Laat ons dit maar erken: Jakobus was reg toe hy geskryf het dat geen mens nog die tong kon tem nie (Jakobus 3:8). Selfs die beste onder ons gly soms en sê goed wat kon gebly het, en dan wil jy jou tong afbyt van verleentheid. Maar spyt kom te laat. As ’n ding eers gesê is, is dit gesê. Dis uit, en die skade is gedoen.
Dit gaan nie net om woorde wat ander se karakter aantas nie; dit gaan ook oor growwe en selfs kru taalgebruik. Ek onthou hoe ek in die koshuis op universiteit, en later as dienspligtige, soms gevoel het om weg te kruip oor die goed wat mense sê. Deesdae is dit ongelukkig nie meer tot net sekere plekke beperk nie. Dis f*k dit (of jou) en k*k dat. Jy hoor dit oral. Dis hoe mense praat. ‘n Afgetrede predikant skryf op Facebook dat f*k nie ‘n vloekwoord is nie, en heelwat ander ondersteun hom. Hy gebruik dit ook gereeld in sy plasings. ‘n Skoolhoof sê in die saalbyeenkoms ’n mens mag maar sê ’n seun “moer” die bal. Dis nie ’n lelike woord nie – sy het in die woordeboek gekyk! Ongelooflik.
Van tyd tot tyd hoor ’n mens die verskoning dat iemand nie kerk toe kom nie omdat die mense wat op die kerkbanke sit, se optrede hulle afstoot. En dikwels gaan dit juis oor dít wat mense in die week kwytraak. Die ongeluk is dat dit nie net die persoon wat aanstoot gee, raak nie. Die Christendom en die kerk kom ook in diskrediet.
Daarom skryf Paulus: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” Of soos die 2020-vertaling dit stel: “Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.” (Kolossense 4:6)