Ons weet almal dat daar engele is. Dis mos daardie vreemde hemelwesens met wit klere en vlerke en lang blonde hare, of hoe? Ons ken selfs twee van hulle se name: Migael, die aartsengel, en Gabriël, die boodskapper.
 
Of is dit maar net ’n mooi storie wat ma’s uitgedink het om hulle bang kindertjies mee te troos?
 
Bybelkoerant het gaan kers opsteek by ’n paar bekende mense wat al self ’n engel gesien het: Jakob,  Hananja, Misael en Asarja, Daniël, Maria en Petrus.
 
Jakob vertel dat sy eerste ontmoeting met engele (ja, hy het by meer as een geleentheid engele gesien) ’n onvergeetlike ervaring was. Hy het landuit gevlug vir sy broer Esau en het die nag sommer so in die veld deurgebring. “Ek het bitter eensaam en verlate gevoel,” vertel hy. “Maar daardie nag het ek ’n gesig gesien. Daar het ’n leer by my kop gestaan, en die leer het tot in die hemel gereik, en duisende engele het met dié leer op- en afgeklim.” Volgens hom het die engele se teenwoordigheid hom ongelooflik kalm gemaak. “Daar straal ’n warmte en geborgenheid uit hulle,” sê hy. “Jy weet sommer jy is veilig as hulle by jou is.” Toe hy die oggend opstaan, het hy die plek Bet-El gedoop. “Ek was daar baie bewus van God se teenwoordigheid,” verduidelik hy die naam, wat “huis van God” beteken.
 
Blykbaar is Jakob ’n man vir groot getalle engele, want by ’n ander geleentheid het daar weer ’n leërskare engele aan hom verskyn, hierdie keer toe hy na sy vaderland teruggekeer het ná ’n ballingskap van 20 jaar in Haran. “Ek was taamlik benoud, want ek moes met my broer gaan vrede maak ná die onreg wat ek hom aangedoen het,” glimlag hy skewerig. “Net voordat ek die land Kanaän sou ingaan, het ’n hele leërmag engele my ontmoet. Hulle teenwoordigheid het my baie versterk.” Dié plek staan nou nog bekend as Maganajim, wat “leërmag” beteken.
 
Oor presies hoe die engele gelyk het, is Jakob vaag. “Daar was so baie van hulle dat ek nie juis opgelet het hoe die indiwiduele engele lyk nie,” erken hy, en voeg dan met ’n ondeunde glimlag by: “Seker maar soos ek en jy, net mooier.”
 
Drie manne wat ’n baie besondere engele-ontmoeting gehad het, is Hananja, Misael en Asarja, drie Joodse amptenare in koning Nebukadnesar se diens. By geleentheid het hulle geweier om voor ’n reusestandbeeld wat die koning opgerig het, te buig en dit te aanbid, en die woedende koning het hulle terstond laat vasbind en in ’n brandende hoogoond gegooi. “Ons was nog nie eers binne-in die oond nie, toe is ons omring deur ’n kokon koel lug. Ons kon nie eens die rook ruik nie,” onthou Misael. “Toe ek my kom kry, is die toue waarmee ons vasgebind is, los, en kon ons vryelik rondloop binne-in die oond. En saam met ons in die oond was ’n engel wat ons kom versterk het.” Maar ook hulle is effens vaag oor die engel se voorkoms. “Jy moet onthou dat dit ’n geweldig emosionele oomblik vir ons was,” sê Hananja. “Maar hy het nie heeltemal soos ek en jy gelyk nie.” Asarja stem saam. Volgens hom is ’n engel beslis anders as ’n gewone mens. Jy kan sommer sien hy is ’n hemelse wese. Dit straal uit hom uit. “Dis asof hy blink, en tog ook nie. Dis moeilik om die kwaliteit in woorde uit te druk. Jy wéét net dis nie ’n mens nie,” sê hy.
 
Hulle boesemvriend Daniël het ook ondervinding van engele. Hy het die besondere voorreg gehad om die engel Gabriël by meer as een geleentheid persoonlik te ontmoet. Dit was ’n indrukwekkende maar ook vreesaanjaende gesig, sê hy. Hy het soos ’n man gelyk, maar tog ook nie, en hy was soms heelwat meer “menslik” as ander kere. Hy het linneklere aangehad, met ’n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. Sy liggaam het geskitter soos ’n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy stem was soos ’n harde dreuning. “Wat my opgeval het, is dat die engel Gabriël nie elke keer presies dieselfde voorkoms gehad het nie. Partykeer was dit indrukwekkender as ander kere. Ek vermoed dit gaan saam met die aard van die boodskap wat hy moet kom oordra. Vir ’n troosboodskap lyk hy anders as vir ’n gewigtige aankondiging.”
 
Daniël het nog ’n interessantheid meegedeel, en dit is dat die goeie engele voortdurend in stryd is met slegte engele. Een keer moes Daniël drie weke lank wag op ’n antwoord op sy gebed, omdat die engel Gabriël so lank opgehou is deur die (bose) engel van die Persiese ryk. Dit was eers nadat die engel Migael hom te hulp gesnel het, dat hy kon loskom om die boodskap aan Daniël oor te dra.
 
Seker die bekendste engelverskyning was toe die engele die boodskap dat die Verlosser gebore is, aan die herders in Betlehem gaan oordra het. Bybelkoerant kon ongelukkig nie een van die herders wat dié wonderlike gesig gesien het, opspoor nie. Daarom volstaan ons oor dié gebeurtenis met wat die historikus Lukas daaroor geskryf het: “Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die glans van die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik,” skryf hy. Weereens is hier sprake van ’n besondere skitterglans wat die engele omring.
 
Een van die bekendste persone aan wie ’n engel verskyn het, is natuurlik Maria, die moeder van die Here Jesus. Hy het vir haar kom sê dat sy ’n Seun sal hê, en later, toe Jesus uit die dood opgestaan het, het hy en nog ’n ander engel weer aan haar verskyn by die leë graf om haar die nuus mee te deel dat Jesus leef. “Ek was elke keer so oorweldig deur die ongelooflike dinge wat die engel vir my gesê het, dat ek werklik nie kan onthou hoe hulle gelyk het nie. Al wat ek kan onthou, is dat hulle blink klere aangehad het.” Sy sê sy het nie juis geskrik toe die engele aan haar verskyn het nie. Daar het ’n wonderlike vrede uit hulle gestraal. Hoekom moes sy dan bang wees? Sy is redelik seker dat hy nie vlerke gehad het nie. “Maar is dit regtig belangrik presies hoe hy gelyk het?” wou sy weet.
 
Nog ’n bekende persoonlikheid wat ’n engel-ontmoeting gehad het, is Petrus. Hy is in die tronk gestop en met twee kettings geboei. ’n Engel het egter in die nag gekom en hom bevry. “Die boeie het eenvoudig van my hande afgeval, en die deure het vanself oopgeswaai voor ons. Dit was so ongelooflik, ek dag ek droom!” Petrus sê die engel het so geblink, dit het gelyk asof daar ’n lig in die tronk aangesteek is. “Dit was nogal ’n komiese situasie toe ek dié nag by my vriende se huis kom,” vertel dié godsman met ’n glimlag. “Hulle het gedink ek is ’n spook, want hulle kon nie glo ek is uit die tronk bevry nie. As dit nie vir die engel was nie, wás ek seker nou ’n spook, want ek sou die volgende dag onthoof word, het ek gehoor.” Petrus is adamant dat sy engel nie vlerke gehad het nie. “Afgesien van die blink klere, lyk hy soos ’n gewone mens, sou ek sê.”
 
Ná die onderhoude wil Bybelkoerant die volgende gevolgtrekking maak: die engele se voorkoms is vir diegene wat hulle al gesien het, van minder belang, hoewel hulle verskyning ’n groot indruk op hulle gemaak het. Almal is dit eens dat hulle voorkoms min of meer soos dié van ’n mens is, en sonder vlerke. Gewoonlik omhul ’n blink glans hulle, maar nie altyd nie. Wat belangrik is, is nie hoe hulle lyk nie, maar eerder wat hulle sê en doen. Hulle het nuwe insigte gebring, boodskappe afgegee, mense in hul geloof versterk. Hulle is boodskappers van God wat Hy uitstuur om sy kinders by te staan of te red of te troos of te bemoedig in besondere tye.
 
Jy kan meer oor hierdie engele-verskynings lees in Gen. 28 en 32, Dan. 3 en 8-10, Luk. 2:8-20 en 24:1-12 en Hand. 12:6-19. Van die skrywer van hierdie artikel het ons een brief in die Bybel: die brief Judas, waar hy heelwat oor engele te sê het.
image_pdfimage_print

Views: 52

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.