deur ons huwelikskenner, Elkana ben Jerogam
Abram (75) en sy aanvallige vrou Sarai (65) is al baie lank gelukkig getroud, maar nou het hulle huwelik ’n onseker tydperk ingegaan. Hulle is albei boorlinge van Ur aan die oewer van die Eufraatrivier, maar hulle het onlangs hulle vaderland verlaat en hulle in Kanaän kom vestig. Tydens die pas-afgelope groot droogte het hulle na Egipte uitgewyk, maar nou is hulle terug by Bet-El. Die egpaar het nie kinders nie.
Haar beurt:
Ek het my man hartstogtelik lief, maar ná wat in Egipte gebeur het, weet ek nie meer of ek hom kan vertrou nie. Ek het álles vir hom opgeoffer: my huis, my vriende, my familie, alles, en saam met hom die vreemde ingetrek, want ek wil nêrens anders wees as aan sy sy nie.
Daarom was dit vir my so ’n groot skok toe hy in Egipte leuens begin vertel het om van my ontslae te raak. Hy het vir almal wat wou en nie wou hoor nie, vertel ek is sy suster, want hy was kamma bang die Egiptenare maak hom dood om my in die hande te kry. Kan jy dit glo? Ek het nooit besef hy is so selfsugtig nie. Hy het nie omgegee dat ek in die farao se harem beland nie, net solank niemand hom pla nie. As ek nie op die ou end besluit het om vir die farao te vertel dat ek eintlik Abram se vrou is, was ek nou nog in die farao se paleis. Maar dis seker wat Abram wou gehad het.
Ek weet hy wil baie graag kinders hê, en ek kon dit nie vir hom gee nie. Tot dusver wou hy nog nooit ’n tweede vrou trou sodat hy só kinders kan kry nie. Hy sê hy is ’n een-vrou-man. Seker dié dat hy in Egipte van my ontslae wou raak, want as ek uit die pad is, sal hy maklik ’n ander vrou kan kry om vir hom ’n seun te gee.
Ek weet nie wat om te doen nie. Ek sien hy loer so na my Egiptiese slavin. Miskien moet ek haar vir hom as vrou aanbied, dat hy by haar kinders kan hê. Dalk kom sy hart dan tot rus en probeer hy nie meer van my ontslae raak nie.
Sy beurt:
Ek weet nie of ons huwelik weer sal regkom nie. My vrou het besluit ek wil haar nie meer hê nie, en niks wat ek doen of sê, kan dit verander nie. Ek weet nie waar sy daaraan kom nie, want ek is lief vir haar. Maar sy het dit in haar kop gekry dat ek teleurgesteld is in haar omdat sy nie vir my ’n seun kan gee nie, en nou sien sy in alles wat ek doen, tekens dat ek haar verwerp het.
Die jongste voorval was toe ons in Egipte was. Ons situasie was baie moeilik, want as vreemdelinge het ons geen wetlike beskerming daar gehad nie. Toe die manne baie belangstelling in my vrou begin toon, het ek geweet ek sal iets moet doen, anders is dit klaarpraat met my. Sy is ’n besonder aantreklike vrou. As iemand haar as vrou wou hê, sou dit die maklikste ding op aarde wees om my dood te maak om haar te kry. Ek het toe vertel dat sy my suster is. Dit is nie ’n leuen nie; sy is my halfsuster. Maar nou verwyt sy my dat ek leuens vertel het om van haar ontslae wou raak, en dit maak my baie seer.
Dat my sogenaamde leuen gewerk het en ek vandag nog lewe, maak geen indruk op haar nie. Die jongste plan wat sy het, is dat ek haar slavin as vrou moet vat sodat ek ’n erfgenaam kan hê. Ek wil nie, want ek dink dit sal ons situasie net verder kompliseer, maar sy is so behep met haar kinderloosheid dat ek seker op die ou end sal moet toegee ter wille van die vrede.
Ons berader se beurt:
Dit is nie ongewoon dat ’n lang en oënskynlik gelukkige huwelik ook in ’n krisis kan beland nie. Dikwels gebeur dit wanneer die egpaar ’n nuwe lewensfase ingaan (daar kom kinders, of die kinders gaan uit die huis, of die man tree af), of wanneer hulle omstandighede verander, soos wat met Abram en Sarai die geval was. Hierdie veranderde omstandighede plaas baie druk op die egpaar, en dit is dan dat emosies wat jare lank onderdruk is, skielik kan opvlam, soos in hierdie huwelik gebeur het. Sarai loop al vir jare met ’n skuldgevoel omdat sy nie vir haar man kinders kan gee nie. Terwyl alles “normaal” was, kon sy dit verwerk, maar in die vreemde, sonder die ondersteuning van haar familie en vriende, het hierdie seer in haar lewe weer na vore gekom. Dit kleur alles wat sy waarneem en het nou by haar ’n obsessie geword. As sy nie daartoe kom om haar kinderloosheid te aanvaar nie, sal die huwelik nie regkom nie. Dit is egter ’n baie komplekse probleem wat slegs met baie liefde en geduld van haar man se kant oorkom kan word.
Abram, aan die ander kant, toon nie insig in sy gedrag in Egipte nie. Solank hy homself verontskuldig en volhou dat hy korrek opgetree het, sal die leuen soos ’n muur tussen hulle bly. Hy sal moet besef dat hy sy vrou in die steek gelaat het, en dat dit haar baie seergemaak het.
Sarai se oplossing vir haar kinderloosheid is, om die minste te sê, onverstandig. Om in ’n huwelik wat reeds onder spanning is (of in enige ander huwelik!), ’n derde persoon in te bring, voorspel oneindig baie probleme. Dit bekommer my dat Abram ter wille van die vrede oorweeg om wel met die slavin te trou.
Aan die pluskant is die feit dat Abram en Sarai baie lief is vir mekaar, al wantrou hulle mekaar nog. Die rypheid wat die ouderdom bring, en veral hulle opregte geloof in God, behoort hulle deur dié krisis te kan dra.
-
Lees meer oor hierdie stormagtige tyd in Abram en Sarai se huwelik in Gen. 12:10-20 en Gen. 16. Oor ons huweliksberader Elkana en die besondere wyse waarop hy sy vrou ondersteun het, kan jy meer lees in 1 Sam. 1 en 2.
Views: 63






