KINDERS: DIE BYBEL IS ’N SKAT

Wys prentjie van ’n skatkis en vra wat dit is.

Wat is ’n skat?

Wat sal jy maak as jy ’n groot skat in die hande kry?

Het julle geweet dat julle almal ’n skat in julle huis het?
Kom ons lees daarvan: Psalm 119:162:
Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het.

Waarvan praat die digter hier?
Hy praat van die Bybel! Ons noem die Bybel ook mos God se Woord. En hy sê: Die Bybel is soos ’n groot skat!

Hoekom is die Bybel so ’n kosbare, wonderlike skat?

Weet julle, daar was ’n tyd toe gewone mense soos ons nie Bybels kon kry nie. Daar was baie min Bybels, en dit is in die kerke gehou, en net die priesters mag dit gelees het. Dink net: as jy nooit eers jou eie Bybel mag gelees het nie!

Maar dis gelukkig nie meer so nie. Dis vandag maklik om ’n Bybel in die hande te kry, in Afrikaans! Die Bybel is al in 2700 tale vertaal, maar daar is nog 4000 tale waarin die Bybel nog nie vertaal is nie, en 1300 van daardie tale is in Afrika. So ons is baie bevoorreg om die Bybel in ons eie taal te kan lees.

En nou, sommer net vir die interessantheid: wat is die langste hoofstuk in die Bybel (dws met die meeste verse in)? Ps 119, met 176 verse
En die hoofstuk met die minste verse? Ps 117, met net 2 verse
En die middelste vers in die Bybel? Ps 118:8. Daar staan: Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.

En nou vir ’n uitdaging: Dit neem ’n gemiddelde leser omtrent 70 uur om die Bybel deur te lees. As jy elke dag 3 hoofstukke lees, en Sondae 5, gaan jy die Bybel in binne ’n jaar deurlees, van voor tot agter.
Onthou: God praat met ons in die Bybel. Dís hoekom dit ’n skat is!

 

Luk 10:25-37 Die Barmhartige Samaritaan

“Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Dís wat ’n wetgeleerde op ’n dag by Jesus wou weet. Wat moet ek doen om in die hemel te kom.

As jý nou dié vraag moes antwoord, wat sou jy gesê het?

Ek wonder wat die man verwag het Jesus sou antwoord. Waarskynlik het hy ’n lysie van moets en moenies verwag: Jy moet altyd kerk toe kom. Jy moet altyd gaaf wees met jou bure. Jy moet ten minste 2 keer op ‘n dag bid. Jy mag nie lelike gedagtes dink nie. Jy mag nie jaloers wees nie.

Jesus gee nie so ’n lysie wat ’n mens kan afmerk – 3 gedoen, nou nog hierdie 2, dan is ek reg nie. Nee, Hy sê: Jy ken mos die antwoord: Jy moet God liefhê, en jou naaste.

Ek dink dís die moeilikheid met ons geloof: ons weet meestal die antwoord, maar ons wil dit nie weet nie, want ons is nie so lus vir die implikasies daarvan nie. Ons weet die antwoord gaan meer van ons vra as wat ons wil gee. Dit vra nie net ’n paar goedjies wat ons moet doen nie; dit vra ons hele hart en hele lewe. Dit vra ons alles. Christenskap is nie ’n godsdiens nie. Dis ’n lewenswyse.

Om sy punt te illustreer, vertel Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Jesus sê: Op ’n dag lê daar ’n man in die pad, half dood. Hy is beroof en wreed aangerand. Twee uiters godsdienstige mense kom op hom af en loop dan verder sonder om hom te help. Hulle godsdienstigheid het geen verskil aan die man in die pad gemaak nie. Hulle godsdienstigheid was steriel. Dit het nie afgegee op die mense om hulle nie.

Uiteindelik was dit ’n Samaritaan wat die man raakgesien en gehelp het. Twee kerkmense wat God se wil ken, stap verby die man in nood. Hulle vroom Bybelpraatjies het geen verskil gemaak aan die man wat in die pad lê en bloei nie. Ek wonder wat het hulle daardie oggend voor hulle op reis gegaan het, gebid. Bewaar my asseblief op die pad? Seker. Dis mos wat ons ook bid. En ek wonder wat het hulle vir God gesê toe hulle daardie dag afgesluit het. Seker: “Dankie dat ek nie soos daardie man in die hande van rowers beland het nie.” Want hulle godsdiens het gegaan om hulleself en wat hulle van God kan kry; wat Hy vir hulle kan doen, en dis al. Dat hulle ’n roeping teenoor ander het, dat hulle God se gestuurdes in die wêreld moet wees, was nie deel van hulle verstaan van geloof nie. Steriele godsdiens, kan ons dit noem.

Ek wonder dikwels oor die manier waarop ons oor Christenskap dink as ek dié gelykenis lees. Want dit wat hier in die kerk op ’n Sondag gebeur, is maar net die spanpraatjie voor die wedstryd. Die wedstryd word nie hier gespeel nie. Jy speel dit daar waar jou pad met dié van ander kruis, in die gewone lewe. Daar waar iemand jou nodig het – dáár word die wedstryd van die geloof gespeel.

Nou kan ons dink aan mense om ons wat ons nodig het – in die dorp, in my buurt, by die werk, in die klaskamer … Daar is so baie mense met nood in die wêreld! En wat van jou eie gesinslede? Jou suster wat jou so irriteer? Jou boetie wat ongevraag in jou kamer inbars? Of jy wat ’n ouer is: wat van jou kind? Hoeveel aandag gee jy aan haar? Sy weet dalk jy is baie godsdienstig, maar beleef sy dit in die manier waarop jy in haar belangstel?

Zane Mias sê Vrydag in ’n radiogesprek dat meer as 60% van ons jongmense sonder ’n pa in die huis grootword. Ek wonder wat daardie pa’s met hierdie gelykenis maak. Of die ma’s wat ook ’n aandeel daaraan het dat die pa weg is. Ek wonder of hulle raak sien dat dit húlle kind is wat daar in die pad lê, stukkend en seer.

Onthou die vraag waarmee die gesprek begin het: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus sê: die manier waarop jy teenoor ander optree, het alles daarmee te maak. Jou gesin is deel van hierdie ander.

In die week wat kom, gaan iemand jou nodig hê. Jesus het nie by mense verby gestap wat Hom nodig gehad het nie. Kom ons volg Hom op dié pad!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 103

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.