe Petrus hom weer kom kry, sit Jesus binne-in sy skuit en vra hom om die skuit ’n entjie van die oewer af weg te stoot, sodat Hy die skuit as ’n kansel kan gebruik. En die oorblufte Petrus doen dit ewe gedwee.
Jy sien, as jou pad met Jesus s’n kruis, is niks wat jy het, meer joune nie. Alles wat jy het, is in diens van God: jou gawes, jou talente, jou tyd, jou werk, jou motor, jou geld …
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (Rom. 12:1b)
Views: 29