Dis Antjie Krog wat só raad gee oor Kersgeskenke. En as ek sien watter soort Kersgeskenke mense wél vir mekaar gee, moet ek toegee dat ’n boek sekerlik ’n beter opsie is. Want op party Kersinkopielyste is wasmasjiene, tuimeldroërs, mikrogolfoonde, omkapmasjiene, TV’s en selfs motors. En fietse en rekenaars vir die kinders. En iewers, tussen al die blink geskenke en die tafels wat kreun onder die kos, soek Jesus ook ’n plekkie. Kersfees gaan darem immers oor Hom.
Êrens in die tweede helfte van die vorige eeu het ons Kersgeskenke lelik ontspoor, dink ek. Want toe ek klein was, het ons nog, soos ons ouers voor ons toe húlle kinders was, ons Kerskouse teen die kaggelrak opgehang. Die kouse was groot genoeg om die geskenke te bevat. Maar vandag sal jy moeilik ’n voedselverwerker in ’n Kerskous ingepas kry.
Ek het dit nie teen groot presente nie; dis nou ás jy dit kan bekostig. Maar waarom dit op Kersdag gee? Gee dit dan met Nuwejaar, of sommer op enige ander dag. Want niks, níks mag op Kersfees die aandag aftrek van die wonder van die Kindjie van Betlehem nie.
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Fil 2:5-7)
Hy het in nederigheid en eenvoud mens geword, en ons geskenke behoort dit te weerspieël.