Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.” (Gen. 50:19)
As ’n mens Josef se verhaal lees, kan jy amper nie glo dat broers so wreed teenoor hulle boetie kan wees. Om as slaaf verkoop te word op sewentien is nie ’n grap nie. En langs die pad beland Josef nog onskuldig in die tronk ook (en tronke was daardie tyd hel op aarde). Ek kan my voorstel dat Josef menige dag sy broers verwens en in sy hart vervloek het.
Tog, toe die broers jare later na hom kom om vergifnis te vra, gee hy dit onvoorwaardelik, want, sê hy, hy is nie God nie. Dis nie sy werk om wraak te neem nie. Dis nie sy werk om dít wat hom aangedoen is, reg te stel nie. God sal in sy oneindige wysheid ook daarvoor sorg.
God kyk ook na jou. Hý hanteer jou sake. Daarom kan jy ook, soos Josef, van harte vergewe. Of hoe?
Die haat baar haat: hy’t tien, hy’t honderd kinders … N.P. van Wyk Louw, Germanicus