deur ons mediese spesialis, dr Lukas
Vir baie jare het mense hulle tot plante gewend omdat hulle geglo het sekere plante het genesende krag. Party mense lag vir hierdie sg. “boererate” en sê dis ouvroustories. Ek moet toegee dat party boererate inderdaad niks anders as ouvroustories is nie, maar daar is tog ook talle plante wat besondere genesende eienskappe het. Daar is ’n ou legende wat sê die verbode vrug in die Tuin van Eden wat Eva so aanloklik gevind het, is die granaat. Dit is bekend dat granate vroue net so onweerstaanbaar maak vir mans as wat die vrug vir Eva was. G’n wonder nie dat die beroemde (en wyse!) koning Salomo sy beminde met ’n tuin vol granaatbome vergelyk het nie. En sy beminde droom van die dag dat sy vir hom van haar granaatsap te drinke kan gee. So as u dalk so ’n bietjie ekstra woema in u liefdeslewe wil pomp, kan dit ’n goeie begin wees om elke dag ’n granaat te eet.
Koning Salomo het ook ’n ander goeie raat gehad. Hy het pitswere met vyesap behandel, en wie is ons om met hom te stry? Ek het ook iewers gelees dat die yslike piramides in Egipte op knoffelkrag gebou is, omdat die farao’s die arbeiders wat die reuseklippe moes aansleep, vol uie en knoffel gestop het om hulle sterk te maak.
Al neem u al die rate van die oumense met ’n knippie sout, is my raad aan u: moenie dié raad in die wind slaan nie. Daar steek meer wysheid in as wat ons besef.
- Lees wat koning Salomo oor sy beminde en die granaat en ander kruie te sê het in Hooglied 4:12-14 en 8:2.
Moedverloor skryf:
Liewe dr Lukas
Ek sukkel nou al meer as tien jaar met ’n baie sensitiewe probleem. Ek menstrueer baie erg; trouens, ek het feitlik die hele maand ’n bloederige afskeiding. My man sê ek is onrein en wil nie eers aan my raak nie, uit vrees dat hy ook onrein sal word. Ek weet dat die Wet van Moses so leer, maar is ek nou gedoem tot ’n lewe van onreinheid en afsondering? Ek kan nie eers ’n offer na die tempel vat nie. Ek is mos nie melaats nie! Ek het al opgehou tel hoeveel dokters ek oor die probleem geraadpleeg het, maar sonder enige noemenswaardige uitwerking op my toestand. Dis net op my beursie wat daar ’n beduidende uitwerking is. Kan u my help?
Dr Lukas antwoord:
Liewe Moedverloor
My hart bloei regtig vir jou (as jy my dié uitdrukking sal verskoon). Ongelukkig is ’n hardnekkige probleem soos dié wat jy het, nie maklik om te behandel nie, soos jy teen dié tyd al deeglik agtergekom het. Ek wil my nie aanmatig deur voor te gee dat ek ’n toestand kan behandel wat ander kollegas van my klaarblyklik nie kon regkry nie, maar ek het tog baie goeie resultate behaal met ’n mengsel van die volgende: 2 dele gemaalde kaneel, 2 dele gemaalde kassie, 1 deel gemaalde hars (party mense noem dit gom of mirre), 1 deel fyngestampte saffraanblomme, 5 dele gemaalde nardus, en 5 dele swart komyn. Trek vir jou ’n sterk tee met drie lepels van dié mengsel op ’n bekertjie kookwater, en drink dit warm, 3 maal per dag. Wissel hierdie drankie af met ’n halwe granaat laat-oggend en laat-middag. Jy behoort binne vyf dae ’n verandering te sien. Sterkte!
- Lees meer van hierdie siekte en die plante en kruie wat dr Lukas voorskryf, in Mark 5:25-34 en Lev 15:25-31; Eks 30:23-24; Gen 37:25; Hoogl 4:14; Jes 28:27; Hoogl 4:13.
Kopsku skryf:
Liewe dr Lukas
Ek sukkel baie met verblindende hoofpyn. Dit begin meestal in die nanag of vroegoggend en vererger soos die dag vorder. Soms is daar ’n skerp pyn agter my een oog, maar ander kere is daar net so ’n warm gevoel in my kop, en dan voel dit of my kop wil oopbars. Dis erger in die lente as in ander tye van die jaar.
Dr Lukas antwoord:
Liewe Kopsku
Uit die simptome wat jy beskryf, klink dit vir my jy het ’n sinusprobleem wat deur hooikoors veroorsaak word. Ontsteekte sinusse (dis die holtes in jou neusgange) is ’n baie hardnekkige probleem om op te klaar. Ek beveel aan dat jy die hooikoors onder beheer kry (ongelukkig is daar geen medisyne wat jou daarvan sal genees nie), en dan ook nog iets vir die pyn neem, want sinushoofpyn is van die ergste soort pyn wat daar is.
My raad vir die hooikoors is soos volg: trek twee takkies brandnetels op ’n beker kookwater. Laat dit oornag staan, en drink dit vroeg-oggend op jou nugter maag. Dit behoort die hooikoors in toom te hou. Vir die hoofpyne moet jy ’n lourierblaar elke 3-4 uur kou. Indien die pyn baie erg is, kan jy ’n stukkie kaneel daarmee saam kou.
- Die kruie waarvan dr Lukas praat, word onder andere genoem in Jes 34:13; Ps 37:35; Eks 30:23-24.
Raadop skryf:
Liewe dr Lukas
Ek is nog net twee jaar getroud en redelik onervare oor siektes en so. Ek is raadop met my arme man. Hy kry van tyd tot tyd die vreeslikste swere op sy bene. Dit begin met sulke aaklige groot rooi klipharde knoppe, en later bars dit oop. Hy sê dis baie pynlik. My ma sê dis bloedvinte en ek moet maar net sorg dat my man genoeg vars vrugte inkry, dan sal die swere vanself verdwyn. My man is ongelukkig nie lief vir vrugte nie en eet omtrent net vleis. Wat moet ek doen?
Dr Lukas antwoord:
Liewe mevrou Raadop
Jou ma se raad is glad nie sleg nie, hoor. ’n Dieet sonder genoeg vars vrugte en groente kan nie ’n mens se liggaam behoorlik aan die gang hou nie, en allerhande nare goed kan dan met ’n mens gebeur, soos jy aan jou man kan agterkom. So voer hom met vars kos en laat hy ’n bietjie minder vleis eet. Dit sal hom net goed doen. Terloops, het jy geweet dat Adam en Eva het glad nie vleis geëet nie? Dit is maar eers sedert die tyd van Noag dat vleis deel van die mens se dieet is. Oppas dus maar vir te veel vleis op jou bord. En totdat ’n gesonde dieet jou man se liggaam van binne gesond maak, kan jy die pitswere met vyekoeke behandel. Vat ’n vars vy, druk dit fyn en rol dit in ’n ronde plat koek. Maak die koek effens warm op ’n bakplaat (so bietjie warmer as liggaamstemperatuur). Plaas dan die warm vyekoek op die pitsweer en draai dit liggies met ’n lap toe sodat dit in posisie bly. Sit elke oggend ’n vars vyekoek op die sweer. Hou vir vyf dae daarmee aan. Die koek sal die kwaad uit die sweer trek.
- Lees hoe Jesaja hierdie raad vir koning Hiskia gegee het in 2 Kon 20:7. Vergelyk ook Adam en Eva se dieet met dié van Noag-hulle in Gen 1:29 en 9:2-4.
Van dr Lukas wat hierdie rubriek behartig, het ons twee geskrifte in die Bybel: die Evangelie volgens Lukas, en Handelinge van die Apostels. Dat hy ’n dokter was, weet ons uit Kol. 4:14.
Views: 33