Liewe Abigajil
Ek het ’n baie aantreklike jongman ontmoet, en ek het baie lief geword vir hom. Ek kan nie dink dat ek dalk eendag nié met hom sal trou nie. Ek is seker hy is ook lief vir my, maar hy het nog nie van trou gepraat nie. Kan ek maar die saak met hom bespreek? Of sal dit te voorbarig wees? Aster op E.
 

Antw: Ek glo daaraan dat ’n vrou die vrymoedigheid moet hê om die bal aan die rol te sit as die man effens traag is om die groot vraag te vra, maar wees tog baie versigtig, want dit kan gebeur dat jy jou vingers lelik verbrand. Die meeste mense aanvaar dat die inisiatief van die man behoort te kom, en as jou vriend ook so dink, kan ’n te dapper benadering hom dalk afskrik. Maar daaroor sal jy self moet oordeel.

Jy moet ook verstaan dat die huwelik nie net ’n saak tussen jou en jou vriend is nie. Dit raak jou én sy families, en daarom sal hy sy pa moet versoek om met jou pa oor die huwelik te onderhandel. Uiteindelik is dit julle pa’s wat die knoop moet deurhak, nie julle twee nie.
 
 
Liewe Abigajil
Wat moet ek maak? Ek is lief vir ’n meisie wat in dieselfde dorp as ek woon, maar ek kan nie ’n bruidskat bekostig nie. Haar pa vereis 50 sikkels silwer, en ek het net 20. Ek weet 50 sikkels is nie buitensporig nie, maar as ek moet spaar tot ek soveel het, sal my liefste meisie en ek albei stokoud wees! Ek het dit al vir haar broer gesê, maar hy sê net dis my probleem, nie syne nie. Hartseer op J.
 
Antw: Die bruidskat is dikwels ’n groot kopseer vir die bruidegom, veral as hy nie ’n pa het wat bereid of in die vermoë is om hand by te sit nie. My raad aan jou is om die saak rustig met jou pa te bespreek, sodat julle twee saam na jou vriendin se pa en broer kan gaan. Hoekom maak julle nie ’n aanbod aan hulle nie? Miskien kan jy vir jou vriendin se pa werk en so die bruidskat afbetaal, soos ons voorvader Jakob destyds gedoen het om Lea en Ragel as vrouens te kry. Waar ’n wil is, moet ’n weg wees. Sterkte!
 
Liewe Abigajil
Ek en my man is nou al drie maande getroud, en ons is baie gelukkig. Nou kom sy ouers by ons eet, en ek is onseker wat die regte ding sal wees om te doen. Ek het gedink ek moet hulle en my man aan tafel bedien, en dan eet ek in die kombuis, maar my man sê hy sal die ete bedien. Ek moet net die kos maak. Nou voel dit vir my hy is skaam vir my en soek net ’n verskoning om my uit die pad uit te kry. Ek het my oë dik gehuil, maar hy wil nie rede insien nie. Verder weet ek nie wat om te maak as hulle by ons huis aankom nie. Senuweeagtig op B.
 
Antw: Wanneer vername gaste by jou kom eet, is dit die regte ding dat die man as hoof van die huis self die gaste bedien. Hy eet ook nie saam met hulle nie. Hy bly by hulle staan en sorg dat hulle alles het wat hulle nodig het om die ete te kan geniet. In só ’n geval is jou rol tot die kombuis beperk.
 
Ek weet nie hoe julle verhouding met jou skoonouers is nie, maar ek sou tog dink dat só ’n formele opset effens oordoen is. Hulle is nou wel gaste, maar hulle is ook familie. Myns insiens is die etenstafel die ideale plek waar julle saam kan kuier. Natuurlik sal jou man die leiding by die ete neem en vir sy ouers die ereplekke aan tafel gee, toesien dat hulle genoeg van alles het, ens. Maar dit beteken nie dat jy tot die kombuis verban word nie! Sorg net dat jy op die agtergrond bly en beskeie is, sodat almal sal weet jou man is die hoof van die huis.
 
As jou ouers by die huis aankom, moet jou man hulle ontvang. Sorg dat daar ’n waterkruik gereed is sodat hulle die stof van hulle hande en gesig kan af spoel. As julle ’n slaaf het, moet hy die water oor hulle hande gooi en hulle voete ook was; so nie, sal dié nederige takie joune word. Jou man wys dan die plekke aan tafel aan, doen die tafelgebed (hy kan sy pa ook vra om dit te doen) en dan kan julle saam eet. Sterkte met die voorbereidings van die maaltyd, en geniet dit!
 
Kyk na Gen 18:1-16 om te sien hoe Abraham vername gaste ontvang het. In Luk 7:36-50 lees ons weer hoe Jesus by ’n maaltyd was waar die nodige etiket nie nagekom is nie. Abigajil, die skrywer van hierdie artikel, is ’n vrou wat self verstandig gelewe het. Jy kan meer oor haar optrede in moeilike omstandighede lees in 1 Sam. 25.
image_pdfimage_print

Views: 16

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.