Ek het hierdie stukkie ‘n hele klompie jare gelede geskryf, en dit nooit gepubliseer nie. Dinge is nie meer heeltemal soos ek dit destyds beleef het nie, en tog het baie dinge nie veel verander nie.
Andrew bel my Vrydagaand. “‘Skuus dat ek so laat bel, maar kan jy my Sondagoggend uithelp?” Andrew is die VGK-gemeente oorkant die rivier se predikant. Hy het voorheen ook al gevra, maar gelukkig was ek toe vas met ’n preekbeurt by die ouetehuis.
“Hoe so?” wou ek effens geïrriteerd weet. Hier gaan my af-Sondag, lekker rustig in die kerk se skip saam met my kinders.
“Man, ek is in die bed. Die pille wat die dokter my vir my rugpyn en koors gegee het, het my maagwand beskadig. Nou sê hy ek moet rus.”
“Ek sal graag help,” jok ek.
Andrew verduidelik die orde van die diens. Gelukkig het ek darem ’n Nuwe Sionsgesangeboek. Maar ek hoef my oor niks te bekommer nie, verseker hy my. Een van die kerkraadslede sal die dinge met my deurgaan. En ek hoef nie oor die konsistorie en die afkondigings bekommerd te wees nie. Sy leier-ouderling sal daar voorvat. Hulle het dié Sondag dankoffer-insameling, sê hy. Dit ook nog! Hoe laat kom ek weer by die huis? En, sê hy, voor hy vergeet, hulle dra nog toga by die oggenddienste.
Sondag. Ek ry kerk toe om my kind – sy is op die junior kerkraad – betyds by die konsistorie af te laai, en sommer my toga, wat ek laas by ’n konsert aangehad het as deel van ’n item, te gaan haal. Ons buurman is besig om sy gras te sny. Die strate is maar stil. Net hier en daar stap iemand met ’n gesangeboekie in die hand kerk toe. ’n Paar duur motors staan blink gepoets by ons imposante kerkgebou, verreweg die mooiste en grootste op die dorp.
‘n ander wêreld
Ek ry onseker oor die rivier. Wat sal ek vanoggend beleef? Ek het jare laas in die bruin kerk – toe nog die NGSK – gepreek. Andrew het my verseker dat hulle liturgie maar net soos ons s’n is.
Dis asof ek in ’n ander wêreld kom toe ek die bruin dorp inry. Oral langs die strate is mense – honderde van hulle – besig om kerk toe te stap, Bybel en sangbundel in die hand. Die mans het feitlik almal pakke klere aan, die vrouens gehoed en gekous. Hier, kan ek sien, is dit Sondag. Ek sien nie mense in hulle tuine werk nie.
Ek stop by die kerk. Die konsistorie-deur gaan oop net toe ek wil aanklop. Nee, die erediens is nie hier nie; die kerkgebou is te klein. Dit was net ’n vroeë-môre biduur. Die oggenddienste hou hulle deesdae in die saal langsaan, waar daar meer plek is.
Die kerkraad staan sommer so ingeprop in die dames-kleedkamer langs die verhoog, want daar is natuurlik nie ’n konsistorie by die saal nie. Ook nie stoele nie, anders sal almal onmoontlik inpas. Ek word hartlik ontvang, ten spyte van die effense deurmekaarspul omdat die dominee siek is. Al die los papiertjies het die arme leier-ouderling skoon verbouereerd. Maar hy beur moedig voort, al is hy effens kort-asem van senuwees. “Nou verstaan ek hoekom Dominee altyd sê ons moet betyds ons afkondigings vir hom gee,” raas hy met die swartspan. “Só ’n deurmekaarspul kan mos nie goed wees nie. Verskoon tog,” glimlag hy verleë na my kant toe.
Een van die broers bid. Hartroerend eenvoudig. Hy bid vir die erediens van die oggend: dat ons almal ’n stukkie padkos sal ontvang vir die week; dat die dominee sal verdwyn agter die Woord.
Dis maar ’n eenvoudige saal. ’n Vleuelklavier staan toegemaak onder sy swart kleed. Die orrelis speel op ’n elektroniese orrel. Sy los maar net af, want die orrelis het gaan uithelp in die buurgemeente. Sy is effens onseker en speel baie saggies. Maar die gemeente sing uit die hart.
Ek word sitgemaak op die verhoog. Die leier-ouderling doen solank die afkondiginge. Hy baklei met die gemeente wat nie goed genoeg na sy sin die basaar van die vorige dag ondersteun het nie. “Maar ons is tog die Here innig dankbaar vir die mooi opbrengs van R24 000.” ’n Nuwe intrekker word verwelkom. Hy moet staan. Die leier-ouderling vra dat hy tog dadelik by een van die baie aksies van die gemeente sal inskakel, sodat hy nie tussen die massas verdwyn nie. Spontaan sing die gemeente hom ’n verwelkomingslied toe.
kinders loop in en uit
’n Ander ouderling sit langs my om seker te maak dat ek presies weet hoe die diens moet verloop. Ek preek oor die wonder van Isak se geboorte. Die kerkkoor sing onbegeleid. Kinders loop in en uit, party saggies, ander nie so suutjies nie. Dan word die offers ingesamel. Eers die gewone kollekte, dan die maandelikse dankoffers. Die gemeente kom ry vir ry en plaas hulle koevertjie in die skatkis op die tafel, voor die wakende oog van die leier-diaken. Honderde koevertjies lê daar. Die diaken doen ’n gebed om die dankoffer aan die Gewer van alle goeie gawes op te dra.
Ek dink onwillekeurig aan ons eie lidmate wat kla die diaken kom nie die geld by hulle haal nie, en ander lidmate wat nie daaroor kla nie, te bly dat hulle oorgeslaan is. Ek dink aan ons Meester wat by die skatkis gestaan het en die weduwee met haar karige offertjie uitgesonder het.
Die leier-ouderling stuur ’n briefie na my. Hy verneem daar is ’n egpaar in die kerk wat hulle goue bruilof vandeesweek gevier het. Sal ek asseblief ’n gelukwense aan hulle oordra? Ek dink aan party gemeentes waar die gang van die diens vir niks ter wêreld onderbreek mag word nie, want die voortgang van die liturgie mag nie versteur word nie. Hierdie mense gee klaarblyklik nie daarvoor om nie. Hulle is mos ’n geestelike familie, wat spontaan mekaar se vreugdes deel.
Ná die diens beur ons weer die benoude kleedkamertjie in vir die afsluiting. ’n Ouderling bedank my vir my aandeel aan die diens. Hulle is natuurlik nie bly dat ds. Andrew siek is nie, sê hy, maar tog is hulle bly dat die Here sy siekte kon gebruik om my na hulle toe te stuur. Ek het hulle weer opnuut daaraan herinner dat God wonders doen, ook in ons dag. Verstom luister ek hoe dié eenvoudige gelowige my preek in ’n neutedop saamvat. Nóg ’n ouderling sluit met gebed. Die kerkraad klik instemmend as hy aansluit by die boodskap van die oggend en bid dat die Here ook in ons tyd wondere in ons land sal laat gebeur.
Twee uur later is ek eers weer tuis, en dink aan ons eie eredienste. Waar die mense kla die kinders is onstigtelik in die kerk. Waar ons al ’n naamlose oproep gekry het omdat ons op iemand anders se kerkbank gesit het. Waar die dominee álles doen. En waar hy moet sorg dat die diens onder geen omstandighede langer as een uur mag duur nie.
En ek wonder waar, tussen al ons gekultiveerdheid en styl, ons dan die gemeenskap van die gelowiges verloor het.
Ek is ook nie bly dat Andrew siek is nie. Maar ek is dankbaar dat ek daar kon gaan preek. Die Here het waarlik sy siekte gebruik – op meer as een manier.
Views: 20