Ek het die grappie gehoor van die man wat ’n dominee op die stasie moes gaan ontmoet, maar hy het nie geweet hoe die dominee lyk nie. Toe stap hy na ’n man wat vir hom na ’n dominee lyk en vra of hy dominee so-en-so is. Die man se antwoord was: “Nee, ek lyk maar net soos ’n dominee, want ek het ’n bloeiende maagseer.”

Hoe vromer, so is op ’n stadium geglo, hoe suurder. Daar was ’n tyd toe alles wat ’n sweem van plesier bevat het, as sonde beskou is. Ek dink ons is deur die genade darem nou by dié standpunt verby. Die Here Jesus het immers gesê Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10). Op ander plekke in die Bybel word ons ook aangemoedig om die lewe te geniet, bv. in Prediker 3:12,13, waar dit as ’n gawe van God beskou word dat ons die lewe kan geniet.

Wat my wel kwel, is dat die pendulum vandag na die ander kant toe geswaai het. Ek kry die idee mense dink jy kan doen wat jy wil, solank jy net ’n Christen ook is. Jy kan maar voor (en buite) die huwelik seks hê; jy kan maar so ’n bietjie laat gaan op ’n partytjie; ’n besoek aan ’n casino is “cool”… Maar terwyl ek dit sê, moet ek byvoeg dat ek ’n probleem daarmee het om ’n lysie te maak en te sê: Hierdie plesiertjies of stoutighede is ontoelaatbaar en daardie’s nie. Paulus sou daarvan sê (lees gerus Kolossense 2:20-23) dat só ’n ingesteldheid van min nut is “vir die beteueling van die sondige drifte”.

Die antwoord lê daarin dat jy moet toelaat dat die Gees van Christus jou lewe, jou denke, jou dade vernuwe, sodat jy jou plesier vind in dinge wat geen sweem van die verkeerde inhou nie. Die vrug van die Gees, sê Paulus in Galasiërs 5:22, is tog “liefde, vreugde …” Dan sal jy nie behoefte daaraan hê om te kyk hoe ver jy dit kan druk sonder om sonde te doen nie. Want Christenskap is nie iets wat in ’n kompartement van jou lewe pas nie; dit is ’n lewenswyse wat jou hele bestaan kleur, ook die manier en plekke waar jy plesier soek.

image_pdfimage_print

Views: 35

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.