Daar gaan deesdae letterlik nie ’n week verby sonder ’n berig oor ’n oorlog iewers op die aardbol nie. Oekraïene en Israel kom dadelik by ‘n mens op, en dan is daar die hordes ander faksie-oorloë … Miljoene mense verloor hulle lewens, die skade aan infrastruktuur en landbou is astronomies – en tog is daar steeds mense wat oorlog maak.

Jesus het gesê die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë is deel van laaste dae. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander (Lukas 21:9). Ons is duidelik in die laaste tyd voor die wederkoms, ’n tyd wat gepaard gaan met valse godsdienste, aardbewings, hongersnode en epidemies (vers 11). Dis ook ’n tyd waarin gelowiges toenemend verdruk sal word, het die Here voorspel (vers 12). En ingeligtes sê dis waar. Nog nooit in die ganse geskiedenis van die kerk is so baie Christene vervolg en vermoor as juis in ons eie dag nie. Ons is maar net gelukkig dat dit (nog) nie in ons eie land gebeur nie.

Baie gelowiges is daarom bang vir die laaste dae en wil liewer nie daaraan dink nie. Dis ’n soort volstruispolitiek. Jesus se boodskap hieroor is egter een van bemoediging: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” (Lukas 21:28) Moenie jou blindstaar teen die swaar nie; fokus op Jesus wat aan die kom is! Daarom het die kerk deur die eeue nie die verwagting op die eindtyd weggewens nie, maar van die begin af gebid (vgl. Openbaringe 22:20): “Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!”

Laat dié gebed van vandag af ook deel wees van jóú versugting.

image_pdfimage_print

Views: 28

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.