Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? (Rig. 18:24)
Miga het net ’n paar kilometer van die destydse aanbiddingsplek (Silo) gewoon. Maar om elke keer soontoe te gaan, was darem te veel moeite. Waarom na Silo toe gaan as jy op jou eie werf jou eie plek van aanbidding kan hê? Dis hoe Miga redeneer, en kort voor lank het hy sy eie tempel, kompleet met afgodsbeelde en priester – nogal ’n nasaat van die grote Moses self! Dit werk uitstekend, totdat ’n bende die beelde én die priester kom steel. En daar sit Miga met niks.
Dis elke keer weer die moeilikheid met ’n gerieflike, selfgemaakte godsdiens. Solank dit goed gaan, werk dit. Maar dis nie ’n godsdiens wat jou kan dra as die probleme kom nie. Miga het uitgevind dat enige-iemand (en enige teenspoed) só ’n geloof by jou kan steel.
Net ’n godsdiens waarin jy God toelaat om jóú te vorm – nie andersom nie – kan jou op die lang duur staande hou.
’n Godsdiens wat klein genoeg is vir ons begrip, sal nie groot genoeg wees vir ons behoeftes nie. Arthur Balfour
Views: 16