n.a.v. 1 Kor. 10:13
Here, God van Abraham, Isak en Jakob, God van Moses en Paulus,
Ek kom in nederige ootmoed voor U buig. Want ek is bang, Here.
Ek is bang ek kan dieselfde pad as die Israeliete stap.
Ek is bang ek beland in die kloue van die duiwel, en hy sleep my saam na die poorte van die hel.
Ek is bang, Here, want ek ken myself.
Ek weet hoe maklik ek kan val.
Ek weet hoe erg die versoekings en die verleiding van die sonde soms vir my is.
O Here vol ontferming en genade, hou my vas!
Ek bely my koppigheid en eiesinnigheid voor U.
Ek bely dat ek partykeer dink ek kan self.
Ek bely dat ek partykeer u leiding en u besluite bevraagteken.
Ek bely my sondes voor U, Here.
Ek bely dat Ek ook in die week wat verby is, my eie pad wou loop.
Ek bely dat ek U nie die Koning van my ganse lewe maak nie, Here.
Ek wil nie, want dan kan ek nie meer doen wat ek wil nie, en ek wil so graag doen soos ek lus het.
O Here wat u bloed vir my gestort het, vergewe my my skulde!
Ek dank U dat ek kan vashou aan U.
Ek dank U dat U na hierdie wêreld gekom het om my te kom verlos van die Bose en van myself.
Dankie dat U sterker as die duiwel is,
Here. Dankie dat U tot die dood toe daar op Golgota teen die duiwel en die sonde gestry het, en dat U oorwin het!
O troue God wat nie sal toelaat dat ek bo my kragte versoek word nie, hoor my gebed!
Amen.
Views: 65