Toe Delila sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. (Rig. 16:20)
Simson was gewoond daaraan om suksesvol te wees. Niemand was teen hom bestand nie. Hy was onoorwinlik, amper soos Asterix as hy van Getafix se wonderdrankie gedrink het. Maar sukses wat die reël word, kan jou maklik verlei om te dink jy is onoorwinlik. En daarom dink Simson niks daarvan om met die sonde te speel nie. Hy sal tog nie iets oorkom nie. Wat Simson vergeet het, is dat sy suksesse nie net van sy eie krag en vernuf afgehang het nie, maar veral van God se Gees wat hom begenadig het.
Ons streef almal na sukses. Moenie, as jy dit behaal, Simson se flater begaan nie. Buig liewer maar elke dag van vooraf weer laag voor God, gee aan Hom die eer vir jou suksesse, en bid om sy leiding en die vrug van sy Gees in jou lewe, want só bly jy afhanklik van God, en ootmoedig.
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. (1 Kor. 10:12)