Dit is vandag Palmsondag, die Sondag wat die Groot Lydensweek inlei. Vrydag is Goeie Vrydag, die sterfdag van ons Here Jesus. Gewoonlik fokus ons op dié dag op Jesus se feestelike intog in Jerusalem (vers 1-11). Maar daar het nog iets op daardie besondere dag gebeur, waarvan Matteus ons in die volgende toneel vertel: Jesus het die tempel besoek.

Ons sien in dié toneel ’n Jesus waarvan ons min in die Evangelies lees: ’n woedende Jesus, wat mense uitjaag, tafels omgooi en die sweep klap, soos Joh 2:15 vertel. Want wat op die tempelplein gebeur het, het geskreeu teen alles waarvoor die tempel daar was. Jesus verduidelik sy optrede met ’n aanhaling uit Jes 56:7: Die tempel is ’n huis van gebed vir al die volke (vgl Mark 11:17).

In die Here Jesus se tyd was die tempel in Jerusalem ’n groot kompleks. Dit het voorhof of ’n bymekaarkomplek vir die Joodse mans gehad, en nog ’n voorhof spesiaal vir die Joodse vrouens. En dan, behalwe dié twee voorhowe, was daar ook ’n groot plein voor die tempel. Dié tempelplein is die voorhof van die heidene genoem, want mense wat nie Jode was nie, maar graag die ware God wou aanbid, mag nie in die tempel self ingegaan het nie. Hulle kon wel in die voorhof van die heidene aanbid.

Dít was soos die tempel beplan is. Maar met die jare het daar iets gebeur. Party Jode wat haastig was, het sommer oor die tempelplein kortpad gevat na hulle werk of van hulle werk huis toe, en daarom was daar gedurig ’n verkeer op die plein. Verder het die Hoëpriester sy familie toegelaat om die tempelplein te begin gebruik vir ander goed as net gebed. Hulle het daar stalletjies opgerig waar mense beeste en skape en duiwe kon koop as hulle ’n offer aan God wou bring. En dan was daar die geldwisselaars wat mense se gewone geld omgeruil het vir die voorgeskrewe tempelsikkels waarmee die Jode elke jaar hulle tempelbelasting moes betaal. Asof dit nie erg genoeg was nie, het hierdie mense die pelgrims wat van oral oor die land gekom het om God te aanbid, vreeslik uitgebuit. Die prys van ’n paar duiwe was 20 keer meer as wat jy in die stad daarvoor sou betaal! Nou kan julle dink wat vir ’n gestryery daar op die tempelplein aangegaan het – daar waar die nie-Jode veronderstel was om God te aanbid! En eenkant het die beeste gebulk en die skape geblêr. Maar intussen het die Hoëpriester se familie ewe lekker geld gemaak uit die tempel.

Toe kom Jesus daar aan, en Hy is so ontsteld dat Hy man-alleen die hele basaar toemaak. Hoekom het Hy dit gedoen?

1. Hy was ontsteld omdat die pelgrims so gruwelik uitgebuit is.
2. Hy was kwaad omdat die heiligheid van die tempel geskend is. Geen mens kon die teenwoordigheid van God beleef in só ’n basaar-atmosfeer nie!
3. Die teks wat Jesus uit Jes 56:7 aanhaal, gee vir ons ’n derde rede: die tempel is ’n huis van gebed vir al die volke, sê Hy. Al die volke. En daar, op die tempelplein, die plek waar al die volke wat nie Jode was nie, God moes aanbid, daar gaan dit erger as op die markplein. Wie kan daar nog bid?

Wat het dan verkeerd geloop dat die Tempel só geword het? Hoe kon die Joodse godsdiensleiers van destyds sulke dinge by die tempel invoer?

Ek dink hulle probleem was dat hulle êrens langs die pad vergeet het dat dit in die godsdiens om God gaan. Dat die tempel dié plek op aarde is waar God en wêreld mekaar ontmoet. Dat dít wat jy by die tempel kom doen, jou moes toerus om ook as jy uit die tempel stap, vir God te kan dien. Vir hulle het die tempel ’n plek geword waar hulle gewerk het, en waar hulle vinnig ’n lekker vet inkomste kon maak. In plaas daarvan dat die tempel ’n ontmoetingsplek met God was, het dit ’n plek geword waar die wêreld kliphard gegeld het. In plaas van ’n huis van gebed het dit ’n basaar geword. By die tempel waar God en sy belange op die voorgrond moes wees, het die mens ingedruk en homself en sy belange gaan dien. Geen wonder nie dat Jesus sê hulle het van die tempel ’n rowersnes gemaak!

Maar kom ons los nou eers die Jode. Want die slaggat waarin hulle getrap het, is vandag nog daar. Dit bly vandag ook ’n versoeking om aan die kerk te behoort twv jou eie voordeel. Dan behoort jy nie aan die kerk met die vraag: wat kan ek bydra, wat kan ek doen sodat God se koninkryk gebou kan word? nie, maar vra jy: Wat kry ek uit die kerk? Wat is dit vir my werd? Watter voordeel is daar vir my in om aan die kerk te behoort?
En die kerkleiers begin vra: Wat wil die lidmate hê? Hoe kan ons lidmate lok? Hoe kan ons die kerk lekker maak vir ons gemeentelede?

En iewers, sonder dat ons dit besef, raak God en sy koninkryk weg uit ons kerke. Soos die Jode wat niks daarvan dink om met hulle selfsug en gierigheid dit vir die nie-Jode onmoontlik te maak om God te aanbid nie. En dan speel ons kerk-kerk en vergeet dat dit nie om óns gaan nie, maar om die heilige God.

Dáárom was Jesus woedend. Die tempel was die sigbare teken van alles wat verkeerd was in die godsdiens van sy tyd, en daarmee kon Hy nie vrede hê nie.

Ek dink hierdie optrede van Jesus laat ons met ’n paar vrae van selfondersoek:

1. Verstaan ons dat die kerk nie ons s’n is om mee te maak wat ons wil, en oor te baklei soos ons wil nie? Dis die Here se kerk, wat Hy ten duurste met sy eie bloed gekoop het.
2. Waar lê ons prioriteite as dit by ons kerklidmaatskap kom? By ons eie smake en behoeftes, of by die aanbidding en dien van die lewende Here?
3. Het ons ’n hart vir die mense wat nie deel van die gemeente is nie? Is ons erediens ’n plek waar almal welkom is, en tuis sal kom?

Vyf dae nadat Jesus die tempel gereinig het, het Hy aan ’n kruis gehang, en met sy kruisdood het die voorhangsel in die tempel middeldeur geskeur, as teken dat enige iemand, nie net die hoëpriester nie, nou tot God in sy heiligdom kan nader, sonder die bemiddeling van priesters en offers.

Die reiniging van die tempel was ’n simboliese daad waarmee Jesus na sy kruisoffer gewys het, want in God se hart is almal welkom. Jy ook.

Amen.

image_pdfimage_print

Visits: 27

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
fb-share-icon20
Tweet20
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.