Ons is natuurlik nie almal op dieselfde plek in die lewe vanoggend nie. Dalk is jy ook vanoggend waar Dawid is; is jy net eenvoudig oorweldig deur die wonder van God se liefde en genade vir jou. En wil jy God saam met Dawid (vs 1,2) loof en prys oor sy goedheid en grootheid en genade en liefde:
Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.
En in vs.20-22 is dit asof hy sy arms oopmaak en almal nooi om saam met hom te jubel:
Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!
Maar dalk is jy nié vanoggend heeltemal waar Dawid is nie. Dalk wens jy jy kon ook soos hy oor God voel, maar daar is te veel dinge op jou gemoed wat jou van God wegtrek. Jy is bekommerd, of hartseer, of gestres, of net eenvoudig te moeg.
Of dalk sit jy vanoggend hier en dink, wie gee om? Want jy is nie hier omdat jy hier wil wees nie, jy is hier omdat jy saamgesleep is. Dan wil ek jou vra: jy ís nou hier. Gee die Woord ’n kans om met jou te praat. Dalk roer dit tóg iewers ’n snaar …
Hoekom is Dawid so bly dat dit vir hom onmoontlik is om daaroor stil te bly? Omdat hy ontdek het dat die Here hom liefhet, ten spyte daarvan dat hy maar net ’n sondige mens is, ’n nietige mens wat nie voor die Here bestaansreg het nie. Hy sê in vs.15 en 16 dat hy soos ’n grashalm of ’n veldblom is wat in die lente groei, maar nie kan weerstand bied teen die warm woestynwinde van die somer nie. Dawid weet: as die Here hom moet straf oor al sy sonde, sal hy net soos daardie veldblom wees. Hy sal oombliklik vergaan, vir ewig verlore wees. Maar die Here doen dit nie! Dit is die wonder waarvan Dawid hier so pragtig sing: dat God hom nie straf oor al sy sonde nie, maar vergewe. Dat God nie in toorn na hom kyk nie, maar met liefde en ontferming! Hoor hoe mooi sing hy daarvan in vs.8 en verder:
Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie… Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien… Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
Só is die Here! Onpeilbaar groot in sy liefde, ’n liefde so groot soos die afstand tussen hemel en aarde, ’n liefde so groot dat dit nie gemeet kan word nie, ’n liefde so groot dat hy sy eie Seun gegee het om ons almal te kan red, ’n liefde so groot dat Hy ons nie in ons sonde los nie, maar sy Seun in ons plek tot sonde gemaak het sodat Hy ons kan vergewe.
Só is die Here! Oneindig groot in sy ontferming, in sy barmhartigheid, sodat Hy teenoor ons is soos ’n vader, ’n vader wat alles oor het vir sy kinders. Daarom het Hy ons nie aan ons lot oorgelaat nie, maar ons elkeen by die naam geroep, vir ons kom opsoek, vir ons aangeneem as sy kinders, want ons is vir Hom kosbaar!
Ek het gesê, nie almal voel soos Dawid nie. Dalk voel jy glad nie so nie; voel jy ver van God af, so ver dat jy selfs wonder of Hy regtig bestaan. Maar dit hoef nie so te wees nie! Dit kan weer gebeur dat ek en jy heel jaar deur opgewonde bly oor God se wonderlike liefde en ontferming. En in hierdie psalm wys Dawid vir ons hoe dit kan gebeur.
Ps 103 leer vir ons dat, as ons aan God toegewy lewe, ons ook die wonder van sy grootheid opnuut weer sal ontdek. Vier keer in hierdie psalm sê Dawid dat die liefde en ontferming van die Here net beleef word deur dié wat Hom dien (vs. 11, 13, 17 en 18). Want dit is wanneer ’n mens die Here dien, wanneer jy toegewy aan die Here lewe, dit is dan dat jy nader aan die Here kom.
Ek dink die fout wat ons soms maak, is dat ons in tye dat ons ver van die Here voel, ophou om sy teenwoordigheid op te soek. En so dryf ’n mens al hoe verder van Hom af weg en voel dit vir jou of Hy nie vir jou omgee nie. Dawid sê, wanneer jy die Here dien en vir Hom lewe, dat jy sy teenwoordigheid en liefde werklik beleef.
Daar is mos daardie aangrypende lied uit die Elijah van Felix Mendelssohn: If with all your heart ye truly seek Me, Ye shall ever surely find Me, Thus saith our God.
Kom dan, kom ons maak opnuut weer erns met ons verhouding met God. Kom ons dien opnuut weer die Here met oorgawe. Kom ons wy ons opnuut aan die Here toe. Kom ons maak tyd vir God, tyd vir sy Woord, tyd vir gebed, tyd vir diens aan ons naaste. Kom ons stel onsself tot sy beskikking, dat Hy ons deur sy Gees en sy Woord kan lei, dat ons kan groei in die geloof, groei op die pad van heiligmaking, dat ons nader aan God kan lewe. Dan sal die lewe vir ons weer ’n belewenis wees, ’n hernude ontdekking van God se grootheid, God se liefde, God se barmhartigheid. Dan kan ons saam met die psalm sing:
Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet!
Amen.
Views: 90