90 jaar van Afrikaanse Bybels
Ons het Sondag die 90ste verjaardag van die Bybel in Afrikaans gevier. Op 27 Augustus 1933 is die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem. Vandag het ons, naas dié 1933/1953-vertaling (die OAV of Ou Afrikaanse Vertaling), nog ’n handvol ander vertalings in Afrikaans: die 1983-vertaling of NAV (die Nuwe Afrikaanse Vertaling), die 2020-vertaling, Die Bybel vir Almal, en die nie-amptelike vertalings, nl. Die Boodskap, die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) en die Bybel@kinders. Daar is ook die CAB23 oftewel die Contemporary Afrikaans Bible 2023, maar dit is m.i. nie juis bruikbaar nie.
Die vraag is: hoekom so baie vertalings? Kon ons nie maar net by die AOV en NAV gebly het nie?
Daar is ’n hele paar faktore wat ’n rol gespeel het in die totstandkoming van die verskillende vertalings.
- Die een is dat taal verander en ontwikkel met tyd. Dit het dit nodig gemaak om die OAV met ’n nuwer vertaling (NAV) aan te vul. Ek sê aanvul, nie vervang nie, want die OAV het steeds die status van amptelike vertaling. In 2020 is nog ’n amptelike vertaling bygevoeg.
- ’n Tweede faktor waarom daar verskillende vertalings gemaak is, is die behoefte aan leesbaarheid en verstaanbaarheid. Die NLV en Die Boodskap is goeie voorbeelde hiervan, asook Die Bybel vir Almal (wat spesifiek gemik is op die dowe/gehoorgestremde leser wat ’n beperkte woordeskat het). Hierdie vertalings lees maklik en is baie vryer vertaal as die OAV, wat ’n letterlike, woord-vir-woord vertaling is. Die vertrekpunt met die OAV was om so na as moontlik aan die oorspronklike tale te bly, ook wat woordkeuse en selfs sinskonstruksie betref.
- Dit bring ons by ’n derde faktor, naamlik die vertalingsbeginsel of uitgangspunt van die vertalers. In teenstelling met die OAV was die uitgangspunt van die NAV by uitstek verstaanbaarheid. Daarom is daar eerder op betekenis gefokus en nie op woorde of idiome nie. Die idee was dat die moderne leser dieselfde betekenis as die oorspronklike leser moes kry, al word daar soms (of selfs dikwels) afgewyk van die oorspronklike woorde. Wanneer uitdrukkings of beelde vir die moderne leser onbekend is, is dit wegvertaal of vervang met beelde wat ons vandag ken. Die gevolg is ’n hoogs leesbare en redelik maklik verstaanbare vertaling.
Met die 2020-vertaling is teruggekeer na ’n meer letterlike vertaling. Dit stem tot ’n groot mate ooreen met die OAV, terwyl die ontwikkeling van Afrikaans sedert 1953 uiteraard die vertaling anders maak. Dit uitgangspunt dat die vertaling reg moet laat geskied aan die oorspronklike teks se stelwyse, maak dit nie altyd so ’n gebruikersvriendelike vertaling nie. Soos een vertaler vir my gesê het toe ek kla dat die Brief aan die Filippense darem nou moeilik lees: Paulus se skryfstyl was moeilik en stokkerig, en die vertaling wou daaraan getrou bly. Dit lei egter daartoe dat ’n mens soms erg moet kopkrap om Paulus (bv) se gedagtegang te volg.
Skep te veel vertalings verwarring?
Party lesers is effens verleë of selfs geïrriteerd wanneer lede van ’n Bybelstudiegroep verskillende vertalings gebruik, of as die predikant ’n ander vertaling vir die Skriflesing gebruik as wat hy of sy in die hand het. Daar is ook mense wat hulle ou Bybel weggee omdat hulle ’n nuwe vertaling aangeskaf het en die oue nou (volgens hulle) oorbodig is. Ons moet egter nie só daaroor voel nie. Elke vertaling het sy eie unieke stem en bring ’n ekstra verstaan van die teks vir ons. Deur die verskillende vertalings met mekaar te vergelyk, kan ’n mens dikwels ’n beter idee kry van wat die Bybelskrywer wou hê ons moet hoor.
My raad is dat jy al die vertalings langs mekaar gebruik, veral as jy Bybelstudie doen. Dit verhelder die boodskap. En met ’n toep soos die Youversion van Bible.com kan jy met een oogopslag ’n hele klomp weergawes van dieselfde teksvers met mekaar vergelyk.
Wat ’n voorreg!
Views: 69