Drie-enige God

Ons aanbid U as God, die Vader van ons Here Jesus Christus, en ons dank U dat ons in U kan glo en mekaar kan liefhê. Ons weet, Here, dat dit nie uit onsself kom nie, maar gegrond is op die hoop wat vir ons in die hemel bewaar word.

O Vader wat ons uitgekies het om aan U te behoort, ons aanbid U!

Ons aanbid U as die Seun, U wat die beeld van God is, van God wat self nie gesien kan word nie. U is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. U is die Een deur Wie God alles geskep het wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur U en vir U geskep. Voor alles was U al daar, en deur U bly alles in stand. U is die hoof van die liggaam, van die kerk. U is die oorsprong daarvan, U is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat U die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in U te woon en om deur U alles met Homself te versoen. Deur U bloed aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur U het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

O Seun van God, Heer van die here en Koning van die konings, ons aanbid U!

Ons aanbid U as die Heilige Gees, ons Voorspraak, wat van die Vader en die Seun gekom het om in ons te woon en ons te lei. Doen dit tog ook vandag, o Gees van God!

O Gees van Vader en van Seun, ons aanbid U!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 23

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.