Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer? Ek kan nie stilbly nie. (vers 2)
Die eerste probleem met Elifas se “ondersteuning” van Job was dat hy vir Job preek, sonder om hom in Job se situasie te probeer indink. Sy woorde kom van buite, en hy redeneer vanuit ’n teoretiese verstaan van lyding. Soos iemand opgemerk het: “Dis ’n leunstoel-teologie.” Dit kom nie op uit ’n persoonlike ervaring van lyding en worsteling nie.
Met die redenasies van Job se vriende is die probleem dat baie van wat hulle sê, waar is, maar baie van wat hulle sê, is gewoon onwaar, soos dat ’n goeie en onskuldige mens nooit ly nie (vers 7); dat lyding altyd die gevolg van sonde in jou lewe is (vers 8); en dat Job se lyding God se straf is oor iets wat hy gedoen het (vers 9).
Dis ’n versoeking om simplistiese afleidings oor ander te maak en dan goedkoop raad of vermanings uit te deel. Dis dalk goed bedoel, maar dit help nie die een wat ly nie; inteendeel. Dit laat hom of haar net nóg meer wroeg. Alles wat Elifas gesê het, was beskuldigend, en het boonop impliseer dat Job se kinders dood is omdat God hulle gestraf het.