‘n Opiniestuk deur Lidia. Sy is ‘n suksesvolle sakevrou en tekstielhandelaar in eksotiese materiale. Sy is die leier van die gemeente in Filippi.
 
Is jy een van die skoner geslag wat glo ’n man moet gepamperlang word? Of dink jy dalk dat jy nie jou man se gewillige slavin hoef te wees nie omdat jy ook ’n voltydse beroep het net soos hy? Of – en dit gebeur tog ook, nie waar nie? – is jy dalk een van die vroue wat glo ’n man moet behoorlik kortgevat te word?
 
Wat is die posisie van die vrou? Is sy net bedoel as ’n hulp vir die man, of het sy die reg om haar plek langs hom in te neem?
Ek het met ’n hele paar prominente vroue oor dié netelige kwessie gaan praat, en my eerste indruk was dat dit hier ’n geval is van soveel hoofde soveel sinne. Maar mettertyd het daar tog vir my ’n patroon te voorskyn gekom. Maar oordeel gerus self …
 

Dit het met die sondeval gekom

Die eerste vrou met wie ons gesels het, is Eva. Ek het haar in ’n grot opgespoor. Sy was alleen, want manlief Adam was weg op soek na iets om te eet. “Vandat ons uit die Tuin van Eden weg is, is dit glad nie meer so eenvoudig om genoeg kos te kry nie,” verduidelik Eva, en haar oë kry ’n veraf kyk. “Dit was wonderlik in die Tuin van Eden,” sê sy na ’n ruk, en verduidelik: “Ons het geen moeite gehad om genoeg kos te kry nie. Dit het gevoel of die bome ons soebat om hulle vrugte te eet. En daar was ’n verskeidenheid wat jou asem weggeslaan het. Ons het toe baie meer tyd vir mekaar gehad. Nou is dit net werk, werk, werk van die môre tot die aand.”
 
Ek het gewonder waar dié vertelling gaan uitkom, want ek het gedink sy het my aanvanklike vraag vergeet. Maar ek was verkeerd. Eva het presies geweet wat my vraag was, maar haar antwoord was nie ’n eenvoudige een nie. Dit was verweef met haar verlede.
 
“Ek was eintlik baie onnosel, as ek nou daaraan terugdink.” Sy skud haar kop treurig. “Daar was so baie vrugte om van te kies, en toe loop staan en proe ek aan die vrug van die boom van alle kennis. Ek het geweet dis verbode, maar ek was nuuskierig. Dit het nogal lekker gesmaak, en ek het vir Adam ook een saamgevat. Dis dáár waar die moeilikheid begin het. Adam het baie verander. Ek dink hy het my nooit regtig vergewe vir die ellende wat ek oor ons gebring het nie. Voor daardie dag was ons – hoe sal ek dit stel? – gelyk. Ja, ons was gelykes. Een was nie belangriker of hoër as die ander een nie. Maar van daardie dag af het hy begin om oor my baas te speel. Hy kan party dae sommer so nors wees en dan moet ek in my spoor trap. Dis net: ‘Doen dit!’ en: ‘Doen dat!’ en dan moet ek spring anders is die duiwel los, glo vir my. En as ek te moeg is om iets te doen, sê hy net dis nie sy probleem nie, want dis nie hý wat besluit het om van die verbode vrugte te eet nie. Hy het natuurlik net so lekker saam geëet, maar daarvan vergeet hy gerieflikheidshalwe.”
 
Ek sal nooit die weemoedige glimlaggie op Eva se gesig vergeet daar in die grot nie. Maar haar verhaal het my een ding laat besef: die vrou was nie van die begin af die man se ondergeskikte nie. Dit het met die sondeval gekom. Dís waar die spanning tussen man en vrou begin het, en omdat die man fisies sterker as die vrou is, is dit net te verwagte dat hy oor haar sal baasspeel. Of dit die vrou se verdiende loon is soos Adam beweer, is vir my nie so ’n uitgemaakte saak nie.
 
 

Hy is die hoof van die huis, en waar hy gaan, gaan ek

Maar kan die verhouding tussen man en vrou dan gelukkig en mooi ook wees, ten spyte van die ongelykheid? Ek het by Sara, die vrou van Abraham, gaan kers opsteek oor dié vraag. Sy was in haar tent besig om deeg te knie vir roosterkoeke toe ek by haar aankom. Sy het my baie vriendelik ontvang en my dadelik tuis laat voel. Ek het my aan haar verkyk. Vir ’n vrou van diep in die tagtig was sy besonder aantreklik. “Dis seker omdat ek nie kinders het nie dat ek so jonk lyk,” het sy my kompliment weggepraat, maar ek kon dadelik aanvoel dat haar kinderloosheid ’n groot hartseer in haar lewe was.
 
“Jy wil nou seker weet hoe goed ons twee, ek en Abraham, oor die weg kom?” het sy my voorgespring, en toe ek knik, gesê: “Hartjie, laat ek vir jou vertel: ons kom baie goed oor die weg. Maar dis omdat ek geleer het om na hom op te sien. Hy is die hoof van die huis, en waar hy gaan, gaan ek. Dis so eenvoudig soos dit. Partykeer is dit maar moeilik, want hy maak natuurlik nie altyd presies soos ek wil nie, maar die voordeel is dat as hy die een is wat alles besluit, moet hy ook verantwoordelikheid vir sy besluite aanvaar.” Sy beduie met ’n lang vinger vir my: “Partykeer sê ek vir hom wat hy moet doen, en dan luister hy nogal vir my. Maar dit kan ’n lelike ding afgee as jy jou man voorsê wat hy moet doen, hoor. Ek het mos vir my man gesê hy moet met my slavin trou sodat sy vir ons ’n baba kan gee, en toe luister hy na my. Ek moet sê, sy is nogal nie ’n onaantreklike vrou nie, dié Hagar. Seker dié dat my ou man so maklik met my plan saamgestem het. Maar dit was ’n vrot plan, sê ek jou. Hagar het gedink sy is wie toe sy die baba kry, en dit was die begin van baie rusies in ons huis, glo vir my. Dis dié dat ek sê: laat die man die hoof van die huis wees, dan kan hý opsnork as hy ’n verkeerde besluit neem. Dis die enigste manier waarop ’n huwelik gelukkig kan wees.”
 

Hy verstaan nou dat hy nie vir my kan hiet en gebied soos hy wil, net omdat hy die man in die huis is nie

Dat Sara se resep vir húlle werk, is seker so. Maar of dit vir alle huwelike sal werk, is te betwyfel. Want nie alle vroue is bereid om soos Sara die minste te wees in die huwelik nie. Iemand wat my daarvan vertel het, is Asenat, die vrou van Josef. Sy is ’n Egiptenaar van geboorte en kyk daarom met heeltemal ander oë na die huwelik. “Kyk, in Egipte is ons vroue nie ondergeskiktes soos in die Hebreeuse kultuur nie. Ons vroue het net soveel regte soos die mans. Ons kan ook ’n besigheid bedryf en eiendom besit en handel dryf. Ons kan selfs ’n egskeiding aanhangig maak as ons nie met ons mans tevrede is nie. Hoe’s daai vir jou vir gelykheid?” Haar swart oë vonkel ondeund terwyl sy vertel: “Josef moes op die harde manier leer dat ek nie sy onderdaan is nie. Ek is sy vrou. Ek staan langs hom, nie onder hom nie, al is hy die onderkoning van Egipte. Dit was nie aldag vir hom maklik nie, want hy kom uit ’n familie waar die man alles is. Maar ek het hom reggekry. Hy verstaan nou dat hy nie vir my kan hiet en gebied soos hy wil, net omdat hy die man in die huis is nie. En hy kom nou al mooi reg,” voeg sy met ’n glimlag by.
 
Ongelukkig was Josef nie vir kommentaar beskikbaar nie; ek moes maar Asenat se woord aanvaar dat hulle verhouding gelukkig is. Maar haar verhaal het my laat dink dat kultuur ’n groot rol speel in die ongelykheid tussen die geslagte. Dit kan ook anders wees as dit waaraan ons gewoond geword het.
 

Partykeer moet ’n vrou maar ingryp om haar man van sy eie sotheid te red

Nie almal stem noodwendig met Asenat saam nie. “Onderdanigheid aan jou man is deel van ’n goeie huwelik,” verseker Abigajil, die vrou van koning Dawid, my. “Dit beteken nou ook weer nie dat jy alles wat jou man doen, gelate moet aanvaar nie. Partykeer moet ’n vrou maar ingryp om haar man van sy eie sotheid te red.” Sy knipoog vir my as sy byvoeg: “Mans kan soms baie onnosel dinge aanvang, jy weet. Hulle gebruik nie altyd hulle koppe nie, want dikwels is hulle ego’s te groot. Dan moet ons vroue maar inspring om te red wat daar te redde is. Nie dat die mans dit altyd waardeer nie, hoor!” Sy skater van die lag toe sy vertel hoe haar eerste man Nabal – hy is aan beroerte dood toe sy nog jonk was – vir koning Dawid soos ’n hond van sy plaas af weggejaag het toe hy kos kom vra het vir hom en sy manne.  Dawid was toe nog voëlvry nadat koning Saul hom uit Gibea verdryf het. “Ek het dadelik besef my man het die verkeerde persoon aangevat. Dit het mooipraat en fyn voetwerk gekos om Dawid te kalmeer, glo my. Hy wou my man sommer net daar doodmaak oor hy hom beledig het. Twee groot ego’s, en nie een van hulle gebruik hulle koppe nie, jy sien.”
 

Klaarblyklik het Hy nie gedink ons is minderwaardig nie

Ek wonder wat ons Heiland oor die saak te sê sou gehad het. Klaarblyklik het Hy nie gedink ons is minderwaardig nie, al het die hele kultuur van sy tyd dit uitgeskreeu dat net mans saak maak. Was dit dan nie Hy wat langs die vrou by die put van Sigar gaan sit en gesels het nie? En by ’n ander geleentheid het Hy ’n vrou van ’n gewisse dood gered toe Hy ingegryp het toe ’n klomp skynheilige mans haar wou stenig omdat sy owerspel gepleeg het. Die man wat saam met haar die bose daad verrig het, het natuurlik skotvry daarvan af gekom.
 

Vir Hom is ’n vrou nie ’n minderwaardige mens nie

Maria Magdalena – ook ’n vrou in wie se lewe Jesus ’n totale verandering gebring het, stem saam. Die Here Jesus het nooit op ’n vrou neergesien nie, sê sy beslis. Hy was altyd bedagsaam teenoor vroue, en het baie begrip en deernis met ons lot gehad. Sy sê sy dink dit is juis sy houding teenoor vroue wat haar aangegryp het en uiteindelik een van sy vurigste dissipels gemaak het. “In sy teenwoordigheid het jy net geweet jy is vir Hom belangrik. Vir Hom is ’n vrou nie ’n minderwaardige mens nie. Vra maar vir Maria en Marta, en Salome. Ag, vra maar vir almal wat Hom geken het. Want jy sien, Hy het nie net gekom om mans te kom verlos van hulle sonde nie. Hy het vir almal gekom, vir ons vroue ook. Daarom dat Hy tyd vir ons gehad het, en ons laat verstaan het ons maak vir Hom saak.”
 

Vrouens moet aan hulle mans onderdanig wees en klaar

Maar wat sê die mans dan nou oor die saak? Ek het heel eerste met die apostel Petrus gaan gesels. Hy was effens uit die veld geslaan oor my vraag. Vrouens moet aan hulle mans onderdanig wees en klaar, was sy besliste uitspraak. Dit was nog altyd so en moet altyd so bly. ’n Vrou moet haar man eer. Ons vroue se moeilikheid, sê hy, is dat ons te ingestel is op die uiterlike dinge soos mooi klere en deftige haarkapsels. Wat vroue nie besef nie, sê hy, is dat hulle skoonheid nie in uiterlike dinge lê nie, maar in die innerlike dinge, soos blywende beskeidenheid en kalmte van gees. En wat het hy vir die manne onder ons te sê, wonder ek hardop. “O, hulle moet hulle vroue liefhê en verstandig met hulle saamleef. Hulle moet aan hulle eer bewys as die swakkere geslag.”
 

ek dink nie ek is nou al gereed om anders te begin dink nie

Met hom gaan ek nie juis êrens kom nie, het ek besef. Die Joodse kultuur is nog te diep in sy bloed. Toe het ek met die apostel Paulus gaan gesels. Hy is ’n dierbare mens, en my geestelike vader. Dit was hy wat my na die Here gelei het. Miskien kom ek ’n entjie verder met hom. Maar toe ons begin gesels, was hy ook aanvanklik baie eng in sy siening. “Adam is eerste gemaak, en daarna Eva. Sê dit nie vir jou iets nie?” wou hy weet. Toe ek hom daarop wys dat Eva as sy gelyke gemaak is, was sy antwoord dadelik gereed: “Ja, maar sy het vir Adam saam met haar in die sonde ingesleep. Dis dié dat die vrou die man se mindere is.”
 
Ek het toe maar ’n ander taktiek probeer. Wat dan van die Here Jesus se houding teenoor vroue? Sê dit nie op die minste dat God tog ’n bietjie anders oor die saak dink as wat die kultuur van sy tyd voorskryf nie? Ek kon sien dat ek my leermeester met dié stelling effens onkant gevang het. “Jy weet, terwyl jy nou so praat het, ek net besef dat ons nog lank nie klaar gedink is oor dié dinge nie. Byvoorbeeld: hoe raak die feit dat die Here Jesus vir die sonde van die wêreld gesterf het, die vrou? Ek weet eerlik nie wat ek op só ’n vraag moet antwoord nie. Het die Here Jesus se bloed dalk die vrou verlos van haar onderdanigheid teenoor die man? Het sy offer dalk Eva se skuld óók weggeneem? Is sy dalk ná Golgota weer volwaardig die man se gelyke soos dit daar in die Tuin van Eden was? Jy sien, as ’n mens oor dié goed begin dink, kom daar so baie vrae, en so baie moontlikhede na vore dat my kop daarvan duisel.” Hy skud sy kop en glimlag dan skewerig na my kant toe as hy sê: “Miskien, oor ’n paar honderd jaar – dit is nou as die Here Jesus nie voor daardie tyd kom nie – miskien dan, as die kerk lank genoeg tyd gehad het om oor al die implikasies van onse Here se offerdood te dink, miskien sal die plek van die vrou dan anders verstaan word. Maar ek dink nie ek is nou al gereed om anders te begin dink nie.”
 
Tipies mansmens, dié liewe rabbi Paulus. Vasgevang in die denkpatrone van sy eie tyd. Maar miskien, so twee duisend jaar van nou af, as ons die Heilige Gees kans gee, net miskien kan Hy dan die mans tot ander insigte bring sodat hulle sal verstaan dat ons hulle gelykes is. Of is hulle dalk bang om dit te erken omdat hulle weet dat as hulle ons ’n kans gee om onsself te bewys, ons onsself nie net as hulle gelykes sal bewys nie, maar as hulle meerderes? Of wat praat ek alles …
 
Jy kan meer oor Lidia lees in Handelinge 16:11-40. Oor die vroue met wie sy onderhoude gevoer het, kan jy lees in Gen. 2-3; Gen 12 en verder; Gen 44:45-52; 1 Sam 25; Mark 16:9-11. Oor Petrus en Paulus se siening van die man-vrou verhouding, lees gerus 1 Pet 3:1-7 en 1 Tim 2:9-15.
image_pdfimage_print

Views: 34

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.