’n Baie belangrike liturgiese element van die aanloop- of toetredefase in die erediens is die votum of aanvangswoord, want die erediens begin amptelik daarmee. Dis nou wanneer die liturg iets sê soos “Ons hulp is in die Naam van die Here …” of iets dergliks. Die votum het ’n baie lang tradisie in die geskiedenis van die Christelike erediens. Die Latynse woord “votum” beteken “begeerte”, “gebed” of “verlange”. Dis ’n roepe na God, ’n belydenis van die gemeente van hulle innige verbondenheid en diepe verlange na Hom. Die woorde van die votum word baie spesifiek gekies, want dis ’n plegtige moment waar die erediens geproklameer word as God se erediens. Hý is die Een wat die gemeente saamgeroep het, en Hy is nou teenwoordig; daarmee word die gemeente ook opgeroep om hulleself opnuut aan God te wy en voor Hom te buig.

Die votum konstitueer die erediens. Dis soos wanneer die voorsitter van ’n vergadering amptelik verklaar dat die vergadering wettig gekonstitueer is omdat ’n kworum teenwoordig is. Daarsonder het die vergadering geen status of besluitnemingsbevoegdheid nie. Sonder die votum is die erediens sommer net ’n godsdienstige byeenkoms.

Die votum kan verskillende vorme aanneem. Dit kan gesê word, gebid word, responsories saam met die gemeente uitgespreek word, of selfs gesing word. Die inhoud behoort egter altyd aanhalings of samevoegings van gedeeltes uit die Bybel te wees. Die liturg het dus vryheid in die keuse van wat in die votum gesê gaan word, maar word daarin tog sterk aan die Bybel gebind.

Ná die votum volg nóg ’n baie insiggewende moment: die seëngroet. Dit is ’n groet in die Naam van die Here waarmee Hy vir die gemeente verseker van sy guns en genadige gemeenskap. Hy is immers ons God en Vader, wat ons in Jesus Christus Syne gemaak het en ons deur sy Gees versamel voor Hom.

Die oorsprong van die seëngroet lê baie ver terug, in die Joodse gebruik om mekaar te groet met woorde soos “Mag die Here by julle wees” (soos ons byvoorbeeld in Rut 2:4 lees) of “Vrede vir julle” (“Sjalom”). Dit is ook hoe die Here Jesus sy dissipels gegroet het ná sy opstanding (Johannes 20:19). In aansluiting hierby het die skrywers van die verskillende Nuwe Testamentiese briewe hulle lesers so groet. ’n Tipiese seëngroet is: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (vgl. Romeine 1:7 of 1 Korintiërs 1:3). Meestal word dan ook bygevoeg: “deur die werking van die Heilige Gees.”

Die liturg se oë is oop wanneer die seëngroet aan die gemeente oorgedra word; dis immers nie ’n gebed nie, maar ’n groet. Hy of sy lig ook die hand op in ’n groetgebaar.

Die gemeente reageer of antwoord op God se groet deur Hom te prys. Die lied ná die seëngroet is daarom meestal ’n loflied of lofliedere. In die gereformeerde tradisie sal hier veral ’n psalm gesing word; die psalms is immers die liedboek van die Ou Testamentiese kerk, en ook die liedboek wat Jesus gehad het. Dit gee vir ons die woorde om God mee te loof. Wanneer die gemeente psalms sing, voeg hulle as ’t ware hulle stem by dié van ’n lang ry gelowiges voor hulle, en sing hulle dieselfde liedere as wat hulle Here tydens sy aardse lewe gesing het (vgl. Matteus 26:30, waar “die lofsang” verwys na Psalm 113 tot 118). Ander lofliedere kan natuurlik ook gebruik word om uitdrukking te gee aan die gemeente se lof en aanbidding.

Persoonlik is dit vir my baie jammer dat die psalms al minder in ons kerke opklink. Die boek Psalms is immers een van die Bybelboeke wat die heel meeste deur gelowiges gelees word. Hoekom sing ons dit dan so min?

image_pdfimage_print

Visits: 156

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
fb-share-icon20
Tweet20
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.