Ek het gedink die verhoor was erg, dit kan kwalik erger, maar ek was verkeerd. Dit was maar die begin van die dag van hel. Jesus moes self die dwarshout van sy kruis na Golgota dra, op daardie flenters-geslane rug! Ek kan my nie voorstel watter pyn hy moet hê nie. Ek sien maar net hoe vertrek sy gesig met elke strompelende tree wat hy gee, en ek sien hoe die bloed deur sy klere sypel. Sy hele rug moet een stuk rou wond wees om só te bloei. My arme kind!
Na ’n ent val hy, die balk nog so oor sy skouer, maar hy staan moedig op voordat die soldate hom ongeduldig kan oppluk. Hierdie keer sit hy nie weer die hout op sy skouer nie. Hy sleep dit agter hom aan, en die hout maak “klonk, klonk” soos dit oor die keistene wip. Maar selfs só maak die gestamp van die balk hom seer.
Daar is spykergate aan die punte van die balk. Dis nie die eerste keer dat die balk gebruik word nie. Netnou sal daar nuwe gate bykom, as hulle my kind teen daardie hout vaskap.
Ek probeer naby Jesus bly. Dalk kan ek hom help; hoe weet ek nie. Maar ek kan nie té naby kom nie, want die soldate wil dit nie hê nie.
Iewers langs die pad steek die dwarsbalk teen ’n keisteen vas en ruk uit Jesus hande. Dit val met ’n dowwe slag in die pad, en Jesus sak met ’n kreun op sy knieë. Hy probeer opkom, maar dit lyk my nie sy bene wil meer na hom luister nie.
Maria is ratser as ek. Sy storm vorentoe en tel Jesus se kop saggies op. Toe vee sy die bloed en sweet en sand met haar mou van sy gesig af en uit sy oë uit.
“Dankie,” hyg hy sag. Daar is bloed in sy mond; sy tande is pienk.
“Jy! Kom hier!” blaf een van die soldate en druk sy spies se steel teen ’n man wat langs die pad staan, se bors. “Wat is jou naam?”
“Simon,” antwoord die man. “Simon van Sirene.”
“Nouja toe, kan jy nie sien die man kan nie meer nie? Dra sy kruis vir hom!”
Die soldate pluk Jesus aan die arms op en hy kreun van die pyn, maar hy staan nou regop. Hy kan nou self loop, sonder die las van die balk.
“Dankie, Meneer,” sê Jesus vir die soldaat.
Die optog na Golgota gaan meedoënloos voort. Voor ons is nog twee veroordeeldes. Om ons loop baie mense. Party huil soos ek en my vriendinne; ander is stil soos Johannes wat my soos ’n skaduwee volg; ander lag en maak grappies oor die skouspel.
Ek het al van Golgota gehoor, maar ek was nog nooit self daar nie. Die pad loop opdraand soontoe. Daar is vier pale geplant; dis nie die eerste keer dat iemand hier gekruisig word nie. Die heuwel is langs die pad en kyk uit oor die stad, sodat almal wat daar verbykom, die misdadigers kan sien.
Simon van Sirene sit die dwarsbalk met ’n steun neer en kyk vlugtig na Jesus. Sy oë is vol jammerte, maar hy sê niks nie. Toe staan hy terug en raak weg tussen die mense wat die skouspel kom kyk het.
Dis omtrent nege-uur die oggend. Kan dit wees? Dit voel dan of die dag al omtrent om moet wees!
Die soldate trek Jesus se klere uit: die blou bokleed, die mooi onderkleed wat ek vir hom gegee het, die sandale. Alles is deurweek met sy bloed. Die onderkleed sit aan sy lyf vas toe hulle dit uittrek, en hy trek sy asem skerp in.
Hy staan daar en bewe soos ’n riet, en ek huil van voor af oor my kind wat so stukkend is. Watter wreedaards doen dít aan ’n mens? Sy rug, sy bors, sy bene … Ek kan nie glo hy het tot hier gestap met daardie gebreekte lyf nie.
“Hier! Dit sal help vir die pyn,” sê een van die soldate en hou ’n beker na Jesus toe uit, maar hy skud sy kop. Die ander twee veroordeeldes drink hulle bekers gulsig uit. Hoekom drink jy nie ook maar nie, Jesus? Vir die pyn?
Dan druk hulle hom ru plat op die balk. Ek wil skree hulle moet versigtig wees, die growwe hout en die klippers sal sy stukkende rug mos baie verniel, maar ek doen dit nie. Ek steek liewer my vuis in my mond sodat ek nie skreeu van sy pyn nie, maar die vuis in my mond keer nie dat ek hoor hoe hy na sy asem snak van die pyn nie.
Een van die soldate gaan sit op sy regterarm om dit stil te hou.
“Tannie moenie kyk nie,” huil Johannes, maar ek kan nie wegkyk nie. Ek móét sien wat hulle met my kind maak.
’n Ander soldaat draai Jesus se handpalm na bo, en kap ’n ysterpen so dik soos ’n man se duim deur sy arm, net agter die pols, tussen die twee voorarmbene deur. Met elke hamerslag ruk Jesus se lyf onwillekeurig, en myne ruk saam.
Die soldaat gebruik ’n swaar ysterhamer om die pen in te drywe. Hy ken sy werk; dis nie die eerste keer dat hy iemand kruisig nie. Net vier houe, en dis klaar. Daarna volg die linkerarm: nog vier houe. Nog vier rukke van sy lyf. Dis beter so, sê ek vir myself. Liewer vinnig as wat hy sukkel om die spykers in te kap.
Jesus steun saggies, amper ’n kermgeluid, maar hy sê niks. Hy is so dapper. My arme, arme kind.
Toe lig hulle hom op met balk en al, en hy steier met die swaar gewig aan sy uitgestrekte arms na die ingeplante paal. ’n Soldaat klim met ’n leer agter teen die regoppaal op en hys die dwarsbalk met toue in die lug op, sodat Jesus aan die penne deur sy arms in die lug hang. Dan maak hulle die dwarshout aan die regoppaal vas om ’n kruis te vorm, en toe kom die soldaat met die hamer weer. Hierdie keer slaan hy sy penne deur Jesus se enkels. Dit vat vyf houe vir die enkels.
Jesus se bene ruk-ruk soos die pyngolwe deur hom spoel. Sy tande klapper onwillekeurig op mekaar, en hy steun.
“Jy kan nie nou al begin steun nie, ou kêrel,” lag een van die soldate. “Dis maar die begin. Daar wag nog baie erger dinge op jou!”
Ek dink as Johannes my nie gekeer het nie, het ek die soldaat net daar geklap. Ongevoelige bees!
Jesus steun weer, en sê dan hard: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hoe kry hy dit reg? Ek wil nie vergewe nie. Ek wil moor. Ek wil seermaak, nie vir hulle bid nie!
’n Soldaat sit ’n leer voor die kruis neer en klim op. Bokant Jesus se kop kap hy ’n bordjie vas met Jesus se naam en sy misdaad: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”
Toe gaan sit hulle en begin loot oor wie watter kledingstuk van die veroordeeldes gaan kry. Die een wat die onderkleed kry, lyk besonder in sy skik. Dis nie elke dag dat ’n misdadiger só ’n kleed het nie. Ek voel lus en gaan ruk die kleed uit sy hande. Dis my kind s’n, nie syne nie!
“Sies. Die minste wat hulle kon doen, is om darem die onderkleed vir jou te gee,” sê Salome asof sy kan hoor wat ek dink.
Wanneer het Salome by my kom staan, en ewe by my ingehaak? Ek is so gefokus op Jesus en sy seer dat ek glad nie oplet wat om my aangaan nie. Vir die eerste keer kyk ek om my, en dis nie net Johannes en Salome nie; dis ook Maria Magdalena wat hier saam met my by Jesus bly, en Maria, Klopas se vrou. Maar niemand anders nie; net ons vyf.
Die ander dissipels skitter in hulle afwesigheid; seker te bang hulle kry ook moeilikheid. Hulle sal hier wees, want Andreas het dan saam met my stad toe gekom, en ek het van hulle by die paleis gesien. Hulle bly seker op ’n veilige afstand. En my eie kinders? Sou hulle ooit weet hulle broer hang hier aan ’n kruis? Maar ek het hulle tog gisteraand gewaarsku. Was dit net gisteraand? Dit voel soos ’n leeftyd gelede. Maar ek het tog uitdruklik vir hulle gesê wat gaan gebeur. Kon hulle nie dink dat hulle dalk vir Jesus kon kom ondersteun in sy sterwensure nie? Of dat hulle ou moeder hulle in hierdie uur so bitter nodig het nie?
Uit my boek “Maria”
Views: 57