Ek het al baie gewonder oor die vraag wat ek sou kies as ek self my lewe kon reël. Ek weet dis eintlik ’n sinlose vraag, want dinge gebeur mos maar soos dit gebeur, en ek kan nie die feit dat ek ontman is toe ek nog ’n jong seun was, ongedaan maak nie. Hoe graag sou ek dit nie anders wou hê nie!

Ek onthou die dag toe dit gebeur het, nog so goed asof dit gister was. Daar was ’n hele klompie van ons wat bevoorreg was om in die koninklike skool te wees. Die meeste was Perse en Mediërs uit adellike families, maar daar was ook ’n paar van ons ander wie se pa’s baie betaal het om ons in die skool te kry: Jode, soos ek en my ouer broer Ganani, en Babiloniërs, Elamiete, Arabiere en so. Ek het hard gewerk en my beste gegee, soos ek glo reg is, maar Ganani het gesê hy gaan nie sy bes doen nie, want hy weet wat wag vir die uitblinkers. Hulle ertjies word uitgesny, het hy nog gesê. Ek het hom uitgelag, want ou Flapoor (hy was ons onderwyser – sy regte naam was Atsurpas) se lofrede oor my uitstekende werk was baie meer werklik as die moontlikheid dat ek dalk eendag gesny gaan word. En Pa was ook altyd so in sy skik met die goeie rapporte wat ek huis toe gebring het. Agterna beskou besef ek dat Ganani baie slimmer as ek was, maar ’n kind van tien, elf jaar oud dink nie so oor die saak nie.

Maar ek dwaal af. Ek onthou, aan die einde van daardie jaar, hoe ou Flapoor in die klas ingekom het en die eksamenpunte uitgelees het. Ek was heel bo aan die lys! My hart wou bars van die trots. En drie van ons, ek en Bisseta en Bigta, is gekies om aan te gaan met die gevorderde klasse wat die koning se hoë amptenare moes volg. Ek onthou nog hoe ou Flapoor ons voor die klas laat staan het en gesê het die klas moet goed na ons kyk, want ons is die toekoms van die koninkryk. Ek het trots na Ganani gekyk, en hy was ook trots – ek kon dit sien – maar daar was ook iets weemoedigs in sy oë, asof hy my jammer kry. Vandag verstaan ek hoekom hy so gelyk het, want ons drie is ná die klas na die paleisdokter geneem, ’n nare ou man met sulke lang, krom naels en ’n haakneus. Ou Flapoor het gesê dis die eerste stap na ’n uitsoek-amptenaar wat ons moes deurgaan: ’n behoorlike mediese ondersoek, want die koning stel nie in sieklike of gebreklike amptenare belang nie. Ons moes ons kaal uittrek en is van kop tot tone ondersoek. Die dokter het oral aan ons gedruk en gevoel, en net kort-kort “mmm -mmm” gebrom. Toe het hy die ander twee uitgestuur, en net ek en ou Flapoor het agtergebly. Ek moes op my rug op ’n tafel gaan lê, met my bene opgetrek. Ek was baie bang, want toe het ek vir die eerste keer weer gedink aan Ganani se storie van die snyery. Die dokter het my eers goed gewas (met ’n peperwater-oplossing, het ek later gehoor) en toe verbande styf om my maag en bobeen gedraai. Ek wou nog vra hoekom hy dit doen, maar ou Flapoor het my net stil gemaak en my oë toegedruk. Die volgende oomblik het die pyn soos vuur deur my lyf gebrand. Dit ruk nou nog in my maag as ek daaraan terugdink. Ek het afgekyk, en tot my afgryse gesien die dokter het alles wat my ’n seun gemaak het, afgesny. Álles.

Die ergste was dat ek nie toe op ’n hopie kon gaan lê en huil nie. Die dokter het my met verbande toegedraai, en toe moes ek tussen twee helpers vir drie uur lank rondloop sodat ek nie krom trek nie, het hulle gesê. Bisseta en Bigta het later saam met my kom skuifel-kerm. En toe het die ergste gekom. Drie dae lank mag ons nie ’n druppel water gedrink het nie, en ons kon ook nie water nie. Die gaatjie is glo toegestop met die operasie. Die pyn was verskriklik: eers die wond, maar later my blaas. Dit het gevoel of hy gaan bars. Eers na drie dae het die dokter die verbande afgehaal en die proppie uitgetrek, sodat ek weer kon water.

Arme Bigta kon toe steeds nie gewater kry nie. Sy waterbuis het toegeswel, het ou Flapoor later vir my vertel. Ek hoor nou nog sy gekerm as ek aan dié vreeslike tyd terugdink. Ek en Bisseta het vinnig beter geword nadat die verbande afgehaal is, maar ou Bigta het dit nie gemaak nie. Siestog. Dat hy nou só aan sy einde moes kom. Hy was ’n slim outjie, en altyd so vol lewenslus.

Hoeveel keer het ek nie al daardie dag verwens nie! Ek weet nie wat die ergste was nie: die verskriklike seer, of die vernedering. Die seer het na so twee weke oorgegaan, maar die vernedering … Kom ’n mens ooit oor so-iets? Ek weet nie. Ek was kwaad vir ou Flapoor wat ons nie behoorlik ingelig het nie, en ek was kwaad vir Pa en Ma. Hulle móés mos geweet het wat die uiteinde van my studies sou beteken. Hoekom het hulle dit aan my gedoen? Ek het Pa later daarna uitgevra, en toe het hy gesê hy het dit ter wille van my gedoen. Hy het gesê hy het gesien ek het iets tussen my ore, en hy het geweet ek sou ’n goeie koninklike amptenaar wees. Hy het gesê elke ding het sy prys, en hy dink nie ek het ’n te groot prys betaal vir al die voorregte wat my te beurt sou val in die koninklike paleis nie. Asof hý nou daaroor kon besluit! Dis nie hy wat in ’n halwe mens verander is nie; ontman en potsierlik met die dun seunstem en baardlose gesig nie!

Maar ek moes dié bitterheid ook maar mettertyd eenkant toe skuif. ’n Mens kan tog nie altyd bitter bly nie. Dan sal jy ondergaan. Pa het seker met my gemaak soos hy geglo het reg is. En iewers in alles wat met ’n mens gebeur, is die Here God ook met sy meesterlike beplanning. Ek weet nie wat sy taak vir my is nie, maar ek sou seker nie sonder rede die groot prys moes betaal nie.

Daar is natuurlik ’n ander kant aan die saak ook verbonde: die kant waaraan Pa gedink het. As ek eerlik wil wees, móét ek dit erken: ek het baie voorregte aan die hof van koning Artasasta, en ek geniet die status wat my vertrouensposisie by die koning meebring. Ek het aan niks gebrek nie, en het baie mag en invloed as die koning se persoonlike skinker. Dikwels vra hy my raad as hy groot besluite moet neem, en net so dikwels volg hy my raad ook. En dan is daar natuurlik nog die pragtige koningin ook. Ek sal moet jok as ek ontken dat ek ’n baie sagte plekkie vir haar het, en sy vir my. Dit sou nooit so kon wees as ek nie ontman is nie. Die koning aanvaar geen volwaardige man op sy paleispersoneel, in sy huis en by sy tafel en naby sy vrouens nie. Die risiko is te groot. Maar ons ontmandes is onskadelik. Ons kan nie die koning se vrouens verkrag nie, en ons sal nie die koning vermoor nie. Waarvoor sal ons dit nou doen? Ons kan tog nooit kinders hê aan wie ons ’n koninkryk kan nalaat nie. Daarom is ons veilige amptenare, onskadelik en (meestal) saggeaard. Net partykeer pak die weemoed ’n mens, soos nou met my.

Dis seker die bloedrooi linnedoeke wat ek uitgehaal het om die banketsaal mee te versier, want my so weemoedig gestem het. Die rooi doeke herinner my altyd aan daardie vreeslike dag in die dokter se kamer. Daar was so baie bloed. Mý bloed.

Wag, ek sal nie so kan sit en tob nie. Daar moet nog baie gedoen word voor die onthaal môremiddag in die paleis begin. Koning Artasasta is vandeesmaand al ’n volle twintig jaar op die troon, en om dié okkasie op gepaste wyse te vier, het hy sy hoogste amptenare ontbied, en alles moet eksie perfeksie wees. Die koning maak op my staat om daarvoor te sorg. Die rooi doeke moet nog saam met wittes in die saal gehang en met purper koorde aan silwerringe tussen die marmerpilare gespan word. Dit sal tog te feestelik lyk, soos dit pas by ’n onthaal wat die grootste koning op aarde gee.

En dan is daar nog die danseresse – ek het twintig uitgesoek vir die geleentheid – hulle kostuums moet nog afgehandel word, en die orkes moet repeteer. Nou nie dat ek dit hoef te doen nie, maar ou Aridai waardeer dit altyd so as ek belangstelling toon en raad gee. En natuurlik die ete – Parmeta, die hoof van die koninklike kombuis, leun maar sterk op my as dit by dié soort ding kom, want hy het net nie die aanvoeling vir die dinge waarvan die koning sal hou nie. Dis dié dat ek eintlik maar vir die ete ook verantwoordelik voel. As ek nie vandag nog minstens drie keer by die kombuis gaan inloer en Parmeta se senuwees kalmeer nie, sal dinge daar lelik verkeerd loop. Hy het juis gister aan die skel geraak op een van die kokke, wat ’n seker teken is dat sy senuwees gedaan is.

Gelukkig hoef ek my nie oor die koning en sy amptenare se veiligheid te bekommer nie, want dit kan ’n groot kopseer wees. Maar Dalfon, die hoof van die koninklike lyfwag, is ’n man wat sy storie ken. Hy het net gister vir my verseker dat hy ’n hele kompanie ekstra soldate vir die duur van die onthaal by die paleis gaan ontplooi. Geen mens wat nie hier hoort nie, sal ons kan pla nie.

Die drank vir die geleentheid is natuurlik al lankal agtermekaar. Ek wag nooit tot op die tippie voor ek my dinge reël nie. Ek het die voortreflikste wyne wat daar in die ganse ryk te kry is, in die kelder, en heerlike vars bier in oorvloed, en lekker koel. Daar is oorgenoeg vir die manne om te drink, en nog meer. Die koning sal hom nie daaroor hoef te bekommer nie. Maar hy weet dit ook. Dis dié dat hy die onthaal se hele organisasie net so aan my oorgelaat het.

Die verrassing van die onthaal sal beslis die goue eetservies wees wat ek spesiaal ontwerp het vir die geleentheid. Ek het as motief twintig verskillende soorte vrugte wat in die koninkryk gevind word, op die bekers en borde laat sit, een vrug vir elke jaar wat ons koning al regeer: olywe, druiwe, vye, granate, appels, kwepers, pere, dadels, pruime, bessies … Al om die rand van die borde is die twintig vrugte in ’n aaneenskakelende patroon ingewerk, en daarby is daar in die middel van elke bord ’n ander vrug, en ’n beker met dieselfde vrugmotief om by die bord te pas. Dit is werklik ’n meesterstuk. Ek is seker die koning sal baie daarvan hou.

Slaapplek vir al die amptenare is nogal ’n groot probleem. ’n Mens wil nie hê hulle moet te ver van die paleis af slaap nie, want dan het jy probleme om hulle in die bed te kry, veral as hulle baie vrolik raak van my heerlike wyn. Maar te naby aan die paleis, en veral naby aan die koninklike slaapkwartiere, wil ek hulle ook nie hê nie, want dan kan dit maklik gebeur dat hulle die koning se rus verstoor. Laas was daar baie moeilikheid omdat een van die kêrels met mag en geweld in die koning se harem wou inbeur. Dit het groot moeite gekos om hom daar weg te kry en die gebeurtenis vir die koning weg te steek, dié is seker. Maar ek het net gedink dit sal nie reg wees as ’n man sy lewe verloor net omdat die koning se byvrouens vir hom mooi is nie. Ek wonder wat ék sou gedoen het as ek ’n regte man was en daar is soveel pragtige vroue om my. Ag ja …

uit my roman “Die Goewerneur”

Nehemia was na alle waarskynlikheid ’n ontmande, anders sou hy nie so ’n hoë pos aan die Persiese hof kon beklee of toegang tot die koningin gehad het nie. Dié feit het vir seker sy hele lewe en lewensuitkyk gekleur.

image_pdfimage_print

Views: 22

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.