Ouerskap is nie kinderspeletjies nie. Dit sal enige pa of ma geredelik erken. Maar hoekom het party mense wonderlike, voorbeeldige kinders, en ander nie? Bybelkoerant het met ’n paar prominente, diep-gelowige ouers gaan praat oor die redes waarom hulle kinders die spoor byster geraak het.
Die hoëpriester Eli kry ’n veraf-kyk in sy oë as hy oor sy twee seuns Hofni en Pinehas praat. “Ek het sulke hoë ideale vir hulle gehad.” Hy sug en vryf oor sy oë voordat hy verder praat: “Een van hulle moes my opvolg as hoëpriester, maar ek is bevrees, dit sal nie deug nie. Hoe lief ek ook al vir hulle is, ek kan net nie sien dat dit kan gebeur nie. Hulle maak misbruik van hulle posisie, pers die mense af, en nou hoor ek dat hulle selfs by die vrouens slaap wat die huis van God aan die kant maak! Ek praat baie met hulle daaroor, maar hulle luister nie vir my nie. Dalk was ek te sag met hulle. Miskien is praat alleen nie genoeg nie?”
Koning Dawid stem met hom saam. “Ek het vir my kinders baie liefde gegee, maar liefde alleen kan nie jou kinders van verkeerde paaie af hou nie. Hulle het ’n ferm hand nodig, en jy moet ’n voorbeeld stel wat hulle kan navolg.” Sy kop hang effens as hy vertel: “Ek het nie altyd ’n goeie voorbeeld vir my kinders gestel nie. In ’n tydperk van waansin in my lewe het ek egbreuk gepleeg, en selfs moord. Ek het gedink dit is verby toe ek my sonde voor die Here bely het, maar dit was nie. My seuns het gesien wat ek doen, en my voorbeeld gevolg. Eers het my oudste seun Amnon sy halfsuster Tamar verkrag. En toe het Tamar se broer Absalom vir Amnon vermoor. En dit was maar die begin. Nee, jou voorbeeld praat baie harder as jou woorde. Liefde is nodig, maar dis nie genoeg nie. Sorg dat jy só leef dat jou kinders jou kan volg.”
“Maak tyd vir jou kinders,” is die siener-rigter Samuel se raad. “Ek dink dis die fout wat ek gemaak het. Ek was so besig om die volk te lei, dat ek my kinders verwaarloos het. Hulle is nie soos ek nie. Ek hoor hulle aanvaar omkoopgeskenke en verdraai die reg. Dis nie hoe ek hulle geleer het nie. Maar nouja, ek was ook maar nie genoeg daar om hulle te leer nie.”
Samuel se pa Elkana benader die saak uit ’n ander hoek. “Die beste ding wat jy vir jou kind kan doen, is om vir sy ma lief te wees,” is sy besliste mening. En as ’n mens na sy voortreflike seun Samuel kyk, moet sy mening heelwat punte tel. Elkana sê ’n kind moet verstaan dat hy of sy nie die enigste mens op aarde is wat saak maak nie. As jou kinders weet jy is lief vir hulle, maar dat jou vrou ’n baie besondere plek in jou hart het wat hulle nie kan inneem nie, sal hulle leer dat die wêreld nie om hulle draai nie, en dat hulle ander mense se gevoelens en standpunte moet respekteer.
’n Mond vol moenies
Die hoof van koning Dawid se weermag, genl Joab ben Seruja, het onlangs ’n lysie opgestel van dinge wat ouers verkeerd doen, met hartverskeurende gevolge vir hulle kinders. Hy noem dit “Twaalf reëls om misdadige kinders groot te maak.” Hy sê in sy werk met die misdadige elemente in die samelewing het hy agtergekom dat daar sekere basiese foute is wat ouers oor en oor maak. Hy hoop dat sy “Twaalf reëls” ouers tot hulle sinne sal bring. Sy reëls lui so:
- Begin van kleins af om vir ’n kind alles te gee wat hy wil hê. As hy groot word, sal hy glo die wêreld skuld hom iets.
- As hy lelike woorde optel en gebruik, lag vir hom. Hy sal dink hy is baie oulik.
- Moenie vir hom enige geestelike opvoeding gee nie, wag liewer tot hy mondig is sodat hy self kan besluit.
- Moenie die woord “verkeerd” gebruik nie. As hy hoor dat hy iets verkeerd doen, kan hy dalk ’n skuldkompleks ontwikkel.
- Tel alles op wat hy agter hom laat rondlê. Doen alles vir hom sodat hy gewoond kan raak daaraan om die skuld vir alles wat hy doen op ander mense te pak.
- Laat hom toe om met enige iemand maats te maak en na enige een se onsin te luister. Maak seker dat die borde en bekers en messegoed silwerskoon is, maar laat hom toe om sy verstand vol gemors te prop.
- Argumenteer gereeld voor die kinders. Dan sal hulle nie so geskok wees as die huis eendag opbreek nie.
- Gee vir jou kind al die geld wat hy nodig het. Moet hom nooit toelaat om vir sy eie geld te werk nie.
- Gee vir hom elke ding wat hy wil eet of drink en al die gerief wat hy wil hê. Sien toe dat al sy sinlike begeertes so gou as moontlik bevredig word.
- Vat altyd sy kant van die saak teen sy leermeesters en bure en die soldate. Hulle is in elk geval bevooroordeeld teenoor jou kind.
- Wanneer hy regtig in groot moeilikheid beland, verskoon jouself deur te sê jy kon nog nooit iets met hom uitrig nie.
- Maak jouself gereed vir ’n leeftyd se hartseer, jy gaan dit verseker hê!
Lees meer oor hierdie mense en hulle kinders in 1 Sam. 1:1-8, 19-23; 2:11-36; 8:1-3 en 2 Sam. 11-18.