deur Tabita
Ons het vyf van die bekendste ma’s gevra om vir ons te vertel wat moederskap vir hulle beteken: Eva, die eerste ma van almal; Sara, die oudste ma ooit; Lea, die ongewenste ma van vele, Hanna, uiteindelik ma ná jare van onvrugbaarheid; en dan natuurlik die beroemdste ma van almal: Maria.
Ons het vir Eva opgespoor waar sy besig is om wasgoed te was. Sy vertel: “Moederskap is vir my ’n baie besondere teken van God se genade en vergifnis. Jy moet onthou dat dit mý skuld is dat ek en Adam uit die Tuin van Eden verban is. Ek was die een wat na die slang geluister het. Adam bly my verseker dat hy dieselfde sou gedoen het, en dat hy buitendien ook van die vrug geëet het, maar sal ons ooit regtig weet wat kón gewees het as ek nie daardie dag my ore vir die slang uitgeleen het nie?
“In elk geval, ek het geglo ek is verlore. God was immers baie teleurgesteld in my. Ek het nooit kon droom dat ek ooit weer in my lewe bly sou wees, of gelukkig nie. En toe word ek ma: ’n pragtige ou bondeltjie seunsmens. Kan jy dink wat dit vir my beteken het? God het my begenadig, sodat ek weer my kop kon optel. Ek het ’n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here. Toe was ek nie meer net Eva, die een wat die sonde in die wêreld gebring het nie. Skielik was ek Eva, die moeder van al die mense. Ek het die wonder beleef dat God iets van sy groot skeppingsmag in my ingeplant het, sodat ek ook op ’n manier medeskepper van lewe kan wees. Van daardie dag af het die son weer vir my begin skyn, was die lug weer blou, en die blare weer groen. Hoe mooi is die wêreld nie! Hoe goed is God nie vir ons nie!”
Die tweede ma met wie ons gepraat het, is Sara, die vrou van Abraham. Sy was ’n ongelooflike negentig jaar oud toe haar seun Isak gebore is! Sy glimlag terwyl sy haar verhaal vertel. “Ek sal Isak se geboorte altyd verbind aan die trou van God. Moederskap het my baie jare lank ontwyk. Daar in Ur het almal vir my laat verstaan dat ek die gode kwaad gemaak het, dis dié dat ek kinderloos is. Ek het my eers nie daaraan gesteur nie, maar jy weet mos hoe dit is. As almal ’n ding vir jou sê, begin jy dit later selfs teen jou eie beterwete in glo. Abraham – my man – het baie lank aan my gewerk voordat ek ophou wroeg het oor die saak. Ek moes later maar net aanvaar dat ek sonder kinders sal bly. En toe kom die roeping van die Here dat ons na ’n ver land moes trek, en dat Hy vir ons ’n groot nageslag sal gee. Ek en my man was so opgewonde, ons kon nie wag dat die swangerskap moes kom nie. Maar dit het weggebly. Ons was al hoe lank in die beloofde land, en steeds het niks gebeur nie. Dit was moeilike tye vir my en my man, en ek was nogal bitter, moet ek erken. Ek het gedink God speel kat-en-muis met my. Net mooi toe ek uiteindelik aanvaar het ek sal nie kinders hê nie, kom Hy met die belofte van ’n groot nageslag, sodat die hoop weer opgevlam het. En toe gaan die jare verby, een na die ander, totdat ek verplig was om wéér te berus. Want as jy ’n vrou van diep in die tagtig is, is die kans dat jy ’n baba van jou eie sal hê, nul.
“Toe, op ’n dag, kom hier drie mans aan – ons het eers later besef dat dit God self was – en kondig doodluiters aan dat ek oor ’n jaar ’n babaseuntjie sal hê. Ek het sommer kliphard uitgebars van die lag. Maar ’n jaar later was my lag-kind, klein Isakkie daar, net soos die Here gesê het. Hy het woord gehou, al het dit baie langer geneem as wat ek gedink het. Partykeer, dink ek, wag God aspris so lank, sodat ons goed moet weet dat dit nie ons eie prestasie is nie, maar net sy werk wat iets laat gebeur.”
Sara se kleinseun Jakob is met Lea getroud. Lea is die oudste van twee susters. Haar suster Ragel is ook Jakob se vrou. “Ons het almal geweet Jakob is nie lief vir my nie. Trouens, hy wou nooit met my getrou het nie. Hy wou vir net Ragel gehad het – hy het sewe jaar vir haar gewerk, weet jy. Maar my pa was jammer vir my, toe laat hy my stilletjies Ragel se plek by die huwelik inneem. Die stomme Jakob was verpletter toe hy ná ons huweliksnag agterkom ek is nie sy lieflike Rageltjie nie. Hy het geëis om Ragel ook te kry. Hulle is presies een week na ons getroud. Net vir een kort wekie het ek hom vir myself gehad. Daarna was dit net Ragel. Ek moes letterlik soebat dat hy aan my ook aandag gee.
“Maar die Here sien sulke dinge raak. Hy het gesien dat Jakob my nie liefhet nie, toe gee Hy vir my seuns, en nie vir haar nie. My ses pragtige seuns en een dogter is vir my die lewende bewys dat God ’n sagte plekkie het vir hulle wat swaar kry.”
Die vierde vrou met wie ons gesels het, is Hanna, die vrou van Elkana. “Ek was jare lank kinderloos, en dit was vir my bitter, want my man se ander vrou, Peninna, het my nie toegelaat om dit vir een enkele oomblik te vergeet nie. Sy het enige moontlike en onmoontlike kans aangegryp om haar steke in te kry. Die ergste was wanneer ons elke jaar na Silo toe gegaan het vir die fees. Dan het sy en haar kinders natuurlik ’n groter deel van die offervleis as ek gekry, en dink jy sy het my dit ooit laat vergeet? Sy moes eers vir almal wat wou hoor en nie wou hoor nie, vertel hoe jammer sy kwansuis vir Elkana is omdat hy so baie vleis vir haar en haar kinders moes gee. Dan kyk sy na my en sê sy wens sy was soos ek wat nie so baie offervleis nodig het nie.
Ek weet nie hoekom sy op my jaloers was nie, want sy het tog seuns en dogters gehad en ek nie. Ek sou dink dit moes vir haar genoeg gewees het. Miskien het sy gesien Elkana is baie lief vir my. In elk geval, ek kon die hartseer nie langer vir myself hou nie, en toe gaan ek na die tempel en maak ’n gelofte aan die Here dat as Hy aan my ’n seun gee, ek hom sy lewe lank aan die Here sou teruggee. Die ou priester Eli het gedink ek is dronk, want ek het vreeslik lank en innig gebid daar in die tempel, en baie gehuil.
En toe, wonder bo wonder, raak ek swanger! Dit was ’n dierbare ou seuntjie; ’n volmaakte geskenk van die Here af. Hy het my gebed verhoor. Dis wat moederskap vir my beteken: dat God my nood gesien het, en my gebed verhoor het. Ek het die klein Samuel na Silo toe geneem toe hy oud genoeg was, soos ek aan die Here belowe het, en hy is ’n wonderlike kind. Ek is baie trots op hom. Ek dink hy gaan dit nog ver bring. En die beste van alles is dat die Here dit nie daar gelaat het nie. Hy het ná Samuel se geboorte vir my nog drie seuns en twee dogters ook gegee. Wonderlik, nie waar nie?”
Toe ons met Maria die moeder van Jesus gaan gesels het oor wat moederskap vir haar beteken, was sy vir ’n lang ruk stil. Sy het ’n grys haarlok agter haar oor ingedruk en in die niet gestaar. Baie emosies het oor haar gesig gespeel terwyl sy teruggedink het aan die tyd toe Jesus nog op aarde was. Uiteindelik antwoord sy: “Om ma van die Here Jesus te wees, het baie meer van my gevra as wat ek ooit besef het. Gelukkig het ek dit nie goed verstaan toe die engel die boodskap aan my gebring het dat ek God se Seun in die wêreld sal bring nie, want dan het ek miskien kop uitgetrek. Ek was destyds opgewonde en bang tegelyk. Hoe gaan ons Hom grootmaak? Wat moet ons Hom leer oor Wie Hy is?” Sy glimlag. “Dit was op die ou end die maklikste: om Hom groot te maak. Hy was ’n soet kind, van die begin af, en baie hulpvaardig in die huis. Maar ek en my man het moeilik gehad. Ons moes Egipte toe uitwyk om Herodes se moordbendes te ontkom. En toe ons later teruggekeer het, het die vrees maar altyd in my agterkop gesit.
“Die moeilikste vir my en my man – en ons ander kinders – was om te begryp dat Hy anders is, en ander prioriteite as ons het. Ek onthou een keer goed, toe ons saam Jerusalem toe was vir die fees. Jesus was maar pas twaalf, en in sy element. Hy het in die tempel geboer. Ná die fees is ons terug. Ons dag Hy is by die ander kinders in die groep, maar daardie aand toe ons wil gaan slaap, ontdek ons Hy is nooit weg uit Jerusalem nie. Ons moes net so omdraai om Hom te gaan soek. Ek daar kry ons Hom, ná drie dae van angs, rustig in die tempel besig om met die skrifgeleerdes oor die dinge van God te praat, en baie verbaas omdat ons bekommerd was oor Hom.
“Ek is bitter trots en dankbaar om Jesus se ma te kan wees. Ek dink dis die grootste voorreg wat God aan enige mens kón gee. Dit was wonderlik om te hoor hoe Hy vertel van God se wêreld, en om te sien hoe vol liefde Hy is: hoe Hy mense help, kos gee, gesond maak, raad gee, troos. Maar langs die pad het my hart stukkend gebreek. Weet jy hoe voel ’n ma as sy haar seun aan ’n kruis vasgespyker sien hang? Daardie dag het ek gewens ek is dood.” Sy glimlag en tel haar hande op. “En nou lewe Hy vir altyd. As my tyd kom en ek lê my kop vir oulaas neer, gaan ek na Hom toe. Hy het vir my ook ’n plekkie in die hemel reggemaak. Dís die wonderlikste van alles.”
In die Bybel is hierdie vroue se verhale opgeteken in Gen 3:1-4:1; Gen 18:1-15 en 21:1-7; Gen 29; 1 Sam 1; en Luk 1 en 2. Van Tabita lees ons in Hand 9:36-43.
Views: 32