deur Salomo ben Dawid

A van M: My man is ’n regte korrelkop en ’n diktator, en baie suinig daarby. Hy laat hom deur niks of niemand voorskryf nie, en verdra dit glad nie as ek hom wil reghelp nie. Dit laat my soms erg in die verleentheid. Wat moet ek maak? Ek het al baie kere probeer om met hom te praat, maar ek het al so dikwels aanstoot gekry dat ek dit nou liewer los. Die laaste keer was dit so erg dat ek bang was hy kry ’n hartaanval. Dit pla my egter, want ek het by my ouers geleer ’n mens moet gasvry wees en ander mense help waar jy kan, maar dit laat my man glad nie toe nie. Hy sê hy ontvang nie vreemdes in sy huis nie, want hulle wil net sy kos opeet. Ons is nou drie jaar getroud.

Antw: Liewe Mevrou, dit lyk nie vir my jy gaan ver kom deur jou man te konfronteer nie (soos jy al self agtergekom het). Jy sit nou met ’n probleem waaraan jyself min kan doen. Sy ouers moes hom reg geleer het toe hy klein was, maar dit lyk my dit het nie gebeur nie, en nou is sy karakter klaar gevorm, om nie te sê misvorm nie. Ongelukkig is dit so dat jou man baas is in die huis. As jy hom openlik teengaan, gaan jy groot probleme kry. Mense soos jou man raak net koppiger as hulle teenstand kry. My raad is dus dat jy aan hom onderdanig moet wees, veral as daar ander mense by is. Kyk liewer hoe jy mense kan help sonder om jou man te betrek (en sonder dat hy dit weet). Sterkte.

Lees van so ’n man en hoe sy vrou dit hanteer het, in 1 Sam 25. Die verhaal het tog ’n mooi einde vir die vrou.

 

J van E: Ek is ’n slaaf van ’n baie belangrike man en bestuurder van sy huishouding. My baas beweeg in hoë kringe, en sy werk neem hom dikwels van die huis af weg. My baas het ’n baie aantreklike vrou wat heelwat jonger as hy is. Sy is baie eensaam, want hy neem haar nie saam op sy reise nie. Sy soek in die laaste tyd al meer my geselskap op, en sy het al ’n paar keer laat blyk dat sy nie ongeneë sal wees om met my ’n verhouding aan te gaan nie. Ek het nie op haar toenadering gereageer nie en gehoop dit sal ophou, maar nou raak sy openlik uitlokkend. Dit is duidelik dat sy my bed toe wil vat. Ek weet nie meer wat om te doen nie.

Antw: Sjoe! Ek is bly ek is nie in jou skoene nie. Die beste sou wees om alle kontak met haar te vermy, veral as jou baas nie tuis is nie. Wees openlik met haar en verduidelik aan haar hoekom jy nie aan haar versoek kan voldoen nie. Indien dit nie help nie, kan jy vir jou baas vra om jou werk so te verander dat jy nie so baie in die huis hoef te kom nie, al sou dit beteken dat jou werksomstandighede daardeur nadelig geraak word. Moet net onder geen omstandighede aan haar eise toegee nie. Dit sal ’n onreg teenoor haar man wees, maar meer nog, dis sonde teen God.

Lees hoe Josef ’n soortgelyke situasie moes hanteer in Gen 39.

 

I van S: Ek is raadop met my man. Ons plaas grens aan ’n baie mooi stukkie aarde, en my man wil bitter graag dié lappie grond hê, maar die eienaar van die grond wil dit onder geen omstandighede aan hom verkoop nie. Nou is my man verpletter. Hy het alle belangstelling in die lewe verloor. Hy lê net heeldag in die bed en weier om op te staan. Hy wil nie eens sy kos eet nie.

Antw: Mevrou, ek is bevrees jy kan nie veel aan die saak doen nie. Jou man moet maar net groot word en besef dat ’n mens nie alles in die lewe kan kry wat jou hart begeer nie. Dis ’n moeilike les om te leer as jy eers groot is, maar as jy dit nie verstaan nie, bring dit baie ongelukkigheid. Moenie jou man pamperlang nie, want dit sal hom net in sy kwaad sterk. As hy nie wil eet nie, laat hom begaan. Hy sal wel later van die honger sy eetstaking laat vaar en besef hy maak dit net vir homself en almal om hom onaangenaam met sy kinderagtige optrede.

Dis jammer koningin Isebel het nie Salomo se raad gevolg nie. Kyk wat sy gedoen het in 1 Kon 21:1-16.

Oor koning Salomo, die skrywer van hierdie artikel, se besondere wysheid kan jy meer lees in 1 Kon. 3:2-28.

image_pdfimage_print

Views: 11

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.