My liewe vriend
Ek voel geëerd om jou my vriend te kan noem. Ek kan jou ook my broer of my suster noem, want dit is jy natuurlik ook. Ons Vader het jou as sy kind aangeneem en aan My verbind met bloed – my bloed – en daarom is ons ook bloedfamilie. Maar daarby kom Ek nog. Ek wil jou liewer my vriend noem, omdat Ek jou gekies het om deel van my vriendekring te wees.
Ek skryf hierdie brief vir jou, want dit is vir My baie belangrik dat jy sal weet hoe lief Ek jou het, en hoeveel Ek moes offer sodat Ek jou vir ’n vriend kan hê. Ja, Ek weet jy weet van die kruis op Golgota, en Ek weet ook dat jy gereeld vir ons Vader vra dat Hy jou genadiglik sal vergewe op grond van wat Ek gedoen het. Maar miskien sal jy my liefde vir jou nóg beter begryp as Ek vir jou vertel van daardie verskriklike Paasfees, nou al byna 2000 jaar gelede, toe die prys wat Ek vir jou verlossing betaal het, sy dieptepunt bereik het.
Ek het geweet dat die tyd dat Ek my offer moes bring, aangebreek het. Ek en my dissipels het die Pasga vir oulaas saam geëet. Dit was ’n baie spesiale, wonderlike afsluiting van my aardse pad met hulle, maar dit was ook verskriklik moeilik, want die man wat My sou verraai, Judas Iskariot, was ook saam met My aan tafel. Ek het sy voete óók gewas, net soos al die ander dissipels s’n, want Ek wou vir hom ook wys dat Ek hom liefhet en wou dien, net soos Ek jou liefhet en met alles wat Ek het, wil dien en help. Maar Judas het my liefde in my gesig teruggegooi. Ek voel nou nog die pyn in my hart toe hy opgestaan het van die tafel af en die nag ingegaan het om sy verraad te beplan.
Toe is ons na Getsemane, ’n olyfboord net buite die stad. Dit was die laaste aand van my aardse lewe, en die wreedheid van die beker wat Ek sou moes drink, het daar in al sy felheid tot My deurgedring. Ek erken dit ruiterlik: Ek was bang vir wat op My gewag het. Ek was bang vir die marteling wat Ek geweet het sou volg. Ek was bang om dood te gaan. Ek het teruggedeins vir die swaar vrag wat Ek aan die kruis sou moes dra. Onthou, Ek moes die sonde van die hele wêreld – joune ook! – op My neem en die straf daarvoor betaal: die dood weg van God af. Dáárvoor het Ek nie kans gesien nie. Ek het by my Vader gepleit dat Hy die beker by My moet laat verbygaan, dat Hy liewer op ’n ander manier die sonde van die mensdom moes wegneem. Maar die Vader het anders besluit, en uiteindelik, ná ’n diepe gebedsworsteling, het Ek opgestaan van my knieë af, oorgegee aan die wil van die Vader en bereid om te sterwe soos Hy besluit het.
As Ek terugdink aan alles wat gebeur het, besef Ek dat Ek daar in Getsemane al die oorwinning behaal het, oor Myself en oor Satan, toe Ek die keuse gehad het om nee te sê vir die Vader se plan, en tog ja gesê het vir Golgota.
Jy wonder dalk of daar nie ’n ander manier is waarop jy van jou sonde verlos kan word nie. Hoekom so baie bloed? Die antwoord is eenvoudig: daar is net een manier waarop die Vader bepaal het dat sonde weggeneem kan word, en dit is deur bloed. En as Ek die sonde van die hele wêreld wou wegneem, moes ek my eie bloed daarvoor gee, tot die laaste druppel toe, want my lewe was in my bloed. My bloed het jou sondes weggewas, uitgewis, vernietig, sodat jy voor die Vader kan staan as ’n skoon gewaste, rein mens, al is jy ’n sondaar. Ek het my lewe geruil vir jou lewe. Ek is dood sodat jy in die Vader se teenwoordigheid kan lewe en my vriend kan wees. Dít is hoe lief Ek jou het.
Ek het aan jou gedink toe Ek daar aan die kruis gehang het, want dit was vir jou ook, al het jy toe nog nie eers bestaan nie. Ek hoop jy dink elke dag aan My ook!
Die verskriklikste van my offer was dat die Vader my daar aan die kruis verlaat het – nie die pyn van die geseling nie, nie die marteling van die kruis nie, maar die Godverlatenheid. Ek het altyd, my hele lewe lank, swaar gesteun op die Vader se nabyheid en sorg en liefde. Maar aan die kruis het Hy my verlaat, sodat Ek alleen daar in die verstikkende donker gehang het, alleen met die walging van die ganse mensdom se sonde op my skouers. Dit was louter hel. As Ek geweet het dit sou só wees, sou Ek dalk nie kans gesien het nie. Of nee wag, Ek sóú. Ek sou dit weer verduur, ter wille van jou, want dít is hoe Ek jou van jou sonde verlos het.
My liewe vriend, my Vader het jou gekies om deel van ons familie te wees, en Ek het met my bloed kom betaal sodat jy verlos kan word. Ek het dit gedoen omdat Ek jou liefhet. Jy mag dit nooit vergeet nie.
Met al my liefde!
Jesus
Naskrif: lees asb. Joh 3:16 en 15:13-15
Views: 78