Kersfees het te luuks geword

Ek wil graag vandag ’n klippie uit my sandaal haal wat my die afgelope aantal jare toenemend druk: die manier waarop ons mense Kersfees vier. Waar is die dae toe ’n eenvoudige, opregte seënwens met die herdenking van die geboorte van ons Here Jesus gewaardeer en genoeg was? Dra ons woorde dan nie meer gewig nie? Hoekom moet ons ons goeie wense met ’n klomp duur geskenke ondersteun? Dit lyk partykeer vir my of dit eerder óns is wat gelukgewens moet word, so asof Christus se geboorte ons prestasie is.
Maar goed, as dit dan nou móét, gee ’n klein geskenkie as blyk van jou waardering vir die ander persoon: ’n baksel warm broodjies, of ’n potjie heuning, of ’n mooi bossie blomme. Maar om ’n splinternuwe perdekar vir jou kind vir Kersfees te gee, is regtig nie van pas nie. Dit tas die hele karakter van ons Kersfees aan, en jou kind sal op dié manier moeilik verstaan dat Kersfees om Christus gaan, en nie om presente nie. Ek is seker die winkeliers glimlag breed oor hierdie ontwikkeling, maar ek wonder of God daaroor glimlag.
Ek dink die kern van die probleem is dat ons te materialisties geword het. Ons meet die waarde van alles aan hoe duur dit is. So ’n benadering verwring ons sin vir waardes, en ons verbeel ons later dat iets net die moeite werd kan wees as dit ten duurste aangeskaf is. Op die ou end meet ons mense ook so: ryk mense word in ons oë belangriker as arm mense.
Nee wat, kom ons los dié materialistiese ingesteldheid, en kom ons vier weer Kersfees soos dit hoort: sober, dankbaar-bly en in verwondering oor God se groot liefde vir ons, ’n liefde wat Hom uit die hemel gedryf het om vir ons mens te word.
Jakobus
 

Dis nie die moeite werd nie

Aan al die jong dames wat dink hulle kan met die liefde speel, wil ek net sê: moenie. Dis nie die moeite werd nie. Julle gaan baie meer as net julle vingers verbrand, en vir die res van julle lewe met die pynlike herinneringe moet saamleef, soos ek.
Dina bat Jokob
 
Ons wenbrief kom van Boas ben Salmon van Betlehem. Baie geluk! Ons stuur aan jou ’n geskenkbewys vir twee paar sandale, met die komplimente van Betlehem Skoene.

Wat is ’n huis sonder ’n vrou?

Toe ek vanoggend na my vrou kyk, kom daar ’n oneindige dankbaarheid in my op, en ek móés net na my pen gryp. Hier is die resultaat:
 
’n vrou
’n huis
’n wêreld
’n lewe –
jy!
Boas ben Salmon
 

Rus

Toe ek vanoggend opstaan en die nuwe dag verf al die kleure van die reënboog oor die hemelruim, het die vrag van bekommernis oor alles en nog wat sommer van my gemoed gerol. Ek het my hande in die lug gegooi en geroep: “Hoe groot is U, Here!” En in die besef van die Here se grootheid het ek opnuut verstaan hoe klein ek is, en dat ek my probleme en sorge met groot vrede in God se hande kan laat. Toe skryf ek ’n nuwe lied:
 
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg
oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ’n kindjie wat by sy moeder
tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
Wag op die Here, Israel,
nou en vir altyd.
Dawid
 

Moenie met die stroom saamswem nie

Een van die siektes van ons tyd is ruggraatloosheid; ’n houding van “almal maak so, daarom gaan ek ook”. Dit is natuurlik baie maklik om so te lewe, want jy hoef nie standpunt in te neem oor enige saak nie, en jy hoef nie op te staan vir wat jy glo nie. So dikwels sien ek dat mense nie meer vra na wat reg is en wat God in die Skrifte eis nie, maar eenvoudig kyk wat ander doen en wat die minste probleme in die samelewing sal besorg.
In die goeie ou dae toe ons nog in Juda gebly het, kon so ’n uitkyk jou miskien nog gehelp het om die regte ding te doen. Ons het toe immers in ’n samelewing gewoon waar die Skrifte as norm vir die gemeenskapslewe gegeld het. Maar dié dae is verby. Ons is nou in Babel, en die Skrif geld nie hier as norm nie. Mense leef volgens ’n ander kode, en jy kan nie meer kyk wat ander mense doen om te besluit of ’n saak reg is of nie. Jy moet vra wat sê God.
Ek gee toe dat ’n mens nie in die samelewing kan leef asof jy die enigste een is wat ’n sê het nie. Ek weet ons moet ander mense in ag neem en nie ons geloof aan hulle opdring nie. Maar in die proses mag ons nie ons geloof en ons Here versaak nie. Ek glo met my hele hart dat ons selfs hier in die vreemde aan God getrou kan bly in woord en daad. Goed, dit kan jou moontlik laat uitstaan, en hier en daar kan dit ongemaklik wees omdat jy nie inpas en wegraak tussen die massas nie. Maar as ons aan die God van die hemel getrou wil bly, het ons nie ’n keuse nie.
Daniël
 
 
  •  Jy kan meer lees oor wat agter hierdie briewe lê in Jak 2:1-13 en 5:1-6; Gen 34; Rut 4; Psalm 131; en Dan 1.
image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.