deur Goewerneur Nehemia ben Gakalja
“Kom ons buig saam om die huisaltaar!” is ’n uitdrukking wat die ouer geslag goed ken. Nie juis omdat hulle die uitdrukking nog gebruik nie, maar omdat hulle dit baie goed kan onthou, want dit was vir baie jare deel van elke gelowige huisgesin se roetine. Ek onthou nog goed hoe my oupa met heimwee vertel het van sy kinderdae, toe hulle as gesin elke dag by die huisaltaar gebuig het om die God van Abraham, Isak en Jakob te aanbid. En elke jaar, as dit feestyd was, het hulle na die tempel gekom om saam met duisende ander voor die aangesig van die Here bly te wees.
Daarom het ek met groot verwagtings uit Susan na Jerusalem gekom, want ek het uitgesien daarna om vir die eerste keer ook die voorreg te hê om in die tempel te kom aanbid. Maar wat ’n teleurstelling! Die tempel en die tempeldiens is maar ’n flou skaduwee van dit wat ons voorvaders geken het. Nie net is die tempel ’n baie nederige gebou nie; dit kan ek nog verstaan. Ons mense is immers verarm gelaat deur die ballingskap. Maar veel erger as die verlies van nasionale onafhanklikheid en materiële voorspoed is die verlies aan geestelike diepte. Die loofhuttefees verlede maand het feitlik ongemerk gekom en gegaan. Daar was feitlik niemand by die tempel nie. Net die priester aan diens en ’n paar Leviete wat lusteloos hulle werk afhandel. En die paar mense wat ek nog opgemerk het, was feitlik deur die bank ouer mense, en dan boonop alleen, sonder hulle gesinne. Dit was g’n fees nie.
In my hart het die kommer gegroei dat die gebrek aan meelewing by die tempel ’n simptoom is van ’n geestelike verflouing, en ek wonder of die huisaltaar nog die plek in mense se gesinslewe het wat dit vroeër gehad het. Waar is die dae toe ons vader Abraham oral waar hy gekom het, altare opgerig het? Of toe Job van ouds sy gesin gereeld beveel het om hulle te reinig, sodat hulle by die huisaltaar kon aanbid?
Goed. Baie dinge het verander. Die val van Jerusalem en die koningshuis, die verwoesting van die tempel en die ballingskap het die volkslewe ingrypend geraak. Tradisies wat eeue lank ’n vanselfsprekende deel van die godsdienstige lewe van ons mense was, het daarmee verdwyn. Die gereelde godsdienstige feeste in Jerusalem het opgehou. Daarby het die ballingskapstyd ons mense se volkstrots weggeneem. Huwelike met uitlanders, misdaad, uitbuiting van die armes en werkloosheid het die hoogte in geskiet. Voeg hierby die voortdurende pogings van die Samaritane, Ammoniete en Arabiere om ons volkslewe te ontwrig, en jy kan verstaan dat ons mense se moraal baie laag is.
As jy met die mense praat oor die huisaltaar, kom jy gou agter dat dit vir die meeste ’n teer saak is. Ons mense voel skuldig daaroor, begin dadelik verduidelik hoe die tye verander het en hoe dit feitlik onmoontlik is om soos ons oupagrootjies en húlle oupagrootjies te aanbid. Dit laat my dink aan die jong priester wat allerhande kant-aantekeninge by sy preek gemaak het; hier moet hy sag praat, daar moet hy met sy hande beduie, en daar moet hy glimlag. Op een plek het hy ingeskryf: “Argument swak, skree!”
Waarom voel ons so skuldig as hierdie onderwerp aangeroer word? Omdat ons weet dis eintlik nie ’n onderhandelbare saak nie. Omdat ons diep in ons hart van harte weet: God vra dit. Dis tog wat die heel eerste psalm vir ons uitspel: die mens wat hom nie ophou met ligsinnige dinge nie, maar hom verlustig in die Woord van die Here en dit dag en nag oordink, hý is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is en op sy tyd vrugte dra; ’n sieraad vir almal om hom. En in Deuteronomium 6:6,7 sê Moses nie verniet nie: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”
Waarom het die huisaltaar in onbruik geraak? Daar is baie redes wat ’n mens kan aanvoer, soos:
- Mense is teleurgesteld in die leiding wat die geestelikes in die verlede gegee het. Vir te lank het hulle ons mense geleer dat hulle nie bekommerd moet wees nie, dat hulle veilig is omdat God nooit sal toelaat dat sy heilige stad en sy heilige tempel aangetas sal word nie. Dié teleurstelling het negatief op mense se geloofslewe ingewerk.
- Mense voel in die steek gelaat deur die geestelikes, omdat hulle nie veel gedoen het om hulle lot te verander nie. Die geweldige belastings wat die Persiese regering hef, het ons mense verarm, en baie van hulle moes geld leen om hulle belastings te kon betaal. Die rykes het die situasie uitgebuit en hoë rente gehef en so tot die mense se ellende bygedra, sodat talle uit hulle erfgrond is. Ander moes selfs hulle kinders as slawe verkoop om hulle skuld te kan betaal. Aan dié treurige situasie het die geestelikes nie aandag gegee nie.
- Omdat die mense verarm het, moet hulle baie langer ure werk om kop bo water te hou. Iewers moet iets in die slag bly, en die huisaltaar is dikwels een van die eerste dinge wat sneuwel.
- Huwelike met uitlandse vroue het ook ’n beduidende invloed op ons mense se godsdiens. Hierdie vroue aanbid nie die God van Israel by die huisaltaar nie, maar hulle eie afskuwelike afgode, met haglike gevolge vir dié huise se geestelike lewe.
- Die opvatting dat “niemand tog meer die huisaltaar in stand hou nie”, skep die klimaat vir baie gesinne om ook maar op te hou. Dié wat wel nog aanbid, voel dikwels soos Elia onder die besembos, wat verwytend die vinger na God wys: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek . . . Net ek alleen het oorgebly . . .” En toe wil hy ook sommer handdoek ingooi, want hy het nie geweet van die sewe duisend in Israel wat aan God getrou gebly het nie. Dit is natuurlik ’n baie effektiewe slenter van Satan om jou só ’n leuen te laat glo. Die priester Esra verseker my dat daar ondanks alles wel nog talle gesinne is wat getrou by die huisaltaar saamkom.
- Die invloed van die Persiese Ryk met sy nuwe opvoedingsmetodes waarin kinders as mondige lede van die gesin geag word, speel ook ’n rol. Ouers glo kinders moenie teen hulle sin in gedwing word om te aanbid nie.
- Mense besef nie die waarde van aanbidding nie, en laat dit daarom te maklik staan.
- Gesinne sukkel om ’n gereelde tyd vir aanbidding te kry, en hou dan sommer heeltemal daarmee op.
Daar is iets in die dinamika van ’n gesin wat gereeld by die huisaltaar saamkom, wat die aanbidding onvervangbaar vir ’n gesonde geloofslewe maak. Die saamwees, die saambuig onder die gesag van die Woord van God, die saambid en saamsing, die interaksie tussen die verskillende gesinslede, en les bes, die heerlike teenwoordigheid van God self, maak van die huisaltaar ’n besondere en unieke belewenis.
Daarom dat talle gesinne baie moeite doen om met aanbidding voort te gaan, ten spyte van die feit dat die druk van veranderde omstandighede dit al moeiliker maak. Party doen dit soggens voor die dag begin. Ander doen dit in die middag na hulle klaar gewerk het. Vir hulle is ’n gereelde saamkom by die huisaltaar soos Oupa en Ouma dit nog gedoen het, nie onderhandelbaar nie, want hulle het langs die pad ontdek:
- Geloof is ’n baie abstrakte begrip vir ’n kind. In die praktiese aanbidding leer die kind wat dit beteken om voor God te lewe en te glo en onder leiding van die Heilige Gees elke dag aan te pak. Wanneer jou kind in jou lewe die Here kan sien en beleef dat godsdiens nie net ’n aanhangsel tot die lewe is wat vir die Sabbat gebêre word nie, maar deel is van elke dag, sal dit hom help om self ook die Here te omhels as sy Here en sy God.
- Kinders leer om met vrymoedigheid oor geloofsake te praat en te getuig.
- Kinders leer om voor ander hardop te bid.
- Kinders leer dat geloof met die lewe van elke dag te make het, omdat hulle sien en hoor hoe Pa en Ma hulle kommer en vrese, planne en drome voor God kom lê.
- As die gebede wyer strek as net die huisgesin se behoeftes, leer die kinders om ander mense en hulle behoeftes ook raak te sien en nie op hulleself ingestel te wees nie.
- Kinders leer ons skat van geestelike musiek ken as daar ook saam gesing word by die huisaltaar.
- Pa’s en ma’s ontdek dimensies in hulle kinders se geestelike lewe waarvan hulle nooit geweet het nie, en word só in hulle geloof in die troue Verbondsgod gesterk.
- Die roetine van aanbidding by die huisaltaar bring ’n groot stuk sekuriteit by ons kinders. Dit is ’n simbool van ons saamwees as huisgesin voor die Here, waar Pa en Ma ook voor God intree vir die kinders se spesifieke behoeftes.
- Die saampraat oor die Woord en God se wil vir ons lewe word ’n vertrekpunt vir talle ander sake en besluite wat die gesin moet maak.
- Dis een van die min geleenthede waar die huisgesin nog saam is en saam gesels, en dit bind die gesin saam.
- Daar is ’n genesende krag in gereelde aanbidding by die huisaltaar. ’n Gesin kan tog nie saam bid as hulle vir mekaar kwaad is nie, en dit dwing gesinslede om daagliks weer opnuut mekaar se hande te vat en die onderlinge vrede na te jaag.
- Kinders word van kleins af prioriteite geleer. Omdat die huisaltaar ’n vaste afspraak is, leer die kind dat ander dinge soos speel maar kan wag, of gelaat word, ter wille van dit wat wesenlik is.
- Geloof is nie iets wat in isolasie floreer nie. Geloof werk aansteeklik, en die saam-karakter van die huisaltaar help kinders – en ouers! – se geloof om helder te brand.
Aanbidding by die huisaltaar is ’n kragtige bousteen van ’n gelukkige huisgesin. Dit beteken sekerlik nie dat ’n gesin wat nie saam bid nie, noodwendig uitmekaar sal spat nie, of dat die toenemende verwaarlosing van die huisaltaar een van die oorsake van die verbrokkeling van huwelike is nie. Tog voel ’n mens jammer vir die baie gesinne wat nie meer by die huisaltaar saamkom nie. Want hulle mis die heerlike ervaring van geborgenheid en troos en hoop wat die lewende Here met hierdie geseënde gebruik aan hulle wil uitdeel.
Lees meer oor Nehemia se ywer vir die dinge van die Here, onder andere in Neh. 1 en 8.
Views: 28